Korrekte bemesting optimeer graanproduksie

1777
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Bemesting is een van die grootste uitgawes wat ’n graanprodusent jaarliks moet aangaan, maar dit is ook ’n inset wat gevarieer kan word om kostes te bespaar. Saad moet geplant word en onkruiddoder moet teen ’n sekere peil toegedien word – anders werk dit eenvoudig nie meer nie. Diesel is ’n funksie van bewerking, maar dit kan ook nie werklik aangepas word nie. Dít is dalk die rede waarom produsente soms besluit om die bemesting te verminder.

Reën is die oorheersende faktor wat produksie bepaal, maar die grond en chemiese status daarvan speel ’n belangrike rol. Dis veral die gronddiepte en kleipersentasie wat belangrik is om die produksiepotensiaal van die plaas, die land of die kol te bepaal.

Dit is algemeen bekend dat grondsoorte in lande en oor plase soms heelwat verskil. Oordragvog hou hiermee verband en dit kan tot die verskil in opbrengsmikpunte vir die grondsoorte lei. Is die optimale bestuur van grond werklik so belangrik of is dit net nog ’n manier om produsente te noop om meer insette aan te koop?

Die Fertilizer Association of Southern Africa (Fertasa), die Landbounavorsingsraad (LNR) en talle ander organisasies publiseer jaarliks bemestingsriglyne. Of hierdie riglyne korrek is en watter metode gebruik word om die bemestingshoeveelhede te bepaal, is nie nou ter sprake nie. In hierdie artikel word die aanname gemaak dat dié bemestingsriglyne korrek is.

Brutomarge-ontleding
Omdat graanopbrengste en winste nie net deur een aspek bepaal word nie, is dit belangrik dat die hele stelsel gesimuleer word om die veranderings te kan bepaal. Met ’n aanpassing in bemesting wat lei tot oor- of onderbemesting sal die winsgewendheid benadeel word. Die vraag is met hoeveel? Om die verskil in winste te bereken, is van begrotings gebruik gemaak. In Tabel 1 word die begrote inkomste, begrote uitgawes en bruto marges vir verskillende opbrengspotensiale vir die Noordwes-Vrystaat weergegee.

In Tabel 1 word aangetoon dat ’n verhoging in beplanningsopbrengste die brutoproduksiewaardes, direk toedeelbare veranderlike koste en bruto marges verhoog. Met die begrotings is dit moontlik om die koste- en winseffekte van verskillende produksiepotensiale te meet.

Marginaliteitskonsep
Die konsep “marginaliteit” of “marginalisme” staan sentraal tot die oplossing van die probleem. Die marginaliteitsbeginsel verduidelik die effek van verandering, met ander woorde hoeveel ekstra koste benodig word om die produksie met een eenheid te verhoog.

In Tabel 2 word die effek van ’n verandering in opbrengsmikpunte op die inkomste, bemestingskoste, direk toedeelbare koste en winste vir die Noordwes-Vrystaat se begrotings getoon.

Soos verwag word, styg die inkomste, koste en wins met ’n toename in produksie. Die marginale bemestingkoste styg nie noodwendig in dieselfde verhouding as die marginale produksie nie. Dit is belangrik om daarop te let dat die toename in die inkomste groter bly as die toename in koste. Dit sal sin maak om die produksie uit te brei totdat die marginale wins gelyk is aan nul.

Uit Tabel 2 kan die volgende afleiding gemaak word: Indien die potensiaal van die grond 4,5 t/ha is en die grond word bestuur asof vir 4 t/ha (met ander woorde daar word onderbemes), sal R800,68/ha prysgegee word. Sodra lande oorbemes word, staan produsente die marginale koste af. Indien die potensiaal van die grond byvoorbeeld 4 t/ha is en die grond word bestuur asof vir 4,5 t/ha, sal daar R449,32/ha verloor word.

Die effek van bemesting oor tyd en veral na ’n droogte
Die 1991/1992-seisoen was uiters droog. Die gevolg was ’n katastrofiese jaar vir die landbou met druk op die finansiering van insette. Die effek van die 2018/2019-jaar gaan in die westelike gebiede soortgelyk vir produsente wees. Deurdagte besluite moet gemaak word oor spandering en daar sal van nuuts af oor alle insette besin moet word. Sodra geld ’n beperking word, is die rendement wat op die fondse verdien word van uiterste belang. Beperkte fondse moet die meeste geld moontlik vir die besigheid inbring.

