ONDERGRONDSUURHEID beperk steeds opbrengste

Gepubliseer: 2 Julie 2024

81
Kobus van Zyl, Omnia Nutrilogie®

Grondversuring sal altyd deel wees van intensiewe saaiboerdery. Die versuringsproses kan egter be­stuur word om te verseker dat opbrengsverliese so ver moontlik beperk word. Bestuurspraktyke wat gebruik kan word om versuring te vertraag, sluit in die oordeelkundige gebruik van stikstofbronne vir voorplanttoediening van stikstof.

Ammoniumnitraat-stikstofbronne is onmiddellik plantopneembaar en hoef nie eers om te skakel na plantopneembare stikstof nie. In die proses wat die plant die nitraat opneem, sal daar ook ’n verhoging in die pH rondom die wortels wees. Die netto effek van pH tydens plantgroei en gewasproduksie onder droëlandtoestande is versurend. Indien die opbrengspotensiaal hoog is en ’n redelike hoeveelheid stikstof toegedien word, sal die beste bestuurspraktyk wees om die stikstof op te deel in ’n voor-plant-, met-plant- en topbemestingkomponent. Stabiele opbrengsprestasie is slegs moontlik indien gronde gereeld ontleed en genoegsame kalk toegedien word.

Grondsuurheid in die Wes-Vrystaat en Noordwes
Gedurende 2019 is ’n opname gedoen om te kyk na grondont­le­dings en sodoende die stand van grondsuurheid op die watertafelgronde van die Wes-Vrystaat en Noordwes te bepaal. Dieselfde opname is herhaal oor die tydperk van 2019 tot 2023 om die effek van grondsuurheid sedert 2019 te illustreer. Grafiek 1 gee ’n aanduiding van wat oor tyd gebeur het met die pH(KCl) in die bogrond (0 cm tot 20 cm) van die Wes-Vrystaat en Noordwes. Die groen lyn (Wes-Vrystaat) dui duidelik ’n gemiddelde stygende tendens in die bogrond aan, terwyl die blou lyn (Noordwes) ’n gemiddelde da­lende tendens aandui.

Grafiek 2 dui die verandering aan in die ondergrond wat oor dieselfde tydsperiode plaasgevind het. Beide die Wes-Vrystaat en Noordwes toon dalende tendense. Noordwes se pH(KCl) in die ondergrond het baie vinniger gedaal as in die Wes-Vrystaat. Dié tendens plaas weer die soeklig op bestuurspraktyke om seker te maak dat grondversuring effektief bestuur word en dat daar vroegtydig opgetree word om die regstelling te maak. Indien bestuurspraktyke, met spesifieke ver­wysing na stikstofbron, nie verander word nie, kan die tempo van ondergrondse versuring ’n tydbom wees. Indien ondergrond baie suur is, moet topbemesting van stikstof eerder oorweeg word om beter benutting te verseker.

Om Grafieke 1 en 2 in perspektief te plaas, word die verspreiding van die pH(KCl)-vlakke in elke streek in Grafiek 3 (bogrond) en Grafiek 4 (ondergrond) aangedui.

Tans het 40% van die ontledings ’n pH-waarde laer as 5 in die bogrond, teenoor 69% tydens die vorige opname in die Wes-Vrystaat. Dit is ’n drastiese verbetering, met 60% van die bogrondontleding wat ’n pH(KCl) van hoër as 5 het. Die mikpunt is ’n pH(KCl) van 5,5 of ’n effens hoër. Noordwes se pH(KCl)-waardes lyk ook beter teenoor die vorige opname. Tans het 48% van die ontledings ’n pH-waarde laer as 5 en 52% se pH(KCl)-waarde is hoër as 5.

Die situasie in die ondergrond lyk egter nie so goed soos in die bogrond nie. In die Wes-Vrystaat is 64% van die ontledings laer as ’n pH(KCl) van 5. Let ook veral op die groot persentasie wat laer as ’n pH(KCl) van 4,5 in die Wes-Vrystaat is (Grafiek 4). In die Noordwes is 54% van die ontledings laer as ’n pH(KCl) van 5. Wat ondergrondversuring betref, het die situasie nie veel verbeter vanaf die vorige opname nie. Wortelontwikkeling van gewasse sal nie optimaal wees in grond wat so suur is nie. Voedingsopname en doeltreffende waterverbruik sal ook drasties ingeperk word.

