’n Sleutelkloof

Gepubliseer: 4 Junie 2024

79

Beste Grootneef

In my jong dae toe ons nog jonk en mooi was (nou net mooi), was ek ’n geëerde lid van die Amsterdamhoek Hiking and Drinking Club. Die Amsterdam, synde ’n skip afkomstig uit die ou Nederlande, het in 1817 naby die mond van die Swartkopsrivier gestrand. Die meeste van die bemanning het oorleef en het aangestryk tot by Port Elizabeth waar daar destyds ’n fort was. ’n Maand later is die span weer met ’n verbygaande skip terug na die Nederlande.

Met springgety se lae laagwater, kan die houtribbes van die ou vaartuig soms nog waargeneem word. Ander kere, wanneer die see kwaad is, spoel die seesand weer alles toe en is daar niks van die ou verhaal te sien nie.

Terug na die stapklub met die unieke naam. Alles het in viere gewerk. Vier keer per jaar het ons moeilike staproetes aangedurf, ver weg van huis en haard. Wanneer die weer nie saamgespeel het nie en ’n staptog uitgestel moes word, is ’n doppie of vier geneem. Die klub het bestaan uit vier lede: Arthur, die Engelsman; Paul, die Skot; William, die Ier en dan ekke as Boertjie – net vir goeie balans en om koers te hou tussen die Protestante en die Katolieke.

Goeie kennisse van die bergklimklub het roetes vir ons groepie ontsluit wat gewone drommels nie beskore was nie. Die Kouga, Gamka, Baviaans, Hanekam, Otter-wandelpad, noem maar op – ons was daar. Die Hanekam-berg is vir diegene wat nie bang is vir loodregte kranse of smal lysies nie. Op sommige plekke moet voetjie vir voetjie aangeskuif word met net vatplek vir ’n steweltoon op Moeder Aarde. Ondertoe, loodregte kranse. Boontoe, geen manier nie. Die enigste wyse is om versigtig met die lysie na die volgende kloof te skuif en van daar af weer die roete te volg.

Dis op dié lysie, tussen hemel en aarde, dat William een dag vasgehaak het en van hoogtevrees nie vorentoe of agtertoe kon nie. Ons moes sy bewerasie oorbrug met een man aan elke kant om skuifelend tot aan die ander kant te kom. Na die tyd het ons sy rugsak se inhoud verdeel, want die man se knieë het so geklap dat hy nie vrag kon vat nie.

In die eensaamheid van die Kouga of Baviaans was son­besies en voëlgesang dikwels die enigste geselskap. En die waterstrome se gekabbel. Selfs in die droogste tye het van die fonteine uit hul klipskeure aanhou loop om onder in die rivier­bedding as stroompie byeen te kom en die pad deur dryfhout en rotse see toe te vind. Die sagte kabbel van ’n helder waterstroom was altyd goeie nuus – want dan kon ’n waterbottel weer volgemaak word.

Verskuil tussen die kranse in die Baviaans was enkele sleu­telklowe. Só nou dat mens net een-een daardeur kon pas. Op sommige plekke was dit moontlik om met uitgespreide arms aan die engtes van twee berge te raak.

Dit is altyd koud in ’n sleutelkloof, want dit is ook die enigste deurkomplek vir die wind vanuit die Groot Karoo. Maar as jy deurdruk tot aan die ander kant, open ’n nuwe vallei met uitsigte tot aan die einde van die aarde.

Ou Neef, dis amper hoe die lewe werk. Soms met ’n swaar pak berg uit, soms oor angswekkende afgronde. Ander dae weer maklike soel middae in ’n varingryke kloof. Somtyds beurend deur ’n sleutelkloof om ’n nuwe vallei te ontdek. Hou aan met jou lewenstaptog. Soms voel die engtes van ’n sleutelkloof of die berge jou gaan toeval. Maar as jy aanhou beur vorentoe, wag ’n nuwe vallei vol skilderykranse wat wag om ontdek te word.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.