Boereplanne grootste en beste ooit

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 9 Junie 2023

500

Graan SA, Omnia en Landbouweekblad se Boereplanne-kompetisie wat reeds vir 35 jaar aangebied word, het hierdie jaar ’n rekordgetal inskrywings (61) gelok. In die lig hiervan het Omnia vanjaar se prysgeld met 50% verhoog.

Chris Schoonwinkel, wat vir jare namens Graan SA met die kompetisie gemoeid was, sê die gehalte van die inskrywings is dié jaar ook die hoogste ooit. Die meeste van die inskrywings het op een of ander manier verband gehou met die huidige kragkrisis.

Graan SA-voorsitter, Derek Mathews, het by die prysoorhandigingsgeleentheid gesê hierdie kompetisie beklemtoon die Suid-Afrikaanse produsent se ingesteldheid. Hier “maak ’n boer ’n plan”. Hy het bygevoeg dat hy hierdie ingesteldheid nog nooit by produ­sente in die res van die wêreld teëgekom het nie.

Die organiseerders wil veral voortaan daarop fokus om meer betrokkenheid van die jeug te kry en spesiale pryse hier is nie uitge­sluit nie.

Wenners

  • Afdeling A – Nuwe masjinerie, implemente en landboutoerusting: Pieter Louwrens, Reitz – draadspanmasjien
  • Afdeling B – Masjinerie, implemente en landboutoerusting: Cobus van Coller, Viljoenskroon – mobiele sonpaneelpomp
  • Afdeling C – Alle gereedskap – elektries en nie-elektries: Bertus Goosen, Botswana – domkrag
  • Afdeling D – Huis en tuin: Ben van Eeden, Edenville – hamburger­pattie-drukker
  • Skole-afdeling: David de Wet, Ermelo – Hekmeester
  • Ope-afdeling: Etienne Zeeman, Swellendam – watervlakmeter

’n Spesiale prys is aan Janneman Heyns van Rouxville uitgeloof vir die selfoontoepassing wat hy ontwerp het om sy skaapkudde te bestuur. Dit was die eerste keer ooit dat so ’n tegnologies gevorderde inskrywing ontvang is.

Die negejarige David de Wet, ’n graad 4-leerder aan Laerskool JJ van der Merwe in Ermelo, het skoonskip in die skole-afdeling gemaak met sy “Hekmeester”. Hy en sy oupa Ben het hierdie plan beraam om “bekslaner”-hekke te fnuik. Klein David is skaars ’n baksteen hoog, maar is reeds ’n wafferse verkoops­man wat aan SA Graan/Grain vertel het dat sy produk R250 elk kos, maar dat daar ’n gratis produk wag op dié wat tien koop. Hier skud hy blad met dr Pieter Taljaard (HUB: Graan SA).
Ernst van Zyl boer in Calvinia met skape. Tydens die uitgerekte droogte in die Karoo het hy erge skade gely weens bobbejane wat lammers vang, die pens oopskeur en vreet. Die enigste manier waarop hy die bobbejane kon verwilder was om self met sy geweer daar te wees. Siende dat dit ’n saak van onmoontlikheid is, het hy en ’n ingenieursvriend vir “Jan Gun” geskep. Jan is ’n lewensgetroue glasveselpop met glasoë en ’n geweer (want Kees se kind is slim) wat deur middel van ’n sonpaneel ronddraai en selfs via ’n 1 000 watt-klank­ver­sterker op die bobbejane skree om hulle te verwilder. Jan Gun doen sy werk uitmuntend en Ernst (wat ’n derde plek in die ope-afdeling verwerf het) het reeds landswyd sowat 40 van hulle verkoop.
Hoërskool Bultfontein het vanjaar ’n spesiale poging aangewend en drie van hul leerders se planne is wenners in die afdeling vir skole. Hier is AC Janse van Rensburg (16) wat met die hulp van sy onderwyser, GB Marx, ’n toestel ontwerp het om die ligte van sleepwaens te toets. Dit het vir hom ’n derde plek besorg. AC neem landboutegno­logie as vak.
Bertus Goosen (62) van Matlakang in Botswana is al ’n ou bekende by die Boereplanne-kompetisie. Vanjaar was geen uitsondering nie – hy het ’n handvol planne ingeskryf en ook na­tuurlik met ’n hele klompie pryse weggestap. Bertus, wat voorheen ’n elektrisiën was, sê hy neem al 23 jaar deel. Mense in sy omgewing kom na hom met probleme en hy ontwikkel produkte om dit op te los. Hy het voorheen heelwat planne ingeskryf wat met sonkrag te make het, maar dit raak al hoe moeiliker om met dié toestelle oor die grens te kom. Hy het nog nooit enige produk gepatenteer nie, hoewel hy jare gelede sy sopiemeter internasionaal wou patenteer. Die hele proses het egter ’n “pot vol geld” gekos en Bertus het dit maar gelos. Hier is hy met een van sy 2023-inskrywings – ’n domkrag wat 2 ton van die grond af kan optel.