Mieliekuilvoer – meer navorsing, beter produkbesluite

De Bruyn Myburgh, landboukundige, Pioneer SA
Gepubliseer: 28 Oktober 2020

1839

In Suid-Afrika word ’n wye reeks gewasse, soos gars, hawer en lusern vir weiding gesny. By Pioneer fokus ons op mielies vir kuilvoer. Die fisiologiese stadium waarop hierdie gewas gesny word, speel ’n groot rol in die kwaliteit van die kuilvoer.

Produsente gebruik gewoonlik die huidige seisoen se prestasie om te besluit watter baster hulle die volgende jaar vir kuilvoer moet plant. Beter besluite kan egter geneem word deur opbrengsdata van goeie gehalte te gebruik, soos kwaliteitdata uit proewe wat deur Pioneer gedoen word. Daar is verskeie belangrike oorwegings wanneer proefresultate gebruik word:

  • Kies goed uitgevoerde proewe.
  • Maak ’n geldige bastervergelyking.
  • Pasop vir klein opbrengsverskille.
  • Onthou die volgende seisoen sal nie dieselfde as hierdie seisoen wees nie.
  • Maak gebruik van plaaslike navorsing.

Dit wat verwag word van ’n goeie kuilvoerkultivar kan verskil, aangesien die behoefte waarvoor dit aangewend word verskillend kan wees, byvoorbeeld dierevoeding of ’n melkery. Die grootste behoefte of verwagting lê egter by produsente, voedselkundiges en kontrakteurs wat betrokke is by die produsering en verbruik van kuilvoer. Opinies oor kwantiteit teenoor kwaliteit van kuilvoer wissel, maar ’n algemene gebruiksreël of mikpunt vir ’n goeie kuilvoer is as volg: ’n Hoë opbrengs per hektaar; ’n hoë styselopbrengs per kilogram droë materiaal (DM) asook hoë totale verteerbare voe­dingstowwe (TVV) (total digestible nutrients [TDN]) word verlang.

Groeilengtes speel ’n belangrike rol en bepaal die snytyd. Droë massa word bepaal as ’n persentasie wat so na as moontlik aan 35% moet wees. Wanneer te nat gesny word, benadeel dit die kuilvoer­kwaliteit en lei dit tot die produksie van bottersuur met ’n baie hoë pH en onsmaaklikheid vir diere. Wanneer te droog gesny word, lei dit weer tot swak kompaksie. Dan fermenteer die kuilvoer swak en kwantiteit (bulk) gaan verlore.

By Pioneer het ons ’n nuwe navorsingsrigting begin ten opsigte van kuilvoerinligting. In samewerking met plaaslike produsente, kontrakteurs en wetenskaplikes bekom ons resultate en inligting om produsente te help om die beste keuses vir hul praktyke te maak.

’n Verteenwoordigende monster van elke kultivar is oor die proewe wat uitgevoer is in die 2018/2019-seisoen, geneem. ’n Protokol hiervoor is voorsien deur ons vennoot, AgSci Unlimited Silage Consultancy. Hierdie protokol het aanduidings gegee aangaande die vasstelling van snytyd, die kerf en uitdroging van mieliemateriaal, die bepaling van droë materiaal, die stelling van metingsparameters tydens stroop, monsterneming, inkuiling en die analise van gefermenteerde monsters.

Daar kan dus nou uitstekende proewe in alle gebiede gedoen word om sodoende die regte resultate te bekom. Dit stel ons in staat om die korrekte baster aan te beveel om by ’n produsent se spesifieke omgewing aan te pas, sodat hy met selfvertroue kan plant. By kuilvoer is die balans tussen kwantiteit en kwaliteit belangrik en ons doen seleksies en standproewe om die reaksies te toets. Ons maak ook aanbevelings ten opsigte van stand om meer effektiewe raad te gee.

Basterkeuse is een van die beslissende besluite wat ’n produsent elke jaar op die plaas neem. Deurdink dit goed en met sorg. Gebruik die Pioneer-data om die regte baster te kies om die beste by die boerdery se doelwitte te pas.

Besoek www.pioneer.com/za of stuur ’n e-pos na info.rsa@pioneer.com vir meer inligting.

Pioneer help jou om die regte kultivarkeuse te maak vir jou mieliekuilvoerbehoeftes.