In ’n droogtejaar is die probleemdele duidelik sigbaar. Dit kan enigiets van gronddiepte, pH-probleme tot wortelsiektes wees. Hier sal ’n profielgat en die plant se wortels die probleem uitwys.

Potensiaalmikpunte
Die hulpbron, wat insluit grondtipe, kleipersentasie en gronddiepte, die voedingstatus van die grond en die langtermynreënval van die plaas, bepaal die produksiepotensiaal van die spesifieke land of deel van die land. Hierdie hulpbron moet vir optimale produksie deur die produsent bestuur word deur goeie boerderypraktyke toe te pas. Laasgenoemde sluit bewerking, bemesting, onkruid- en plaagbeheer asook wisselbou in. As daar ’n afwyking van die langtermynopbrengste teenoor die produksiepotensiaal is, moet die oorsaak gesoek en reggestel word.

Maak seker dat die potensiaalmikpunte met die grootste omsigtigheid vir elke land bepaal word. Gebruik hierdie mikpunte om die bemestingsaanbeveling en -beplanning te doen.

Langtermynbemestingswerk wat vanaf 1979/1980 tot 1995/1996 op Wildebeesfontein (’n proefplaas van die ou OTK naby Bethal in Mpumalanga) gedoen is, se resultate word in Tabel 3 aangedui. In hierdie proef is gedeeltes wat oor en onder potensiaal bemes is, getoets. Die effek van noodbemestings is ook bestudeer.

Uit hierdie inligting in Tabel 3 blyk dit dat die hoogste bemesting nie noodwendig die hoogste opbrengste oor tyd lewer nie. In ’n spesifieke jaar mag dit wel die geval wees, maar in ’n jaar wat nie gunstig is nie kan die opbrengste benadeel word. Bemesting volgens die potensiaal gee oor tyd die beste opbrengste en winste. As die koste ook in berekening gebring word, sal die 20% laer bemesting se rendement die hoogste wees.

pH
’n Aanvaarbare pH-vlak in die grond is die basis waarop produksie en die reaksie van ’n land op bemesting, berus. ’n Absolute minimum vereiste vir mielieverbouing is ’n pH(KCl) van 4,6, terwyl die norm van 5,0 en hoër ideaal is. Bekalking van lande sal elemente soos fosfaat en kalium wat in die grond vasgelê is vir opname beskikbaar maak. Op dié manier kan daar moontlik ’n besparing wees. Raadpleeg ’n landboukundige oor waar moontlik besnoei kan word sonder om opbrengs in te boet.

Voedingstatus van die grond
Die voedingstatus van die grond, veral die P- en K-inhoud, is van kardinale belang vir die bepaling van bemestingshoeveelhede wat toegedien moet word. Waar die voedingstatus van die gronde opgebou is tot aanvaarbare vlakke, of selfs bo aanvaarbare vlakke, kan dit met oorleg sinvol gebruik word om ’n jaar of twee te oorbrug soos die navorsingswerk in Tabel 3 getoon het.

Tabel 3 dui aan dat daar oor ’n tydperk van 16 jaar nie werklike groot verskille in opbrengs by die verskillende bemestingsbehandelings was nie, alhoewel die teendeel verwag is. Die “slegs N-bemesting”, wat die noodbemesting verteenwoordig, het geneig tot laer opbrengste in die laaste paar seisoene. Dit het egter tot ’n mate opbrengs gehandhaaf – soos die langtermyngemiddelde aantoon. Let egter daarop dat die bemestingsvlak van die proef goed was en dat alle elemente reggestel is voordat daarmee begin is.

Uit die proef is dit duidelik dat, veral waar P en K voldoende is, daar wel met sukses teruggesny kan word vir ’n jaar of selfs twee. Die afskaling van N kan wel gedoen word, maar dan moet ’n N-analise van die gronde voor plant gedoen word en met die landboukundige bespreek word. In sandgronde sal versigtigheid aan die dag gelê word om nie te ver terug te sny nie. Die logingsprofiel van grondtipes sal hier ’n groot rol speel.

Verandering is goed, maar as dit nie die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid verbeter nie, is dit alles verniet.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991. (Met dank aan Sakkie Koster wat die basiese inligting uit die argief gehaal het.)