Primêre grondbewerking vir optimale gewasprestasie

Gepubliseer: 31 Julie 2023

675
Martiens du Plessis, landboukundige konsultant, Soil &
Crop Consult

Die doelwitte van primêre grondbewerking is eerstens om ’n gunstige saadbed te vorm sodat die sade vinnig kiem en saailinge ’n uitgebreide wortelstelsel vestig en tweedens om die grond se struktuur gunstig te maak vir optimale wortelontwikkeling deur die hele grondprofiel.

Hoe beter die plante se wortels deur die profiel versprei, hoe meer doeltreffend kan hulle die grondprofiel benut vir plantvoe­dingstowwe en water. ’n Goed ontwikkelde wortelstelsel sorg vir ’n goed ontwikkelde plant wat optimaal kan produseer en ongunstige klimaatsomstandighede die beste oorleef.

Met die El Niño-spook wat wink, is ’n optimaal ontwikkelde wortelstelsel vir graangewasse nou nóg belangriker. In hierdie artikel gaan ’n paar aspekte waarop produsente moet let wanneer hulle die primêre grondbewerkingsaksies uitvoer, bespreek word.

Wat wil die plant hê?
Graangewasse se wortelverlengingstempo is onder optimale toestande sowat 25 mm tot 27 mm per dag. Dit bring mee dat mieliewortels se effektiewe worteldiepte 2,0 m diep is en dié van sonneblomme 1,8 m. Hiervoor moet die grond se fisiese weerstand teen vervor­ming nie meer as 2 000 kPa penetrasieweerstand wees nie, maar verkieslik <1 200 kPa. Voorts benodig die plant voldoende plantvoedingstowwe en water om optimale groei te onderhou. Hiervoor moet die plant die hele grondprofiel kan eksploiteer.

Faktore wat wortelgroei belemmer
Daar is legio faktore wat wortelgroei belemmer. Dit word breedweg verdeel in biotiese faktore (faktore wat aan lewende organismes soos swamme, bakterieë en nematodes toegeskryf kan word) en abiotiese faktore (byvoorbeeld beskikbare grondvog, weerstand van die grond teen vervorming, grondsuurheid en beskikbaarheid­ van plantvoedingstowwe). In hierdie artikel gaan daar verder op die weerstand teen vervorming, met spesifieke verwysing na grondkompaksie en die effektiewe opbreek daarvan, gefokus word.

Weerstand teen vervorming
Wanneer eksterne druk op grond toegepas word, soos wanneer ’n landbouwerktuig oor die grond ry, druk dit die grond fisies inmekaar. Die effek hiervan is dat die grond se weerstand teen vervorming, soos van toepassing wanneer ’n plantwortel deur die grond groei, verhoog. Dit veroorsaak dat die wortelverlengingstempo verlaag en wortelgroeityd verlore gaan. Wanneer die weerstand teen vervorming tot meer as 2 000 kPa penetrasieweerstand verhoog, staak wortelgroei.

Met ’n moontlike El Niño op hande, is die ideaal dat alle verdigte sones in die grond opgebreek word sodat gewaswortels die hele profiel kan eksploiteer.

Bepaal wat gedoen moet word
Wanneer primêre grondbewerking vir die nuwe seisoen beplan word, moet daar eers vasgestel word of daar wortelbeperkende verdigte sones in die grond is. Stel meetbare doelwitte wat bereik moet word ten einde optimale wortelontwikkeling te stimuleer en evalueer dit wanneer die grondbewerkings­aksie uitgevoer word.

Bepaal die grond se weerstand teen vervorming
Die grond se weerstand teen vervorming word by wyse van ’n pene­trometer bepaal. Hierdie instrument druk ’n pen in die grond en meet die penetrasieweerstand, wat ’n aanduider is van die grond se weerstand teen vervorming (Foto 1). Hierdeur word die teenwoordigheid van verdigte sones in die grond, sowel as die diepte tot waar dit voorkom, geïdentifiseer. Indien daar wel verdigte sones in die grond is, moet daar op die bewerkingsaksie besluit word wat die probleem so goed moontlik sal aanpak.

Die teenwoordigheid al dan nie, asook die diepte van grondverdigtings word met ’n penetrometer gemeet.

Besluit op die aangewese bewerkingsmetode
Die diepte tot waar die verdigte sone voorkom, bepaal die vereiste bewerkingsdiepte. Hoe dieper dit voorkom, hoe meer trekkrag en energie word vereis om dit effektief op te hef. Verdigte sones binne 300 mm kan redelik maklik by wyse van ’n skaar- of skottelploeg, skeurploeg of bei­telploeg opgehef word. Verdigte sones wat dieper as 300 mm voorkom, moet met ’n skeurploeg bewerk word. Daar moet op die doeltreffendheid van skeurploeë gelet word. Besluit of daar algeheel bewerk gaan word ten einde die verdigte sones in totaliteit op te breek en of daar in ’n rip-op-ry-stelsel gewerk gaan word waar daar net onder die voorgenome plantry bewerk word.

