Klein verandering lewer uitstekende resultate

Gepubliseer: 13 Desember 2023

255

Dit was nie sonder rede dat Steven Cave van die plaas Rietfontein in die Koster-distrik die blok sojabone in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie ingeskryf het nie. Cave het sy bemestingsprogram op van sy sojaboonlande aangepas met resultate wat hom breed laat glimlag het. Nie net het hy die afdeling vir sojabone wat onder droëlandtoestande in die sentrale somergraangebied verbou word gewen nie, maar hy het ook ’n nuwe opbrengsrekord behaal.

Alhoewel dit die eerste keer was wat Cave aan die kompetisie deelgeneem het, meen hy dat hy dit weer sal doen. “Kompetisies is goed. So kan ’n mens jou eie prestasie meet teen die opbrengste wat jy jaarliks op jou plaas behaal, maar ook teen dié van medeprodusente in jou omgewing. Dit is goed om te sien wat in ander gebiede moontlik is.”

Cave het die goeie resultate behaal met die Agricol-Don Mario-sojaboonvariëteit DM6,8iRR en ’n opbrengs van 5,659 t/ha gerealiseer. Hy plant ook ander variëteite om risiko te versprei. Hy het die sojabone teen ’n plantpopulasie van 280 000 plante/ha geplant en uiteindelik 250 000 plante/ha gerealiseer. “Ek dink egter dat ek in die komende seisoen uit die staanspoor slegs 250 000 plante/ha gaan plant. Wanneer die stand ’n bietjie laer is, kompenseer die plante deur goed te stoel en meer peule te maak.”

Hy staan aan die stuur van ’n familieboerdery waar elkeen verantwoordelik is vir ’n bepaalde afdeling. Sy skoonseun, Shaun Steyn, staan aan die hoof van die akkerbou-afdeling, terwyl sy twee dogters, Nikita en Kelly, verantwoordelik is vir die speenkalfproduksie en die voerkraal. Sy vrou, Wilma, bedryf ’n slaghuis op die plaas. Hulle het onlangs ook ’n klein meule opgerig. “Ons sal graag in die toekoms nog meer waarde wil toevoeg op die plaas deur die sojabone self te verwerk.”

Die helfte van Cave se akkerbou-afdeling bestaan uit mielies, terwyl sojabone 40% verteenwoordig en suikerbone die oorblywende 10%. Hy plant al die afgelope tien jaar sojabone.

Cave is nou 15 jaar op die plaas en meen sedert hy begin boer het, het hy al dikwels skoolgeld betaal. “Een van die dinge wat ek oor die jare heen geleer het, is dat grondgesondheid die een afdeling is waar ’n boer nie kan afskeep nie. ’n Mens moet die grond se pH dophou en nie skaam wees om regstellings te doen nie. As ’n mens hierdie beginsel nakom, kan jy ’n goeie beloning aan die einde van die seisoen verwag.”

Dit is dan ook die rede waarom hy die bemesting op die sojabone aangepas het. “Nadat ek gestroop het, doen ek ’n 1 ha-ruitontleding op die lande en maak regstellings na aanleiding van die resultate. Ek het oorgeskakel van kaliumchloried (KCI) na kaliumsulfaat. Benewens die feit dat ek minder soute in die grond plaas, bevat die kaliumsulfaat swael, wat goed is vir die grond.”

Een van die aspekte van die boerdery wat heelwat oor die afgelope 15 jaar verander het, is grondbewerking en die voorbereiding van lande. “Ons het begin met baie trekkers, maar deesdae het ons minder trekkers en implemente en fokus ons op daardie werktuie wat werklik waarde toevoeg in die boerdery. Ons het wel groter trekkers met 12-ryplanters en sonder die hoogloopspuit kan ek nie boer nie.”

Steven Cave (links) ontvang sy toekenning van dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering van Graan SA.

Bewerkingspraktyke
Om koste in toom te hou, reken hy produsente kan eerder oorweeg om bewerkings soos kunsmisstrooi uit te kontrakteer in plaas daarvan om eie implemente aan te skaf wat net een tot twee weke in ’n jaar regtig werk. Hy sê egter in dieselfde asem dat planters van kardinale belang is. “Wanneer die omstandighede reg is om te plant, kan ’n mens nie bekostig om tyd te verspil nie en daarom moet jy investeer in jou eie plantertoerusting.”

Cave volg minimumbewerkingspraktyke. Wanneer hy die soja­bone klaar gestroop het, doen hy die 1 ha-grondontledings en bekalk daarvolgens. Hy dien dan fosfaat toe en strooi 3 ton bees- of hoendermis uit. Die beesmis kry hy uit die voerkraal, maar hy koop die hoendermis aan.

