Sandgrondproewe lewer bruikbare resultate

63
Dr Danie Beukes,
onafhanklike
grondkundige

Vanjaar is die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) se jaarlikse boeredag op 1 Mei by die Humansvlakte Laerskool in die Bothaville-distrik gehou. Daar was ook ’n besoek aan proewe op die plaas Doornbult van mnr Thabo van Zyl.

Die doel was om veldproewe en resultate van die SOK-projek oor bewaringslandbou bekend te stel asook om inligting deur te gee oor ondergrondsuurheid en verwante proefwerk deur ander instansies. Die dag is bygewoon deur ongeveer 140 produsente, verteenwoordigers van verskeie maatskappye asook die media.

Veldbesoek
Die boeredag het afgeskop met ’n veldbesoek aan proewe oor plantestand en skeurploegbewerking – iets wat lewendige belangstelling uitgelok het.

’n Kompetisie (geborg deur Dekalb/Bayer) is gehou waar skattings gemaak moes word van die potensiële graanopbrengste van ses plantestande. Dit het groot aftrek gekry. Foto 1 toon die getal mieliekoppe/2 m van die 30 000, 40 000 en 50 000 stande per hektaar.

Getal mieliekoppe per 2 m as ’n funksie van plantestand (van bo af 50 000 plante/ha, 40 000 plante/ha en 30 000 plante/ha).

In Foto 2 wys mnr Kobus van Zyl van Omnia dat ’n skeurploegbewerking van 900 mm beter wortelontwikkeling gegee het as ’n 450 mm diep bewerking. Die profiel is ook natter onder die laasgenoemde vlak bewerking weens swakker wateropname.

Kobus van Zyl bespreek wortelont­wikkeling onder skeurploegbewerking.

Kobus het beklemtoon dat dit ’n komplekse sisteem is waar ander faktore soos kompaksie, klei-inhoud en voedingstatus ook ’n rol speel – en dat al die faktore geoptimaliseer moet word. Foto 3 toon die verskil in die getal mieliekoppe/2 m aan as ’n funksie van diepte van skeurploegbewerking.

Getal mieliekoppe per 2 m as ’n funksie van skeurploegdiep­te (van bo af 900 mm, 750 mm, 600 mm en 450 mm).

Besprekings
Na die veldbesoek is die verrigtinge voortgesit in die Humansvlakte-skoolsaal. Mnr Jaco Minnaar het in sy hoedanigheid as voorsitter die Mielietrust bedank vir die befondsing van die SOK-projek.

In sy verwelkoming het mnr Danie Minnaar, ’n produsent van Kroonstad, beklemtoon dat die grootste beperkings vir goeie gewasproduksie op sandgronde die hoeveelheid beskikbare grondwater, grondverdigting en winderosie is. Hierdie faktore moet bestuur word tesame met die integrasie van die beste produksiepraktyke soos byvoorbeeld wisselbou en dekgewasse met die oog op, onder meer, die bevordering van grondgesondheid. Hy het genoem dat die SOK-projek uitgebrei is om ook bewaringslandbou­produsente van Bultfontein in te sluit.

Ekonomiese aspekte van skeurploegbewerking
In sy praatjie oor die ekonomiese aspekte van skeurploegbewerking het mnr Lourens van der Linde getoon dat, met inagneming van vyf jaar se resultate, geenbewerking se insetkoste ’n fraksie hoër was as skeurploeg-op-die-ry, terwyl tussenry-skeurploeg die laagste insetkoste gehad het.

Teen R3 559/ha het skeurploeg-op-die-ry die hoogste wins getoon in vergelyking met geenbewerking (R3 048/ha) en tussenry-skeurploeg (-R386/ha). In sy opsomming het hy genoem dat die opbrengspotensiaal, gemeet teen die insetkoste van ’n bewerkingsmetode, die winsgewendheid van ’n produksiepraktyk bepaal.

Plantestand
Danie het getoon dat mieliekultivars se opbrengste verskil in hul reaksie op plantestand. Die optimale plantestand is verder ’n funksie van die seisoen, spesifiek van reënval. In ’n goeie reёnvaljaar is die beste stand 25 000 tot 30 000 plante/ha.

Hy het ook gevind dat hoe digter die stand is, hoe groter is die bydrae van die eerste kop tot opbrengs. In ’n ondergrondse drupproef waar 100 mm, 150 mm en 200 mm onderskeidelik toegedien is, het al die toedienings hoër graanopbrengste (mielies) as die kontrole (slegs reënval) gegee.

Die 200 mm-toediening het die hoogste opbrengs gelewer. Agterna beskou kon die hoeveelheid kunsmis en plantestand opwaarts aangepas gewees het.

Stikstofbemestingsproef
In ’n stikstofbemestingsproef met sojabone waar genoegsame residuele stikstof teenwoordig was, het Thabo gevind dat addisionele stikstof geen ekonomiese voordeel inhou nie. Hy het gevind dat plantestand graanopbrengs (mielies) betekenisvol beïnvloed: ’n 40 000 stand/ha het byvoorbeeld 8,2 t/ha gelewer teenoor slegs 6,8 t/ha deur ’n 15 000 stand/ha.

Resultate van die skeurploegproef het getoon dat hoe dieper geskeurploeg word, hoe beter is die opbrengs van mielies met ’n ekonomiese draaipunt by ’n diepte van 750 mm. Thabo soek na ’n ideale wisselboustelsel en hoop dat sy huidige proef van mielies/
sojabone/somerdekgewasse vir hom antwoorde sal gee.

Ondergrondsuurheid
In sy praatjie oor ondergrondsuurheid op die watertafelgronde het Kobus die oorsake van grondsuurheid beklemtoon asook dat risikobestuur op suurgronde spesifieke aandag moet kry. Omnia se resultate toon dat ondergrondsuurheid ’n wesenlike probleem is (50% versus 34% van bogrondmonsters). Samevattend het hy genoem dat gereelde monitering, effektiewe bekalking en gesonde wortels doeltreffende teenvoeters vir grondsuurheid is.

Plantestandproewe
Mnr Johan Bibbey het gesels oor Bayer se proewe oor plantestand by mielies. Hy het genoem dat ’n aantal faktore, onder meer klimaatvooruitsig, grondtipe, bemesting en bewerking, kultivar asook vorige gewas alles ’n rol speel in die bepaling van ’n optimale stand.

Hy het verder vertel dat nuwe genetika baie aanpasbaar is vir verandering in plantestand vir optimale produksie.

Waterverbruiksdoeltreffendheid
Dr Danie Beukes het aangetoon hoe waarde toegevoeg kan word tot grondwater- en temperatuurdata vanaf kapasitanspeilers om, onder meer, waterverbruiksdoeltreffendheid en die effek van mielies en dekgewasse op grondtemperatuur te kan meet.

Dekgewasse
Mnr Gerrie Trytsman (onafhanklike dekgewaskenner) het in sy praatjie oor die rol van dekgewasse en die integrering van diere in bewaringslandbou beklemtoon dat ’n stelselbenadering gevolg moet word. Van die belangrikste oogmerke moet wees om
grondkoolstof te reguleer, mikrobelewe te stimuleer en deur die jaar lewende wortels in die grond te hê. Gerrie wil hê dat boerderymetodes meer moet fokus op natuurlike prosesse en minder op, byvoorbeeld, meganisasie en bemesting.