Voordele van ’n algehele bewerking is dat daar nou enige plek geplant kan word (met dien verstande dat alle verdigte sones opgebreek is) en dat die gewaswortels teoreties die hele grondprofiel beskikbaar het om te eksploiteer. Die nadele is dat dit hoë trekkrag en baie energie vereis om uit te voer.

Voordele van ’n rip-op-ry-stelsel is dat daar relatief diep met relatief min trekkrag en energie bewerk kan word. Die grootste nadele is dat die grond net in die ripsone los is, wortelontwikkeling tot die ripsone beperk is en dat die ripsone maklik misgeplant word.

Evalueer die doeltreffendheid van die bewerking
Die doeltreffendheid van die bewerkingsaksies moet aan die gestelde doelwitte gemeet word. Dit is veral tandwerktuie wat ondergronds dikwels nie so doeltreffend is as wat dit bo-op die grond lyk nie. Die opbreekhoek van tandbewerkings is selde wyer as 70° horisontaal gemeet of 20° vanaf die skaar se punt horisontaal na buite gemeet, maar gewoonlik tussen 75° en 85° horisontaal gemeet of tussen 10° en 15° vanaf die skaar se punt horisontaal na buite gemeet. Dit beteken dat die tandspasiëring eerder nouer moet wees om ’n redelike doeltreffendheid te hê. Uit ondervinding blyk dit dat die tandspasiëring ongeveer 70% van die bewerkingsdiepte moet wees, maar met ’n maksimum van 450 mm.

Wanneer die implement met hamerkopskare toegerus is, kan die volgende formule gebruik word om die wydte van die hamerkopskare te bepaal:

Wydte van hamerkopskaar (mm) = tandspasiëring (mm) – 150 mm

Dit is belangrik dat die doeltreffendheid van tandimplemente geëvalueer word by wyse van ’n ondersoek in ’n profielgat. Die los grond word uitgegrawe om die nielosgemaakte grond uit te wys.

Beitelploeë
Veral ou beitelploeë met krulvere se doeltreffendheid word dikwels oorskat omdat die oorblyfsels tussen die tande dikwels tot by die grond­oppervlak strek en daar effektief net voortjies in die grond getrek word (Foto 2). Om die doeltreffendheid te verhoog, moet die tandspasiëring ook 70% van die bewerkingsdiepte wees, met die gevolg dat tandspasiëring vir ’n 300 mm-bewerkingsdiepte 210 mm moet wees. Hierdie tandspasiëring vereis dan ’n implement­raam met minstens drie en verkieslik vier balke waaraan die tande gemonteer word. Uit ondervinding lewer beitelploeë met sterker plat vere soos Rovic se DLB 12 en die Vibroflex-beitelploeë, goeie resultate (Foto 3).

Ouer beitelploeë met krulvere is dikwels uiters ondoeltreffend omdat die vere meegee en nie die tande in die grond kan hou nie. Die effek is dat die implement net voortjies in die grond trek.
Die Vibroflex-beitelploeg het tydens ’n studie goeie resultate gelewer.

Skeurploeë
Algehele bewerking
Wanneer daar met konvensionele 65 mm-beitelskare gerip word, is die reël dat daar 100 mm dieper as die onderkant van die verdigte sone (soos met ’n penetrometer bepaal) gewerk moet word. As die onderkant van die verdigte sone dus op 600 mm is, moet daar 700 mm diep gewerk word en die tandspasiëring moet 450 mm wees. Tydens ’n studie oor die doeltreffendheid van skeurploeë, is daar bevind dat ’n skeurploeg met 500 mm-tandspasiëring en met konvensionele 65 mm-beitelskare, sowat 100 kN/m2 (soos in ’n profielgat gemeet) benodig het.

Indien daar met hamerkopskare gewerk word, word daar op die onderkant van die verdigte sone gewerk, met die wydte van die hamerkopskare soos hierbo aangedui. Indien die trekker te swaar trek met ’n vol pak hamerkopskare, kan die tande op die voorste balk met konvensionele 65 mm-beitel­skare toegerus word en die agterste tande met hamerkopskare. Tydens die bogenoemde studie het dieselfde implement, maar met 330 mm-hamerkopskare, sowat 50 kN/m2 benodig. Dit beteken dat die hamerkopskare dubbeld die hoeveelheid grond losgemaak het as die konvensionele 65 mm-beitelskare, met dieselfde trekkrag en energie.

