Nuut op die Hoofbestuur

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 Augustus 2020

1279

Tydens die jaarlikse Kongres op 4 en 5 Maart 2020 met die tema “Boere dra by/Farmers contribute”, is drie nuwe Graan SA-hoofbestuurslede verkies. Leer meer oor dié drie produsente:

Janes Barnard van Streek 21
Janes Barnard (47), wat nou die hoofbestuurslid van Streek 21 is, is die derde generasie wat boer op Vlakplaas, ’n familieplaas wat al sedert 1935 in hul besit is. Hier op dié plaas in die Hoopstad-omgewing is hy van kindsbeen af gevorm as ’n produsent en hy het nooit getwyfel oor sy loopbaanrigting nie. Hy het ná die voltooiing van sy diensplig landbouhulpbronbenutting aan die destydse Pretoria Technikon gaan studeer.

Op Vlakplaas vorm graanproduksie die hoofvertakking van die boerdery waar mielies, koring, sojabone en sonneblom in ’n wisselboustelsel verbou word. ’n Klein veefaktor en wildboerdery maak die ander gedeelte van die boerdery-onderneming uit.

Janes is sedert 2005 ’n lid van Graan SA. Dit is vir hom baie belangrik om deel te wees van georganiseerde landbou omdat dié organisasies probeer om ’n voordelige en veilige omgewing vir produsente te skep. “Graan SA is ’n organisasie wat baie vir ons as produsente beteken. Hulle tree namens ons op sodat ons op produksie kan fokus. Daar is tans soveel aanslae teen die landbousektor en ’n organisasie soos Graan SA beding namens ons oor sake soos die dieselrabat. Met die agteruitgang in baie sektore in ons land het hulle ook die rol van navorsing oorgeneem om ons volhoubaarheid te verseker.”

Sy droom vir landbou in Suid-Afrika is dat die regerende party die waarde en doel van landbou en die produsent sal besef. “Ons wil in vrede kan produseer sonder die vrees van politieke agendas op die voorgrond, sodat ons vir ons kinders ook ’n toekoms in Suid-Afrika kan verseker.”

Janes is met Tania getroud en hulle het drie kinders.

Thomas Sibiya van Streek 29
Thomas Sibiya (50) is baie dankbaar vir Graan SA se rol in sy groei van bestaansboer in 2005 na potensiële kommersiële produsent. Hy het in 2015 as lid by Graan SA aangesluit en is nou die hoofbestuurslid van Streek 29.

Dit is as gevolg van die veranderende landbou-omgewing en moeilike ekonomiese omstandighede dat hy die besluit geneem het om lid te word en só te verseker dat daar iemand is om die pad saam met hom te stap. Hy noem dat sy sukses te danke is aan die leiding en raad wat hy van sy mentors by Graan SA ontvang. “Boerdery is maar wisselvallig. Jy is nooit seker hoe die seisoen gaan uitdraai nie,” gesels hy.

Tans huur Thomas 860 ha grond van die regering, waar hy ’n gemengde boerdery bedryf. Op Schurvepoort word mielies, soja- en droëbone verbou, terwyl die veevertakking uit beeste, skape, bokke en varke bestaan. Thomas se vrou, Zodwa, twee dogters en ’n seun sit almal hand by om ’n sukses van die boerdery te maak. Hy droom daarvan om sy eie stuk grond te besit en hoop om later ten minste 1 500 ha te plant.

Thomas sal graag in ’n Suid-Afrika wil bly waar mense mekaar vertrou en respekteer. Dan, glo hy, sal misdaad nie meer so ’n groot probleem wees nie.

Jose de Kock van Streek 27
Jose de Kock (39) vorm sedert 2011 deel van ’n familieboerdery wat oor vyf generasies opgebou is. Die tweede generasie het die boerdery opgedeel en die vyfde geslag het in 2018 besluit om dit weer saam te voeg om die voordeel van ekonomie van skaal te kry. Jose en sy vrou, Michelle, het twee seuns en woon op Klopheuwel, waar koring, gars en kanola verbou word. Tans behartig Jose die algemene bestuur van die boerdery. Neef Josias is verantwoordelik vir die rooibosteeverbouing en die besproeiingsgedeelte, wat lusernhooi, mieliekuilvoer en amandelneute insluit. Twee agterkleinneefs, Hendrik en JD, sien om na die finansies asook die skaap- en saaivertakkings.

Vir Jose was daar van kleins af geen ander rigting as boerdery nie. Hy het ná skool sy BScAgric-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en ook ’n honneursgraad in landbou-ekonomie in 2003 voltooi. Daarna het hy eers ’n loopbaan in graanverkryging aangedurf en hy was ook vir ’n paar jaar takbestuurder vir Overberg Agri op Riviersonderend. “Ek doen nou regtig iets waarvoor ek baie lief is. Landbou is vandag ’n wetenskap wat volgens gesonde besigheidsbeginsels bestuur moet word.”

Jose is sedert 2011 ’n lid van Graan SA en is nou die hoofbestuurslid van Streek 27. Hy glo dat georganiseerde landbou die stem van die produsent is. “Die doel is dat landbou uit een mond praat en op politieke en beleidsvlak namens die produsent optree. Die waarde vir ’n produsent hierin is dat hy op produksie kan fokus en dat georganiseerde landbou vir hom die omgewing kan beskerm waarin hy produseer.” Sy droom vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf is dat die regering van die dag landbou as sy vennoot sal begin sien.