Dekgewasbestuur se effek in wintergraanstelsels

1058
Rens Smit,
MSc-student: Departe-
ment Agronomie, Uni-
versiteit Stellenbosch en Direktoraat Plantweten-
skappe, Wes-Kaapse De-
partement van Landbou
Dr Johann Strauss,
senior wetenskaplike: Direktoraat Plantweten-
skappe, Wes-Kaapse Departement van
Landbou
Dr Pieter Swanepoel,
senior lektor: Departe-
ment Agronomie, Uni­versiteit Stellenbosch

Deel 3: Die effek op die daaropvolgende jaar se koringproduksie

In die eerste artikel van hierdie reeks is agtergrond gegee oor die voordele van dekgewasse, maar daar is ook verwys na die struikelblokke vir die aanvaarding daarvan – veral in die Swartland-produksiestreek. Daar is ook spesifiek verwys na die verskillende bestuursmetodes van dekgewasse, naamlik beweiding en die maak van hooi (wat moontlik geld sou kon inbring vir ’n produsent), teenoor waar die dekgewasse slegs getermineer en so gelos word.

Die tweede artikel het verskille tussen die bestuursmetodes uitgewys in terme van die voedingswaarde van die dekgewasse vir die veefaktor.

In hierdie laaste bydrae word daar gefokus op die effek van die verskillende bestuursmetodes op koringproduksie in die daaropvolgende jaar, veral ten opsigte van opbrengs en kwaliteit.

Die drie bestuursmetodes
Twee dekgewasmengsels – ’n oorwegend peulgewasmengsel en ’n oorwegend graangewasmengsel – is gebruik. Albei hierdie mengsels is op drie verskillende maniere benut, naamlik beweiding deur skape, gesny as hooi en die materiaal toe verwyder of gerol en al die materiaal gelos om die grond te bedek. Hergroei het plaasgevind op die beweide asook die hooipersele, dus was daar steeds genoeg materiaal om die grond te bedek op al die persele. Al die dekgewasse is getermineer voordat die onkruide of dekgewasse kon saad vorm.

Effek op koringproduksie
In 2017 is koring geplant op die persele waar die dekgewasse in 2016 aangeplant is, om te evalueer wat die effek van dekgewasse én die benutting daarvan op koringproduksie sal wees. Daar moet egter in ag geneem word dat 2017 ’n besonder droë jaar was in die Wes-Kaap. Weens die droogte was die opbrengs van koring baie laag en daar was nie ’n noemenswaardige verskil tussen die verskillende behandelings in terme van graanproduksie nie.

Dit is wel belangrik om te onthou dat hierdie proef gedoen is waar die grond oor die jare reeds opgebou is met behulp van goeie bewaringslandboupraktyke. Indien die grond in ’n swakker toestand was of indien die reënval hoër was, kon die resultate heel moontlik anders gelyk het.

Daar was egter ’n duidelike verhoging in die kwaliteit van die koring (Grafiek 1) na die oorwegend peulgewasmengsel. Die proteïenvlakke in koring wat ná die peulmengsel volg, is hoër ongeag die benutting. Dit maak egter sin dat die proteïene verhoog as gevolg van die stikstof wat deur die peulplante gebind word. Die feit dat daar nie ’n verskil is tussen die verskillende benuttingsmetodes van die peulmengsel nie, is minder voor die hand liggend. Die maak van hooi en die beweiding van die dekgewasse deur skape het geen negatiewe effek op koringproduksie en die kwaliteit daarvan nie. Hierdie inligting wys dat dekgewasse benut kan word én ’n positiewe effek op die daaropvolgende koringproduksie kan hê. Die droë seisoen het egter ook ’n rol gespeel by die kwaliteit van die koring. Die proteïenvlakke was hoër as normaalweg, wat dit moeilik maak om die klein verskille tussen die behandelings te sien.

Die gronddata dui egter daarop dat die beweiding van dekgewasse ’n positiewe effek op koringproduksie kan hê aangesien dit tot verhoogde stikstofvlakke in die grond lei. Hierdie was die merkwaardigste verskil in die gronddata. In die jare wat volg op hierdie proef, stem die koringkwaliteit ook ooreen met hierdie gronddata. Die proteïenvlakke van koring is hoër waar die dekgewasse bewei is, teenoor waar die hooi gesny is of die dekgewasse net as deklaag gelos is.

Samevatting
Benutting van dekgewasse lei tot minder materiaal wat die grond bedek, maar ná beweiding verhoog die konsentrasie van minerale in die materiaal. Hierdie materiaal wat as grondbedekking dien, kan ook gesien word as bemesting aangesien dit groot volumes voedingstowwe bevat.

Hoëkwaliteitweiding kan geproduseer word, maar die voedingswaarde van dekgewasse neem af deur die loop van die seisoen. Deur die persentasie peulplante in die mengsel te vermeerder, kan die proteïenvlakke van die mengsel verhoog word. Die peulplante kan ook stikstof bind, maar produseer minder materiaal as grane en kompeteer swakker met onkruide.

Hierdie mengsels skep ’n alternatiewe oplossing vir sommige beperkings in landbou. In hierdie proef is daar byvoorbeeld hoë­kwaliteitweiding geproduseer, stikstof gebind en onkruide bestry – alles met een mengsel wat boonop koringkwaliteit verbeter het.

Die volgende twee punte moet in ag geneem word:

  1. Stel ’n spesifieke mengsel saam wat die probleme op die plaas en in ’n spesifieke kamp aanpak.
  2. Bestuur die dekgewasse oordeelkundig om so­doende aandag aan alle probleme te gee.