Die kritiek teen ’n paraploeg is dat dit ’n tonnel op bewerkingsdiepte laat, waarin plantwortels opkrul en sukkel om uit te groei. Die pluspunt is dat dit bykans die hele profiel opbreek.

Rip-op-ry-spoorverkeer
Die optimale opgebreekte sone vir rygewasse is sowat 800 mm tot 1 000 mm wyd. Hiervoor word daar drie tande per ry met konvensionele 65 mm-beitelskare wat 350 mm tot 400 mm gespasieer is, benodig. In ’n 0,9 m-rywydtestelsel beteken dit algehele opbreek. As tweede keuse kan daar met twee tande per ry, wat 350 mm tot 400 mm gespasieer is, gewerk word. ’n Enkel tand met ’n konvensionele 65 mm-skaar word nie aanbeveel nie.

Wanneer daar met hamerkopskare gewerk word, is die eerste keuse steeds drie tande per ry, maar twee tande per ry is ’n goeie tweede keuse. Wanneer daar met net een tand per ry gewerk word, moet die hamerkopskaar minstens 330 mm wyd wees, maar 450 mm is beter.

In die geval van tandemrippers word daar ’n konvensionele 65 mm-beitelskaar of ’n smal hamerkopskaar op die diepste tand gesit, met ’n breër hamerkopskaar op die vlakker tand. Die kritiek teen hierdie bewerkingsaksie is dat daar relatief min grond losgemaak word en dat laterale wortelontwikkeling suboptimaal is. ’n Breë hamerkopskaar (meer as 330 mm) word ook op die dieper tand aanbeveel.

Die paraploeg het ook ’n rip-op-ry-konfigurasie beskikbaar. Die voordeel hiervan is dat dit ’n redelike volume grond losmaak en ook betreklik wyd. Die nadeel is die tonnels wat op bewerkingsdiepte gelaat word. Die klappies agter aan die tand stel die aggressiwiteit van die bewerking. In die studie het dit egter niks meer grond opgebreek nie, maar net meer energie verbruik.

’n Drietand-skeurploeg met konvensionele 65 mm-beitelskare en 500 mm-tandspasiëring het in werklikheid net vore in die grond getrek teen ’n doeltreffendheid van sowat 100 kN/m2. Let op die feitlik vertikale opbreekhoek.
Die effek van ’n enkeltand-rip-op-ry-skeurploegbewerking met konvensionele 65 mm-skare in ’n 1,5 m-konfigurasie. Let op die feitlik vertikale opbreekhoek en die klein volume grond wat losgemaak is. Plantwortels is geneig om net in hierdie losgemaakte sone te groei. Voorts word hierdie klein losgemaakte sone maklik mis geplant.
’n Drietand-skeurploeg met 330 mm-hamerkopskare en 500 mm-tandspasiëring het die hele profiel opgebreek teen ’n doeltreffendheid van sowat 50 kN/m2. Let op die feitlik vertikale opbreekhoek weerskante van die bewerkte sone.
Die paraploeg het tonnels op bewerkingsdiepte gelaat. Plantwortels neig om in hierdie tonnels op te krul en groei moeilik daaruit.

Kry die hoek reg
Die invalshoek van hamerkopskare het ’n groot invloed op die vereiste trekkrag en die brandstofverbruik. Na vele ondersoeke is bevind dat die hamerkopskaar se invalshoek van 19° tot 22° met die horisontaal minder trekkrag en brandstof vereis as die konvensionele hoek van sowat 35° van skeurploeë. Hierdie invalshoek kan gewysig word wanneer die hamerkopskaar op die implement se beitelskaar vasge­sweis word.

Samevatting
Die belangrikheid van ’n effektiewe primêre bewerking is alombekend. Aan die ander kant word die doeltreffendheid van tandwerktuie oorskat. Die regte beginpunt is om die teenwoordigheid al dan nie van verdigte sones in die grond met ’n penetrometer te identifiseer, sowel as die vereiste bewerkingsdiepte. Indien wel diep gewerk moet word, optimaliseer die implement se tandspasiëring teenoor die bewer­kingsdiepte. Evalueer laastens die doeltreffendheid van die bewerking teenoor die gestelde doelwitte.

Vir verdere navrae kontak die outeur by martiens@soilcrop.co.za.

Bronne

  1. Bennie, ATP, Strydom, MG, & Vrey, HS. 1998. Gebruik van rekenaarmodelle vir landboukundige waterbestuur op ekotoopvlak. Verslag van die Waternavorsingskommissie. Departement Grondkunde, Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Bloemfontein. WNK Verslagnr: TT 102/98.
  2. Van Biljon, J & Mavundza, T. 2010. Drawbar Power Implement Test Report. ARC-Institute for Agricultural Engineering. Private Bag X519, Silverton, Pretoria.