Mielieboere “kan nie fout maak” deur sojabone in te sluit

Gepubliseer: 3 Mei 2022

866
Engela Duvenage, namens die Departement Agronomie, Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch

Die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf kort ’n broodnodige impetus. Om opbrengste egter wesenlik te verbeter, sal produsente ’n paar kopskuiwe moet maak oor hoe hulle hul gewasproduksiestelsels en grond hanteer. Dit was die boodskap in ’n onlangse artikel in die vaktydskrif Agronomy Journal, wat geskryf is deur dr Stephano Haarhoff, ’n agronoom werksaam vir Yara Africa Fertilizer, en dr Pieter Swanepoel van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hierdie artikel is deel van ’n spesiale afdeling in die internasionale vaktydskrif waarin kenners besin oor die kort- tot mediumtermynprobleme wat ’n stokkie voor voedselsekerheid op streeksvlak kan steek. Daarin bied die twee agronome ’n oorsig oor hoe die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf tans daar uitsien, die praktyke wat gevolg word en die tekortkominge wat navorsing betref.

Sojaboonopbrengs het oor die afgelope twee dekades wêreldwyd gestyg – maar nie in Suid-Afrika nie. Dit is ten spyte van die vrystelling van verbeterde sojaboonkiemplasma en moderne onkruiddoder in onlangse jare. Plaaslik word sojabone onder droëlandtoestande verbou.

Volgens 2020-statistiek van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) het die totale sojaboonopbrengs in Suid-Afrika wel van 1 680 kg/ha tussen 2001 en 2010 tot 1 730 kg/ha tussen 2011 en 2019 gestyg. Hierdie verbetering word egter toegeskryf aan meer hektare wat geplant is eerder as aan groter opbrengste.

“Moderne agronomiese praktyke word nog nie tot dieselfde mate in Suid-Afrika gebruik as wat dit in talle van die wêreld se beste sojaboonproduserende lande die geval is nie. Dit is jammer, want die land het die potensiaal om wesenlik volhoubare opbrengste te lewer. Dit sal van waarde vir plaaslike produsente wees as hulle oorweeg om hul grond minder te bewerk, die gebruik van voedingstowwe slimmer te bestuur, en ’n verskeidenheid van opsies rakende gewasrotasie te oorweeg,” reken dr Haarhoff en dr Swanepoel.

Opbrengste reg oor Suid-Afrika se grootste sojaboonproduksiegebiede word belemmer deur afwisselende reënvalpatrone, hoë temperature, grootskaalse verdamping en die verdigting van grond.

Plaaslik word sojabone onder droëlandtoestande verbou.
Foto: Dr Stephano Haarhoff

Maniere om opbrengs en produksie te verbeter
In Agronomy Journal wys die twee kenners daarop dat opbrengste en produksie verbeter kan word deur die volgende aanbevelings te volg:

  • Dien reeds vroeg in die seisoen stikstofbemesting toe indien die stikstofinhoud van die grond laag is.
  • Sluit sojabone in by boerderystelsels waar mielies primêr verbou word. Dit moet verkieslik afgewissel word met ander gewasse of dekgewasse wat vir weiding gebruik kan word. Sodoende word die verskeidenheid van gewasse wat in wisselboustelsels inge­sluit word, uitgebrei.
  • Gebruik gewasproduksiepraktyke wat hoë volumes afloop­water en verdamping beperk. Dit sal byvoorbeeld voordelig wees om meer oesreste op die lande te los nadat mielies gestroop is of om vee toe te laat om die oesreste slegs gedeeltelik te bewei.
  • Bewerk grond minder intensief, deur byvoorbeeld minimum- of geenbewerking te gebruik. Sodoende kan die grondstruktuur en die volume van organiese materiaal daarin verbeter, wat positiewe gevolge kan inhou wanneer droogtes, hittegolwe en ander omgewingstressors voorkom.
  • Oorweeg gediversifiseerde produksiestelsels en gebruik vee om onkruid en die voorkoms van siektes op ’n geïntegreerde manier te beheer.
  • Beperk die beweging van voertuie oor ’n stuk grond en waar moontlik ook die verdigting van grond. Oorweeg die gebruik van moderne planters en/of presisietegnologie wat uniforme saad- en voedingstofplasing verbeter.
  • Bewerk sanderige grond wat reeds etlike jare geensins of minimaal bewerk word, strategies. Sodoende kan die verdigting van grond teengewerk word. Die strategiese gebruik daarvan sal nie noodwendig lei tot verlaagde produksie nie. Hou egter sekondêre gevolge soos erosie weens wind en water in gedagte nadat grond bewerk is.

