Die wonder en euwels van plastiek

Dr Gerhard Verdoorn, bedryfs- en rentmeesterskapsbestuurder, CropLife SA
Gepubliseer: 4 November 2021

111

Wie sal ooit die eerste plastieksak vergeet nadat ons gewoond was aan koerantpapier en bruinpapiersakke vir kruideniersware? Dit het die wêreld soos ’n storm getref, maar die skade is eers veertig jaar later ontdek toe die mens se algemene omge­wingsbewustheid deur aktiviste aangewakker is.

Strande vol kleurvolle plastieksakke, seevoëls waarvan die ingewande met plastiekstukkies verstop is, plastieksakke in seeskilpaaie en selfs plastiekrommel wat orals oor die land rondwaai, is maar net van die nagevolge van die wanbestuur van een van die mens se maaksels. Tog is die wêreld waarin ons leef ondenkbaar sonder plastiek: Ons gebruik dit vir koeldrankbottels, medisyne, kosmetiese middels, stoorgeriewe vir vars en verwerkte kos en natuurlik ook as verpakking vir plaagdoders en saad. Dit is handig, sterk, lig en relatief goedkoop, maar dit kan die aarde erg besoedel as dit nie korrek bestuur word nie.

Moet ons dan as gevolg daarvan wegdoen met plastiekplaag­doderhouers en -saadsakke en weer van die ou staaldromme en dik papiersakke gebruik maak? Nee, dit is onnodig, want feitlik alle plastiek wat vir plaagdoderverpakking en saadsakke gebruik word, is herwinbaar en kan soveel as sewe keer weer in die vervaardi­ging van ander kommoditeite gebruik word. Ons moet net die landbousektor se aandag trek en almal oortuig om plase skoon te maak van alle oorskotplastiek, insluitend besproeiingspype, skadunette, plaagdoderverpakkings, saadsakke, kratte en ander plastiekware.

Gevare en risiko’s van leë plaagdoderverpakkings
Alle plaagdoderetikette het gevaarsimbole in die kleurbande wat aandui hoe giftig en gevaarlik die plaagdoder vir mense is. Dit is egter nie van toepassing op plaagdoderverpakkings wat op ’n standaardwyse gereinig is nie. ’n Standaardmetode beteken ’n wyse wat reeds op die proef gestel is om te bewys dat die verpak­kings nominaal skoon is, met ander woorde dat daar baie min of geen skadelose plaagdoderresidue in die verpakkings oor is nadat dit gereinig is nie.

CropLife SA se standaardpraktyk van drie maal spoel is alreeds uiters goed gevestig en is bewys as die metode om enige plaag­doderverpakking 99,997% skoon te maak. Die SABS se nasionale standaard SANS 10402 bevestig dat sulke gereinigde verpakkings nominaal skoon is en nie as gevaarhoudende stowwe geklassifiseer word nie. Dit is dus moontlik vir insamelaars en verwerkers van plastiek om drie maal gespoelde verpakkings te vervoer en te verwerk sonder om aan die vereistes van die Nasionale Padverkeerswet, 1996 (Wet Nr. 93 van 1996) te voldoen. Verwerkers moet egter by hul provinsiale owerhede vir afvalbestuurslisensiëring aanklop en sodoende aan die afvalbestuurswetgewing voldoen.

Die gevare van leë plaagdoderverpakking wat nie drie maal gespoel is nie, is legio. Dit hou ’n ernstige risiko in vir mense wat sulke houers as bergingshouers vir drinkwater of eetgoed gebruik. Daar is al verskeie gevalle aangeteken waar hele families gesterf het nadat hul kookolie of drinkwater met plaagdoders in sulke ongespoelde houers besoedel is. Ongespoelde leë houers kan ook die fisiese omgewing soos grond en water met plaagdoderkonsentraat besoedel. Een van die grootste euwels is wanneer sulke houers op plase verbrand word, want dit stel giftige gasse en soms selfs dioksiene vry, wat kankerwekkende stowwe is.

’n Drie maal gespoelde houer se risiko vir die mens en omge­wing is dus uiters skraal, terwyl dié van ’n ongespoelde houer baie hoog is. Die hoëdigtheidpoliëtileen (HDPE) waarvan die meeste plaagdoderhouers gemaak word, is goud werd vir verwerkers en behoort dus in die siklus van plastiekverwerking teruggeplaas te word.

Leë saadsakke van behandelde saad is ook riskant vir mens en dier omdat dit soms plaagdoderresidue bevat, maar merendeels omdat die polipropileenplastiek maklik verkrummel en mikroplastiek word. Saadsakke kan gewoon omgedop word en vir dertig sekondes met water skoongespuit word. Sulke sakke is nominaal skoon (ek het self die proewe gedoen!) en is gesog by herwinners en verwerkers.

Dienste wat CropLife SA-gesertifiseerde verwerkers verskaf
Daar is alreeds 120 CropLife SA-gesertifiseerde verwerkers wat by die netwerk ingeskakel is en aan die insameling en verwerking van plastiekhouers en saadsakke deelneem. Sommige het hul eie persele waar produsente drie maal gespoelde verpakkings kan gaan aflaai, terwyl ander die verpakkings op plase gaan afhaal. Elke keer wanneer ’n produsent die skoon verpakking aan ’n CropLife SA-gesertifiseerde verwerker oorhandig, moet die verwerker die CoDi Intel-verklaring voltooi en aan die produsent uitreik. Verskeie van die verwerkers sal ook ander plastiekmateriaal in ontvangs neem, soos byvoorbeeld besproeiingspype.

