Voedselprysinflasie: Hoe lyk die tendense?

2170
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA, luan@grainsa.co.za

12|07|2019

Inflasie en rentekoerse speel beide ’n belangrike rol in enige land se ekonomiese omgewing. Hierdie twee aspekte bepaal die waarde van die land se geldeenheid en veranderinge in enige een van die twee beïnvloed ook die relatiewe waarde van die geldeenheid.

Alhoewel inflasie ’n oorhoofse term is wat verwys na die prysverandering van ’n reeks goedere en dienste, kan dit ook afgebreek word na meer spesifieke produkte en dienste toe. Hierdie artikel sal fokus op die tendense van sekere voedselpryse wat beide stysel- en proteïengebaseerde produkte insluit.

Rentekoerse en inflasie
Die inflasiekoers kan gedefinieer word as die tempo waarteen die pryse van sekere produkte en dienste toeneem oor ’n gegewe tydperk. Die toename in die pryse veroorsaak dat die relatiewe koopkrag van die geldeenheid daal, aangesien dieselfde hoeveelheid geld nou minder van dieselfde produk of diens kan koop.

Dié koers word as ’n persentasie uitgedruk, wat in effek beteken dat die koopkrag van die geldeenheid met hierdie persentasie oor die gegewe tydperk daal. Dit is vir enige land belangrik om ’n stabiele inflasiekoers te hê om so te verseker dat die jaar-op-jaar-toename in pryse nie te hoog of te laag is nie.

In Suid-Afrika is die teikeninflasiekoers, soos deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) vasgestel, tussen 3% en 6%. Dit wil sê dat die SARB die inflasiekoers só wil bestuur dat dit stabiel binne hierdie bandwydte bly. Een van die aspekte wat die SARB gebruik om die inflasiekoers te bestuur, is rentekoerse. Indien die SARB van mening is dat inflasie neig om buite hierdie vasgestelde bandwydte te beweeg, sal die bank veranderinge aan die repokoers (rentekoers waarteen kommersiële banke geld by die SARB leen) maak.

Grafiek 1 dui die Suid-Afrikaanse repokoersveranderinge teenoor die plaaslike inflasiekoerse aan sedert Mei 2014. Dit is duidelik dat die plaaslike inflasiekoers vanaf Februarie 2015 skerp opwaarts beweeg het, wat die SARB genoodsaak het om die ren­tekoers ook opwaarts aan te pas. Sedert Desember 2016 was die inflasiekoers meer in ’n afwaartse tendens en beter in lyn met die SARB se teikenvlakke van tussen 3% en 6%.

Die oorhoofse inflasiekoers word bereken deur te kyk na die prysverandering in ’n reeks verskillende produkte en dienste. Landbouprodukte, wat hoofsaaklik deel vorm van voedselprysinflasie, speel ook ’n groot rol in die plaaslike inflasiekoers, aangesien voedselprysinflasie ongeveer 15,5% van die totale inflasiekoers uitmaak. In die 15,5% van die voedselprysinflasie, is ongeveer 75% graan- en graan­afhanklike produkte.

Styselgebaseerde produkte
Die styselgebaseerde produkte soos aangetoon in Grafiek 2 is hoofsaaklik produkte wat met mekaar kompeteer in terme van verbruikersvraag. Dit is noodsaaklik om die tendense van hierdie produkte met mekaar te vergelyk.

Grafiek 2 wys die jaar-op-jaar-verandering (gemeet teenoor dieselfde maand van die vorige jaar) in die pryse van onderskeidelik supermieliemeel, aartappels en rys sedert Mei 2014. Aartappelpryse was baie wisselvallig oor hierdie tydperk en dit het baie groter jaar-op-jaar-prysbewegings getoon as die ander produkte in hierdie kategorie. Gedurende April 2016 was die aartappelpryse jaar op jaar ongeveer 57% hoër, vanwaar dit ’n dalende tendens begin toon het om gedurende April 2017 25% laer as die vorige jaar te verhandel.

Die mieliemeelprys was ook baie wisselvallig en het gedurende April 2016 ’n jaar-op-jaar-prystoename van 37% gewys. Die mieliemeelprystendens het sedert Februarie 2017 begin draai en was in ’n afwaartse tendens tot en met ongeveer Februarie 2018 vanwaar dit weer ’n geleide draaipunt bereik het.

Rysprystendense was baie minder wisselvallig as dié van mie­liemeel en aartappels oor hierdie tydperk. Die wisselvalligheid in die mieliemeel- en aartappelprysten­dense kan grootliks toegeskryf word aan die feit dat hierdie twee produkte plaaslik geproduseer word. Die weerstoestande was die afgelope twee tot drie jaar ook baie wisselvallig, wat ’n noemens­waardige impak op die produksie van hierdie produkte gehad het en die groot prysbewegings in hierdie kommoditeite veroorsaak het.

Rys word meestal ingevoer en daar is nie sulke groot veran­deringe in hierdie markprystendense nie. In terme van die styselgebaseerde produkte is dit duidelik: Die prystendens is meestal in ’n opwaartse kurwe vir mieliemeel en rys, terwyl die aartappelpryse tans jaar op jaar sywaarts beweeg.

Proteïengebaseerde produkte
Grafiek 3 dui die jaar-op-jaar-prysveran­deringe van kruisskyf, gevriesde vis, eiers en gevriesde hoender aan. In terme van verbruikersvraag is hierdie proteïengebaseerde produkte wat met mekaar meeding.

Dit is duidelik dat hierdie produkte nie sulke groot prysbewegings soos die styselgebaseerde produkte oor die afgelope vyf jaar getoon het nie. Eierpryse was die wisselvalligste met die grootste jaar-op-jaar-prysveranderinge oor die tydperk.

Die meeste van die proteïengebaseerde produkte wat in Grafiek 3 gewys word, is steeds meestal in ’n afwaartse tot sywaartse tendens. Die prystendens van gevriesde vis is reeds sedert April 2017 meestal afwaarts, terwyl die draaipunt vir kruisskyf gedurende Julie 2017 was. Die prystendense van gevriesde hoender kan eers vanaf Januarie 2018 aangedui word, as gevolg van die beskikbaarheid van die inligting.

Hoenderpryse was op ’n jaar-tot-jaar-grondslag sedert Januarie 2018 meestal in ’n afwaartse tendens en het die laaste paar maande sywaarts beweeg.

Ten slotte
Die plaaslike ekonomie is reeds vir die afgelope klompie jare onder geweldige druk wat ’n oorspoeleffek na ander aspekte van die plaaslike mark het. Een van die gevolge van swak ekonomiese groei is swak indiens­namesyfers. Aangesien daar nie groei in die plaaslike ekonomie plaasvind nie, word nuwe werksgeleenthede nie geskep nie. Die algemene verbruiker is dus al meer onder druk in terme van besteebare inkomste. Dit veroorsaak dat verbruikers in baie gevalle wegbeweeg van luukser produkte (proteïengebaseerde diëte) na meer noodsaaklike produkte (styselgebaseerde diëte).

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.