Nuwe aanlyn platforms betree plaaslike kommoditeitsmark

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 3 Junie 2021

1141

Met die doel om verhandeling vir plaaslike produsente meer winsgewend en makliker te maak, het twee nuwe aanlyn verhandelingsplatforms onlangs in Suid-Afrika die lig gesien. neXdeal (deel van neXgro) en TonnUp is twee agri­tegnologie-ondernemings wat daarop gemik is om die plaaslike kommoditeitsmark op te skerp deur produsente in staat te stel om hul landbouprodukte binne ’n gestruktureerde omgewing te bemark en te verkoop. SA Graan/Grain het meer gaan uitvind oor hul werksaamhede.

neXdeal
neXdeal is ’n komponent binne neXgro se plaas-na-meule-verhandelingsekosisteem en bied anonieme intydse verhandeling op ’n aanlyn platform deur geregistreerde verkopers en kopers. “Die stigters van neXdeal het hulle ten doel gestel om ’n volgendegene­rasieverhandeling-plaas-na-meule-ekosisteem te bou. Dit bied aan die produsent ’n eie, nasionale verhandelingsplatform met waarborge en deursigtigheid,” vertel Hennie de Lange van neXgro.

“neXdeal is oor ’n tydperk van vier jaar ontwikkel en sowat twee miljoen ton is suksesvol verhandel as ’n toets voordat die platform geloods is,” voeg hy by.

Die platform het ’n nasionale voetspoor wat oor 134 distrikte gegroepeer is, met spesialispersoneel in elke agrisentrum. Die mo­del is gegrond op produsentdeelname, deurlopende akkreditasie en waarborge asook intydse bodaanvaarding en transaksiebe­vestigings. “Die platform bied geverifieerde, naspeurbare produkte, plaasstoorfasiliteite, tradisionele opberging, vooruitkontraktering – geverifieer en gewaarborg deur persoonlike besoeke – asook vorderingsverslae wat satellietbeelde insluit,” aldus Hennie.

“Verskansingsplatforms met hoë margevereistes is ontoe­ganklik vir die normale produsent wat geen direkte toegang tot meulenaars en/of verwerkers het nie. Na 34 jaar, vandat ek die eerste keer plaaslaaigraantransaksies gedoen het, ondervind ek steeds dat produsente onbemagtig is as dit kom by die aankoop van insette en die bemarking van graan. Verskaffers, handelaars en kopers het meestal ’n groter finansiële vermoë en beter toegang tot tegnologie en markspesialiste wat hul bedingingsposisie teenoor die produsent bevoordeel.

“In die huidige verhandelingsomgewing koop meulenaars en verwerkers deur middelmanne wat wel margevereistes kan nakom, maar dit bring addisionele koste vir die produsent mee en veroorsaak afstand tussen hom en die verwerker.

“Die basis van ’n suksesvolle bedryfsverhandelingsplatform is die integriteit van gewaarborgde lewerings en betalings sowel as die integrasie van prysverskansing en basisverhandeling, wat nie noodwendig op dieselfde tydstip geskied nie,” sê Hennie.

Vir die maatskappy is die verhandelingsplatform meer as die debat rondom differensiale en die frustrasie van bestaande beperkings tot marktoegang en eensydige prysvorming. “neXdeal bemagtig produsente om volhoubaar winsgewend te boer as nalatenskap aan die volgende generasie.”

Hennie sluit af: “neXdeal is die somtotaal van my ervaring en is my bydrae aan die bedryf in die vorm van ’n gekonsolideerde en direkte verhandelingsplatform waarop insette, produkte, logistiek en alternatiewe opbergingspunte oor die volle waardeketting deur alle rolspelers verhandel kan word.”

TonnUp
Volgens TonnUp-direkteur, Stephen Krüger, wat self ’n mieliepro­dusent in die Viljoenskroon-omgewing is, sal die TonnUp-platform produsente toelaat om beter beheer uit te oefen oor die prysstra­tegie, bemarking en verspreiding van hul produkte teen ’n fraksie van die koste van bestaande meganismes.

“Dit sal kopers en verkopers byeenbring op ’n manier wat produsente in staat stel om maksimum waarde vir hul produkte te kry, kopers bemagtig om meer ingeligte koopbesluite te neem en die mark deursigtiger en doeltreffender maak,” voeg hy by.

“TonnUp is gebore uit die behoefte om ’n billike prys vir produ­sente se insette en risiko’s te verseker. Ons produsente is die beginpunt van die voedselwaardeketting, maar hulle het die minste vermoë om pryse vir hul produkte te beding. Hulle loop al die risiko’s en skep die waarde. Ons dink daar is ’n werklike geleentheid om die sluier oor die kommoditeitsmark te lig en produsente te help om die beste pryse vir hul produkte te kry,” sê Stephen.

Die TonnUp-platform sal produsente toelaat om met hul makelaars of silo-eienaars te konsulteer om hul produkte aan te bied teen ’n gewenste pryspunt. Kopers – soos meulenaars en verwerkers – sal op alle geregistreerde afleweringspunte op hierdie besendings kan bie – of daar reeds voorraad aangebied word al dan nie. ’n Verdere pluspunt vir die kopers is dat hulle ook kan bie vir ’n voorkeur­afleweringsplek vanwaar hulle die produk kan ontvang, indien hul bod suksesvol is.

“Die huidige mieliemark in Suid-Afrika is tussen 14 miljoen en 16 miljoen ton – en minder as 25% daarvan word in ’n formele mark verhandel. Dit laat 75% van die mielie-oes om moontlik op ’n formele­ platform verhandel te word, met volle prysdeursigtigheid en lokaliteit. Ons waardevoorstel is om kopers en verkopers by­mekaar te bring en ’n mark te skep waar almal ’n billike ooreenkoms kry. In ag genome die totale nasionale oes op alle kommoditeite, kom dit neer op etlike miljoene tonne wat sojabone, koring, sonneblomsaad, hawer en gars aan betref,” sê Stephen.

Een van die grootste haakplekke in huidige kontantmarkte is die vertraging van betalings. TonnUp beoog om dit te verwyder deur ’n “handel plus twee”-werksdagskikkingsiklus (T+2-siklus). Terwyl silo-eienaars steeds die kwaliteit en hoeveelheid van die fisiese voorraad op die opbergingsertifikate sal waarborg, vergemaklik TonnUp die kontantvloeiproses sodat verkopers hul betaling en kopers hul voorraad vinnig en doeltreffend ontvang.

Alhoewel TonnUp se aanvanklike fokus op graan is, word daar beplan om vinnig uit te brei na ander kommoditeite, soos sojabone, sorghum, oliekoek en selfs kunsmis.