Wanneer hy sien dat daar kompaksie is, sal hy die grond breek met ’n diep tandbewerking (rip) tot op 400 mm. Dit word egter net gedoen indien dit werklik nodig is, beklemtoon Cave. Hy plant dan die mielies in hierdie lande.

Na mielies sal hy ’n ligte bewerking doen met ’n Turbo-Max van Great Plains om die saadbed voor te berei en die mieliereste op te breek. Hy plant die sojabone in die reste. Hy gebruik ’n Monosem-presisieplanter en het die sojabone met ’n Case-stroper gestroop.

Een van sy grootste uitdagings in die 2022/2023-seisoen was die nat toestande wat tydens planttyd geheers het. Hy vertel dat een van die planters in November in die modder vasgeval het en vir ’n week gestaan het voordat hulle dit as’t ware kon gaan red. “Dit was ’n groot gemors. Ons het slote getrap en sal hierdie jaar mooi moet kyk na daardie lande om dit reg te stel.”

Die nat toestande is opgevolg met ’n uiters droë en warm Januarie en Cave meen as normale Januarie-toestande geheers het, hy dalk nog ’n beter opbrengs sou kon realiseer. Hy is egter dankbaar dat die vog wat in die grond vasgevang was die sojabone kon deurhaal.

Die onkruidbeheerprogram wat hy volg op sy mielies en soja­bone is redelik dieselfde. Hy dien ’n vooropkomsonkruiddoder toe net na plant wat hy opvolg met ’n bespuiting ongeveer vyf tot ses weke na plant. Saam met daardie bespuiting dien hy ’n swamdoder en blaarvoeding toe op die mielies. Op die sojabone doen hy ook ’n vooropkomsbespuiting net na plant en volg dit op met vier bespuitings wat swamdoders en blaarvoedings bevat. Afhangende van die onkruiddruk sal hy glifosaat saam met hierdie bespuitings toedien.

Cave dien verder ’n groeistimulant op die wortels toe met plant omdat hy glo dat goeie wortelontwikkeling help om plantestand te realiseer en opbrengs vas te lê.

Hoewel opbrengs altyd iets is waarna hy streef, moet dit in balans wees met die uitgawes. ’n Eenvoudige reël wat hy volg is dat sy insetkoste op sojabone nie die inkomste wat hy verkry van 1 ton sojabone mag oorskry nie. By mielies werk hy op 4 ton se inkomste wat sy insetkoste moet dra. “Insetkoste word net duurder. Saadpryse het baie opgegaan en kunsmispryse het die hoogte ingeskiet, om nie eers van diesel te praat nie. ’n Mens moet uiters noukeurig wees wanneer jy jou koste uitwerk en seker maak om die goue balans te handhaaf.”

Wanneer hy nuwe kultivars moet kies, kyk hy na opbrengs maar ook na stabiliteit oor seisoene heen, staanvermoë en siekte­verdraagsaamheid.

Dit is vir hom belangrik om goeie verhoudings met die verteenwoordigers van insetverskaffers te handhaaf. “Die verteenwoordigers kom gereeld op die plaas en hulle is ’n goeie bron van inligting. Hulle het die geleentheid om inligtingsessies oor die wêreld heen by te woon en hou my op hoogte van die nuutste verwikkelinge op tegnologiese vlak. Ek woon ook graag boeredae by waar ek kan kyk na die proewe wat geplant word. Daardie resultate gee ’n goeie oorsig van wat in die omgewing werk of nie.”

Cave is deel van die Koster-studiegroep en sê dit hou vele voordele vir hom in om lid te wees. Nuwe produkte en tegnologie word in studiegroepverband bespreek en hy put heelwat waarde uit die gesprekke met medeprodusente.

Sy raad aan jong produsente is om nie te vinnig te veel uitgawes aan te gaan nie en om eerder in die begin op grondgesondheid te konsentreer. “Stel jou lande een vir een reg. En wees konserwatief wat spandering en noukeurig wat somme betref.”

Volgens Cave sal hy hom in die toekoms nog meer op presisieboerdery wil toespits, maar hy gaan definitief ook fokus op waardetoevoe­ging. “Waardetoevoeging op jou eie produkte gaan in die toekoms al hoe belangriker wees. Op hierdie manier kan ’n mens ook werk verskaf in die platteland waar werkloosheid ’n kommerwekkende probleem is. Hoe meer klaar produkte die plaashek kan verlaat, hoe meer werksgeleenthede kan ek skep en so ’n positiewe impak maak in my omgewing.”