Die orrelpype

23

Beste Grootneef

Sondagoggend in die kerk. Die orrel speel ’n sagte melodie terwyl gesinne uit die wyke die banke vul. Hier en daar kraak ’n bank wanneer iemand sy sit verskuif. Die bosduiwe roer op die vensterbanke en roep met diep kropgeluide.

Ou Attie Orrelis trap donker klanke met die voetnote los. Eeueoue musiek van Bach en Mendelssohn sweef deur die orrelpype en vul die kerk met ’n Sondag­oggendnostalgie.

Die konsistorie se deur gaan oop. Dominee loop voor tot langs die preekstoel. Die ouderlinge en diakens volg in gelid. Voor die preekstoel leun Dominee vooroor om seën op die oggenddiens te vra. Die kerk is doodstil, selfs die bosduiwe hou ’n oomblik op met pronk. En dan vat Dominee die gemeente deur ’n danklied, verootmoediging en lofprysing. Met die vraag wat immer op die kanselkleed talm: “Waar sal ons hulp vandaan kom?”

Die diens se leivoor word gevul met ’n stroom van musiek wat die toets van tyd deurstaan het. Die orrel dreun helder deur psalm en lofgesang met refrein en melodie vanuit die oudste gereformeerde tye.

Tydens die preek gaan sit ou Attie langs die orrel, skugter en alleen op die galery. Na die laaste “amen” trek hy los met ’n uitstaplied om die gemeente die week in te lei. Wanneer net die koster oor is, word die laaste note ’n oomblik vasgedruk om deur die leë kerk te weergalm. Daarna word die orrel toegeskuif, met ’n groen lappie oor die klap om die ergste stof uit te hou.

Die tyd het egter meedoënloos aangestap, met ou Attie wat een Sondagoggend net nie meer daar was om musiek uit die ou orrel te laat borrel nie. Sy tydelike tentwoning is opgeslaan.

Sy heengaan het egter ’n leemte gelaat – want niemand anders in die gemeenskap kon ’n orrel laat praat nie. Die musiekjuffrou het vir ’n wyle probeer, maar die kombinasie van manuale en voetnote was net een te veel. Sy was óf te vinnig óf te stadig vir die gemeente. Einde ten laaste het die diakens die klavier van die kerksaal af tot voor die preekstoel verskuif. Dit was egter net nooit weer dieselfde nie. ’n Klavier se klawernote kon net nie tot agter in die kerk bykom nie.

Maar tyd staan nie stil nie. Die musiekjuffrou is in die eg verbind met ’n kêrel uit Steynsrus se wêreld en het soontoe verhuis. Wéér was die gemeente sonder musiek en het die voorsang deur die hoofouderling op almal se nerwe gewerk. Soveel van trek was een te veel.

Die diakens beraam toe ’n plan met vier luidsprekers teen die galery. Sedertdien gee opnames van trom en kitaar Sondae die pas aan, want niemand kon meer die note in die gesangeboek lees nie. Die jongspan gemaklik en in ritme met die nuwe liedere.

Ou Neef, oor tyd het die gemeente op ’n manier van die orrel vergeet, al het hy daar in die galery tussen sy pype bly staan. Tot die een Saterdagnag toe die swaar kerkdeure met ’n koevoet oopgebreek is. Die orrelpype is een vir een uit hul pasplek forseer.

Die Sondagoggend was die hele gemeente verslae oor die verwoesting. Wie steel orrelpype uit ’n kerk? Tot die groen lappie oor die orrelklap was weg.

Ou Neef, president Ramaphosa het ’n groot taak voor hom. Om weer hoop in ons land te laat blom met ’n werkie vir algar. Sodat dit vir niemand nodig sal wees om orrelpype vir skroot te steel nie.

Groete

 

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.