Uit die data is dit duidelik dat ondergrondsuurheid steeds ’n opbrengsbeperkende faktor is, veral wanneer voeding- en vogreserwes uit die ondergrond onttrek moet word. Hoe sê die spreekwoord? “Voorkoming is beter as genesing.” Die grond versuur so vinnig en dit is nie so maklik om ondergrondse versuring reg te stel nie. Om te verseker dat voldoende reaksie wel plaasvind, is goeie vermenging van die suur ondergrond met kalk noodsaaklik. Prakties is daar egter uitdagings soos wind indien lande omgeploeg word.

Beste praktyke om ondergrondversuring te beperk
Doen gereeld grondontledings om seker te maak dat die bekalkings­program op datum bly. Onthou die primêre bron van ondergrondse versuring is swak benutte stikstof (hoofsaaklik gereduseerde stikstof­bronne) wat 25 cm tot 30 cm diep gebandplaas word. Grafiek 5 (bogrond) en Grafiek 6 (ondergrond) dui die persentasie van suur­versadiging (%SV) aan by die verskillende pH(KCl)-vlakke in die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW). Hoe laer die pH(KCl) (suurder grond), hoe hoër sal die %SV wees. Die mikpunt met bekalking is om te verseker die pH is hoog genoeg (minstens 5) en die %SV is 0%.

Bekalking neutraliseer nie net die grond nie, maar voorsien ook kalsium en magnesium aan die plant wat noodsaaklike voe­dingstowwe is vir normale groei en ontwikkeling. Grafiek 7 (bogrond) en Grafiek 8 (ondergrond) dui die grondkalsiuminhoud (Ca (mg/kg)) aan by die verskillende pH(KCl)-vlakke.

Die kalsium- en magnesiuminhoud (mg/kg) neem toe met ’n toename in pH(KCl). Dit is normaal en geld vir beide die bo- en ondergrond.

Bekalking van gronde verseker optimale gewasreaksie. Deur middel van goeie bestuurspraktyke kan versuring van veral die ondergrond beperk word. Verlaag die risiko van ondergrondse versuring deur beter stikstofbronne te gebruik, wat oordeelkundig volgens die opbrengsmikpunt toegedien word. Kontak gerus jou naaste Omnia Nutrilogie-landboukundige vir raad en advies.

Bydrae en erkenning
Verna Nolan, senior statistikus van Omnia, word bedank vir haar hulp met die dataverwerking.

Grafiek 1: pH(KCl)-verandering in die bogrond (0 tot 20 cm) oor tyd op sanderige gronde van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).
Grafiek 2: pH(KCl)-verandering in die ondergrond (>20 cm) oor tyd op sanderige gronde van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).
Grafiek 3: Presentasie van bogrondontledings wat in bepaalde pH(KCl)-kategorieë in die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW) val.
Grafiek 4: Persentasie van ondergrondontledings wat in bepaalde pH(KCl)-kategorieë in die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW) val.
Grafiek 5: Persentasie suurversadiging by verskillende pH(KCl)-vlakke in die bogrond van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).
Grafiek 6: Persentasie suurversadiging by verskillende pH(KCl)-vlakke in die ondergrond van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).
Grafiek 7: Grondkalsiuminhoud (Ca (mg/kg)) by verskillende pH(KCl)-vlakke in die bogrond van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).
Grafiek 8: Grondkalsiuminhoud (Ca (mg/kg)) by verskillende pH(KCl)-vlakke in die ondergrond van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).
Grafiek 9: Grondmagnesiuminhoud (Mg (mg/kg)) by verskillende pH(KCl)-vlakke in die bogrond van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).
Grafiek 10: Grondmagnesiuminhoud (Mg (mg/kg)) by verskillende pH(KCl)-vlakke in die ondergrond van die Wes-Vrystaat (WVS) en Noordwes (NW).

Bronne

  1. Kobus van Zyl en Dr Koos Bornman (Omnia). 2019. “Soil Acidity in Sandy Soils of the North-West and Free State Provinces”. Voorlegging gelewer deur Kobus van Zyl tydens Fertasa se “Soil Acidity, Liming and Ca and Mg Nutrition Workshop” gehou op 22 Mei 2019.
  2. Haumann, PE. 2021. Suurgrond – behoorlike vermenging is ’n moet. SA Graan/Grain, Augustus 2021
  3. Van Zyl, HJJ. 2018. Ondergrondsuurheid ’n werklikheid in hoëpotensiaal­watertafelgronde. SA Graan/Grain, Julie 2018
  4. Van Zyl, HJJ. 2020. Ontledings speel groot rol in moderne boerdery. SA Graan/Grain, Augustus 2020