Plakkate met riglyne vir die hantering van leë plaagdoderhouers is op CropLife SA se webblad beskikbaar.

Haakplekke met herwinning van plaagdoderverpakking
Alhoewel daar reeds 120 CropLife SA-gesertifiseerde verwerkers in Suid-Afrika is, is daar steeds areas waar produsente sukkel om van leë verpakkings ontslae te raak. CropLife SA streef daarna om sulke areas ook met versamelpunte te bedien en behoort teen die einde van die jaar nog tien ekstra versamelpunte ge­reed te hê.

Daar is egter ’n verantwoordelikheid by produsente om die verpakkings te reinig en aan versamelaars en verwerkers beskikbaar te stel. Soms kry ons pynigende beeldmateriaal waar berge plas­tiekhouers verbrand word; al wat dit beteken is dat so ’n produsent iemand anders die geleentheid om besigheid te doen, ontsê. Gelukkig is daar ligpunte, soos die nuwe regulasies vir die herwinning vanplaagdoderverpakking wat teen Maart 2022 in werking tree. Die mandaat wat CropLife SA dan volgens wetgewing sal hê, sal genoegsaam wees om sulke wandade te verhoed. Dit behoort elke produsent se missie te wees om sy plaas vry van plaagdoderver­pakking te hou.

Saadsakke is nog ’n knelpunt, want die persentasie herwinning is bitter min. Ons wil produsente aanmoedig om te begin met die proses om saadsakke skoon te spoel, te baal en dan aan versamelaars en verwerkers te oorhandig. Dit reinig nie alleen die plaas nie, maar verskaf inkomste aan iemand en sorg vir ’n veiliger omgewing vir die wilde diere en voëls van die veld.

Sukses met ’n toekomsvisie
In die moeilike jaar van 2020 is meer as 76% van alle HDPE- plaag­doderhouers ingesamel. Sommige mense reken dit is ’n besonder goeie poging, maar CropLife SA wil graag teen die einde van 2022 die 90%-kerf bereik. Daarmee saam wil ons saadsakke ernstig takel en insamel, terwyl sekondêre verpakkings soos kartondose ook alles ingesamel moet word. Die sukses van 2020 is te danke aan die voorbeeldige werk van al 120 CropLife SA-gesertifiseerde verwerkers asook produsente. As ons egter die doel van 90%-herwinning oor net meer as ’n jaar wil bereik, sal ons almal moet hande vat en die herwinning van plaagdoderverpakking as ’n saak van erns bejeën.

Sodra die nuwe regulasies in 2022 in werking tree, sal CropLife SA met ’n verbete poging die herwinning van alle verpakking takel sodat Suid-Afrika kan meeding met Brasilië en Australië wat ons nog effens voor is. Die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye het CropLife SA die mandaat gegee om ’n deel van die regulasies te skryf en ons wil graag die teikens wat ons daarin gestel het, so vinnig as moontlik bereik. Dit is slegs moontlik as alle produ­sente saamwerk.

Ons doen ’n beroep op alle produsente om te help om die land se plase skoon te maak – dit is die regte ding om te doen! Lees meer oor die riglyne en die lys van 120 CropLife SA-gesertifiseerde verwerkers by https://croplife.co.za/container-management/. Enige navrae kan gestuur word na gerhard@croplife.co.za of 082 446 8946.

Wie gaan die werk doen?
Uit die perspektief van die produsent behoort die spuitoperateur op die plaas een van die mees gesogte werknemers te wees, juis omdat hy die gewas met sy werk beskerm. Dit is vir CropLife SA uiters bemoedigend om te sien met welke entoesiasme plaaswer­kers, insluitend spuitoperateurs, die opleiding oor die verantwoordelike aanwending van plaagdoders hanteer.

Lei die spuitoperateurs vinnig op om die leë verpakkings drie maal te spoel en veilig te berg sodat dit in die verwerkingsnetwerk opgeneem kan word. Ons ervaring is dat sulke spuitoperateurs hulle taak met sorg verrig en baie trots daarop is. Daarsonder sit produ­sente met die hande in die hare en gevaarlike afval wat die omge­wing besoedel. Met goed ingeligte en opgeleide spuitoperateurs kan die produsent se gemoed kalmer wees en die plaas skoon. Die verwerkers sal met graagte sulke houers oorneem, dus is die proses nie meer ’n las vir die produsent nie.

Daar is ook duisende nuwe opkomende boere wat leë houers het en CropLife SA is besig met planne om ook vir hulle versamelpunte vir hul houers te skep. Sulke versamelpunte sal heel waarskynlik deur jong entrepreneurs in hul areas geskep en bedryf word, tot voordeel van die boere wat die land van voedsel help voorsien.

Opwindende ontwikkelings
Die moontlikheid is groot dat vervaardigers van plaagdoderhouers van die verwerkte plastiek sal gebruik om nuwe houers plaaslik te vervaardig. Die eerste proewe is reeds gedoen en dit lyk werklik belowend. Teen die middel van 2022 sal ons sekerlik al ’n hele paar duisend sulke nuwe houers met verwerkte plastiek in die mark sien. Wees op die uitkyk, want hier kom ’n ding!