Meer plaaslike data en navorsing nodig
“Juis omdat hulle oor die jare heen wisselvallige opbrengste gekry het, is produsente skrikkerig oor hoeveel stikstofbemesting om te gebruik, en wanneer om dit toe te dien. ’n Groot probleem is die gebrek aan plaaslike wetenskaplike kennis wat lig hierop kan werp. As ons dit kan regstel, kan ons begin om baie onsekerhede hieroor by produsente en agronome uit die weg te ruim,” reken dr Haarhoff.

“Ons kort pasklaar bestuurspraktyke en riglyne wat aangepas kan word vir ’n spesifieke boerderystelsel se behoeftes. So kan ons uitdagings wat elke plaas ervaar, afsonderlik takel en help om grond te verbeter en die toestande waaronder gewasse groei.”

Elke boerderystelsel is uniek, met die heersende grond- en klimaatstoestande en die behoeftes van die produsent wat bepalend is. Daarom moet studies gedoen word wat die voor- en nadele van verskillende agronomiese beginsels en stelsels (byvoorbeeld bewaringsboerdery teenoor konvensionele grondbewerking) in verskillende produksiestreke in Suid-Afrika opweeg.

Meer navorsing is byvoorbeeld nodig om vas te stel wat die optimale peil en tydsberekening vir die gebruik van stikstof, kalium en fosfaat as bemesting is, en hoe dit sou verskil tussen die oostelike en westelike sojaboonproduksiegebiede van Suid-Afrika. Verder moet navorsing gedoen word om te verstaan hoe bewa­ringslandboupraktyke (byvoorbeeld geenbewerking, permanente grondbedekking en ’n gediversifiseerde gewasproduksiestelsel met of sonder vee) versus konvensionele bewerking (waar die grond versteur word deur tandoopmakers op planters te gebruik en baie min grondbedekking) die potensiaal van ’n bemestingsprogram in die wiele kan ry. Daar moet ook bepaal word watter invloed die chemiese same­stelling van grond, die wedersydse interaksie en funksionering tussen mikrobes, grond en plante en die grond-water-verhouding op die sukses van elkeen van hierdie praktyke het. Verder moet navorsing bepaal hoe bemestingsbestuursprogramme aangepas behoort te word volgens die behoeftes van verskillende boerderystelsels.

Dr Stephano Haarhoff (links) en Dr Pieter Swanepoel (regs)

Uitdagings
’n Groot uitdaging vir produsente in die westelike produksiegebied is om grondbedekking te verseker om die grond te bewaar en om verdamping sover moontlik te keer.

“Hierdie gebied, wat die noordelike dele van Noordwes en sentraal-Vrystaat insluit, ontvang 90% van sy jaarlikse reën tussen Oktober en Maart. Dié somermaande oorvleuel met die groeiseisoen van sojabone. Water is seker die beperkendste faktor as dit by sojaboonopbrengste kom,” sê drs Haarhoff en Swanepoel. Hael bly ’n probleem vir die oostelike produksiestreek, wat Gauteng, die oostelike dele van die Vrystaat en groot dele van Mpumalanga en Limpopo insluit. Vroeë ryp plaas ook ’n demper op opbrengste in die oostelike gebiede sowel as die KwaZulu-Natal-streek.

Drs Haarhoff en Swanepoel reken produsente wat oorwe­gend met mielies boer, kan nie ’n fout maak deur sojabone by hul produksiestelsels te voeg nie. Dit doen meer as om net gewasopbrengste te verhoog. Dit stel produsente in staat om die maniere waarop hulle onkruid beheer af te wissel, byvoorbeeld die gebruik van onkruiddoder en die tydsberekening van grondbewerking. Dit gooi siekte- en pessiklusse om. Danksy biologiese stikstofbin­ding verbeter die stikstofinhoud van die grond en die gebruik van dekgewasse in mielie-sojaboonrotasiestelsels verbeter die opbou van organiese materiaal in die grond. Dit verskaf meer as genoeg plantmateriaal as veevoer. Dit kan ook as grondbedekking tus­senin kontantgewasse gebruik word.

“’n Verskeidenheid van aanpasbare alternatiewe is nodig om produsente, gewaskundiges en navorsers te lei om alternatiewe agronomiese bestuursopsies te oorweeg sodat sojaboon­opbrengste op die lange duur kan verbeter en stabiliseer. Ons het sulke opsies nodige om moeilike groeitoestande, soos langdurige droogtes, hoë temperature asook ons arm grond wat so maklik kompakteer, die hoof te kan bied,” sê drs Haarhoff en Swanepoel.