Snykouters op “direkte plant”-planter bepalend vir sukses

1831
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Die planter is sekerlik een van die belangrikste implemente in graanverbouing. As daar hier ’n fout insluip en die planter werk nie reg nie, kan dit eers weer met ’n volgende plantaksie reggestel word. Dit is dus noodsaaklik dat die planter so gestel word dat dit 100% reg werk.

Vir ’n “direkte plant”-planter (no-till-planter) wat met snykouters toegerus is, is dit baie belangrik dat die regte kouters geïnstalleer is en dat hulle reg gestel is. As hier fouteer word, kan die planter nie die saad diep genoeg geplant kry nie en sal die ontkieming nie goed wees nie. ’n Ander gevolg kan wees dat die wortelontwikkeling van die gewasse nie reg plaasvind nie, met die gevolglike benadeling van gewasopbrengste.

Die werkings van die snykouter
Die snykouter en die grond werk saam om die oesreste te sny. Die oesreste word met ’n skêraksie gesny, met die grond wat die onderste deel van die skêr vorm. Die beste snit word verkry waar die kouter die grond loodreg penetreer en parallel met die grond uitkom. Op dié manier word die skuif of gly van die oesreste beperk.

Gekartelde snykouters voldoen die beste aan hierdie vereiste. Die kartels kan die oesreste loodreg sny en die grond parallel verlaat. Verder vervul die kartels ’n ander belangrik funksie, naamlik die fynmaak van die grond. Dan kan die vooroopmaakskywe die perfekte V-vormige voor in die grond maak sodat die saad op die regte diepte vasgedruk word. Die snykouter veroorsaak dat die plantvoor ’n ferm bodem het, maar sag genoeg is sodat die plant se wortel dit gemaklik kan penetreer.

Die turbosnykouter veroorsaak ook dat die binnewande van die plantvoor nie smeer nie. Tog moet produsente daarop let dat smering wel kan voorkom as die grond nog te nat is.

Sommige van die snykouters kan óf met straalvormige kartels óf met raaklynige turbokartels toegerus word. Die straalvormige kartels werk goed in gronde met min oesreste, terwyl die turbokartels heelwat beter in staat is om baie oesreste te hanteer.

Die hoeveelheid kartels van die snykouter sal bepaal hoeveel die grond vermaal en vermeng word. Hoe meer die kartels, hoe meer die vermenging en andersom.

Pas net op: As die snykouter die oesreste in die grond indruk, kan dit groot probleme veroorsaak. Indien dit voorkom, moet die proses gestop word en die fout moet gesoek en reggestel word. Miskien is die grond of die stoppels nog te nat of die planter is met die verkeerde snykouters toegerus.

Keuse van die regte kouter
Elke tipe kouter het sy voordele en sy nadele. Dit is baie belangrik om te weet wat die doel van die kouter moet wees, hoe die grond saamgestel is asook hoeveel materiaal op die land is om sodoende die beste kouter te kies.

Die hoofdoel van ’n kouter op ’n “direkte plant”-planter is nie net om die oesreste voor die planterkarretjie te sny nie, maar ook om die grond voor te berei sodat die karretjie die saad diep genoeg in die grond kan plaas.

Daar is verskeie aspekte wat in aanmerking geneem moet word om die regte kouter vir die omstandighede te kies. Die grond se kleipersentasie is een van die belangrikste aspekte. In hoër kleipersentasiegronde is dit belangrik dat die snykouter meer kartels moet hê. In sanderige gronde kan die kouter minder kartels hê. Vir sandleemgronde is ’n turbosnykouter met tussen 20 en 30 kartels ideaal.

Gewoonlik werk dit so: Hoe meer kartels ’n snykouter het, hoe smaller is die kouter. Dit moet ’n voor in die grond sny wat wyd genoeg is sodat die saad gemaklik binne die voortjie geplaas kan word. Wanneer daar dus koring geplant word, behoort ’n snykouter met baie kartels gebruik te word.

By ander gewasse moet seker gemaak word dat die snykouter wyd genoeg werk sodat die saad reg geplant kan word.

Die stel van die snykouter
Voordat daar gestel word, maak eers seker dat die snykouter in lyn met die planter se plantvooroopmaker is. Die snykouter moet die grond so bewerk dat die plantvoor optimaal gemaak word.

Die werksdiepte van die snykouter is van kardinale belang. As die kouter te diep werk, kan dit veroorsaak dat gewasse se penwortels draai. Maak dus seker wanneer penwortelgewasse geplant word, dat die snykouter nie baie dieper as die plantdiepte werk nie. Wanneer daar gewasse met ’n bywortelstelsel verbou word, is die werksdiepte nie so belangrik nie. As die snykouter dieper as die plantdiepte werk, moet daar net seker gemaak word dat daar nie ’n lugruimte onder die saad ontstaan nie.

Gewoonlik moet die snykouter so gestel word dat ongeveer ’n derde daarvan onder die grond werk. Op dié diepte sal die kouter se kartels die grond reghoekig penetreer om sodoende die beste snyaksie te verseker. As die snykouter te veel slytasie op het, moet dit vervang word.

Maak ook seker dat die snykouter aan die planter se hoofraam gemonteer is. Hoe verder die snykouter van die plantervooroopmaker-kouters geplaas is, hoe beter sal die werking van die planter wees. Dit is belangrik dat die snykouter aan die raam gekoppel is sodat dit gestel kan word om die grond se hardheid te akkommodeer. Die feit dat die snykouter onafhanklik gestel kan word, veroorsaak dat die plantereenheid optimaal kan werk.

Dit is belangrik dat die snykouter ook oor veiligheidsmeganismes beskik om dit te beskerm as daar byvoorbeeld ’n klip in die grond is. Maak dus seker dat die veer wat die snykouter beskerm nie te styf of te slap gestel is nie.

Spoed van plant
Planterspoed is van uiterste belang. As die planter te vinnig plant, sal die snykouters geneig wees om die grond uit die voor te gooi. Dit sal daartoe lei dat ekstra vog verlore raak en dat die plantervooroopmaker ook te veel grond uitgooi. Waak dus daarteen om te vinnig in te nat grond te plant.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of pietmanbotha@gmail.com vir enige navrae.