Onderhoud van kontoere en afleibane is belangrik

3515
Martin Struthers,
beheeringenieursteg­nikus, Mpumalanga
Departement van
Landbou, Landelike Ontwikkeling, Grond
en Omgewingsake

Goedontwerpte kontoere wat goed in stand gehou word, is die enigste getoetste stelsel om erosie te verminder op bewerkte lande in Suid-Afrika. Daar is al duisende lande wat deur dié stelsel beskerm word.

Kontoere word opgemeet met ’n lae helling om te verseker dat daar nie erosie in die kanaal voorkom nie en dat die kontoerwal ook nie beskadig word nie. Die lengte en spasiëring van die kontoere word bepaal deur die helling, grondvorm, reënvalsone en verspoelbaarheid van die grond.

Dit is belangrik dat ’n kenner op die gebied die kontoere opmeet en ontwerp. Die onderhoud van kontoere is ook uiters belangrik – dit moet deel uitmaak van die werksbeplanning van die plaas. Die afmetings van die kontoer moet altyd só wees dat dit die stormwater waarvoor dit ontwerp is veilig kan wegvoer.

Onderhoud
Daar is omtrent niks wat gebou word wat nie onderhoud benodig nie – dieselfde geld vir ’n kontoerwalstelsel.

Onderhoud is belangrik om die volgende redes:

  • Kontoere voorkom nie dat erosie plaasvind nie, maar beperk dit tot aanvaarbare vlakke. Die grond wat wel afspoel, beland in die kontoer en verminder die vloei-area daarvan. Sien Figuur 1.
  • Omdat die kontoerwal nie behoorlik met konstruksie gekompakteer word nie, sak dit en veroorsaak ook dat die vloeispasie verminder word.
  • Aangesien heelwat van die kontoere op reeds verspoelde lande gemeet en gebou word, kan dit gebeur dat daar versakkings voorkom waar die ou erosieslote was.
  • Waar ’n kontoer breek, veroorsaak dit ’n oormaat erosie ondertoe in die land, want die water is gekonsentreer op een punt. Dit kan ook veroorsaak dat die onderste kontoere breek.
  • Waar daar oor die kontoere gewerk word (wat nie wenslik is nie), verlaag die wal en die vloeispasie word ook kleiner. Sulke kontoere moet elke jaar opgebou word.
  • Die kontoerbekke is geneig om toe te slik en dit is waar die meeste water oor die wal loop en erosie aan die kant van die land veroorsaak.
  • Vee beskadig ook die walle van die kontoere waar die lande in die winter vir weiding gebruik word.

Gereelde inspeksie
Dit is belangrik om gereeld inspeksie te doen van die kontoere wat op die plaas is. Let veral op die volgende:

  • Is daar enige kontoer wat gebreek is?
  • Is daar enige versakkings in die kontoer?
  • Is die wal nog hoog genoeg en nie beskadig nie?
  • Is die kontoerbekke nog oop genoeg?
  • Voldoen die kontoer nog aan die voorgeskrewe vereistes?

Herstel en onderhoud van kontoere

  • Waar die wal gebreek is, moet dit eerste herstel word.
  • Indien daar versakkings in die kontoer voorkom, moet dit opgevul word.
  • Die kontoerbekke moet behoorlik oopgemaak word.
  • Dieselfde implemente en proses waarmee die kontoer gebou is, kan gebruik word om die onderhoud te doen.
  • Maak seker dat die kontoer voldoen aan die vereistes soos in Figuur 1 getoon.

Hoe gereeld moet daar onderhoud gedoen word?
Wanneer daar oor die kontoer gewerk word, moet daar elke jaar onderhoud gedoen word. Waar daar nie oor die kontoer gewerk word nie, is die voorstel dat die kontoere na die eerste jaar weer opgetel word. Daarna sal die inspeksie bepaal wanneer dit weer nodig is.

Dit is wel so dat wanneer die kontoer behoorlik gestabiliseer is, dit dalk nodig is om elke vyf tot ses jaar onderhoud te doen.

Meet altyd die kontoer aan die hand van Figuur 1. As daar ’n groot afwyking van die norme is, herstel die kontoer. Andersins kan daar nog ’n bietjie gewag word.

Onderhou ook die afleibane
Onthou dat die onderhoud van afleibane net so belangrik is. Dit help nie die kontoere is oop en die afleibane is toegeslik of verspoel nie. Indien daar erosie in die baan voorkom, moet dit so spoedig moontlik opgevul en hervestig word.

Maak seker dat die grondbedekking van die afleibane nog in plek is. Indien daar kaal kolle is, hervestig dit so spoedig moontlik. Hoe meer gras daar groei, hoe beter. Maak net seker dat die gras nie die watervloei beperk nie – dit word aanbeveel dat die gras gereeld gesny word om hierdie rede.

Vir meer inligting kontak vir Martin Struthers by 083 254 3356.