Pioneer se nuwe droëlandkultivar wys sy staal

Johan Kock, produklandboukundige, Pioneer
Gepubliseer: 1 November 2024

340

Betroubaarheid, stabiliteit en veral aanpasbaarheid van nuwe kultivars is van uiterste belang vir suksesvolle mielieverbouing. In ’n omgewing van konstante nuwe agronomiese benaderings en as gevolg van die on­voorspelbaarheid van klimaat (reën en temperatuur) word gemoedsrus ernstig beproef. Beperking van risiko is om die beheerbare te beheer – en dit raak toenemend belangrik.

Beheerbare faktore is die tipe wisselboustelsel, die grond se fisiese en chemiese toestand, keuse van geografiese ligging ten opsigte van produkplasing, plantdatum, tydigheid, plantdiepte, plantpopulasie, rywydte, asook die praktiese implementering met beskikbare implemente. Die bestuur van insekte en plantsiektes is ook belangrik.

Kultivarkeuse – ’n kardinale besluit wat berus op die volgende:

  • Opbrengspotensiaal
  • Meerkoppigheid
  • Produktiewe spruite
  • Genetika
  • Staanvermoë
  • Kophoogte
  • Blaar-, wortel- en kopsiekteverdraagsaamheid
  • Aanpasbaarheid by wisselvallige temperatuur
  • Reënvaltoestande
  • Uitermatige grondverskille
  • Populasie-aanbevelings

Watter tipe gemoedsrus bied ’n sekere genetiese platform hiervoor?

Data
Meerjarige strookdata van P2885WBR (VTP-weergawe) wys dat hierdie genetiese platform wel aan hierdie vereistes voldoen. Dit is met opgewondenheid dat die PowerCoreTM-weergawe, bekend as P2885WPW, by Pioneer se witkultivarpakket vir die weste gevoeg word. PowerCoreTM bied beskerming van die plant teen mieliestronkboorder. Dit pas perfek in ’n stelsel waartydens Roundup gebruik word.

Teen hierdie agtergrond wil Pioneer graag P2885WPW as PowerCoreTM-toevoeging tot die genetiese platform bekendstel.

Die swart lyn in Grafiek 1 verteenwoordig P2885WPW, gelykge­stel aan nul in terme van die verskil in kilogram per hektaar relatief tot ander kultivars.

Impact-data in die westelike produksiegebied toon dat P2885WPW uitstekende genetiese stabiliteit toon. P2885WPW klop die VTP-weergawe (P2885WBR) naelskraap met 21 kg/ha (13 lokaliteite). Toevoeging van die nuwe PowerCoreTM-tegnologie het niks van die merkwaardige opbrengsprestasie en stabiliteit van die genetiese platform ontneem nie.

Inteendeel vergelyk P2885WPW baie goed met die gedugte kompetisie “A” en kompetisie “B”. Die kultivar klop kompetisie “A” met 98 kg/ha (31 lokaliteite) en verloor met slegs 82 kg/ha teen kompetisie “B” (30 lokaliteite). P2885WPW presteer op gelyke voet teen topverkoperkultivars. Wat die oorweging van P2885WPW bevoordeel, is die merkwaardige graankwaliteit en uitstekende staanvermoë wat hierdie produk onderskei.

Indien PowerCoreTM-produkte vergelyk word, klop P2565WPW wel vir P2885WPW oortuigend met 454 kg/ha (13 lokaliteite). Aan die ander kant klop P2885WPW weer vir P2849WPW met 84 kg/ha (29 lokaliteite). Hier is dus drie wit Pioneer-kultivars wat as stalmaats in die weste aangewend kan word. Dit verseker aanpasbaarheid, stabiliteit en risikoverspreiding in ’n pakket. Dit is noodsaaklik in ’n reeds onvoorspelbare klimaatsomgewing en boesem gemoeds­rus in.

Die PowerCoreTM-tegnologie bevat die Roundup-geen. Dit pas uitstekend in ’n Roundup-bestuurstelsel, en bied gelyktydig be­skerming teen mieliestamboorder.

Agronomiese eienskappe
Die meerkoppigheidsindeks is 1,76. Koppe is nie ewe groot nie, maar ontwikkel relatief gelyk. P2885WPW is ’n mielieplant wat baie kan spruit indien toestande daarvoor geskik is. Die spruite is 24% tot 60% produktief, wat dui op genetika met sterk uitdrukking van meerkoppigheid. Dit bied uitstekende graankwaliteit met ’n bogemiddelde skepelmassa.

Saalinggroeikrag is aanvaarbaar. Die gevolg is die uniforme opkoms van saailinge wat die beste aanslag vir opbrengs as fondament verskaf. Staanvermoë is uitstekend.

Plante is nagenoeg 2,23 m lank met koppe wat so teen 51% van die plantlengte gedra word. Met koppe wat 1,13 m hoog gedra word, is die produk maklik stroopbaar
(Tabel 1).

Samevatting
P2885WPW is ’n kultivar wat antwoorde bied om risiko te beperk. Dit verleen uitstekende mededinging as dit kom by opbrengs. Dit is veral die stabiliteit en aanpasbaarheid as gevolg van die goeie flex-kompensasievermoë van die genetiese platform wat dit ’n aanbeveling maak. Gesien teen die agtergrond van uitstekende agro­nomiese eienskappe, behoort P2885WPW deel te vorm van enige witmieliekultivarpakket wat in die westelike produksiegebied onder droëlandtoestande geplant word.

Plantpopulasies van 25 000 tot 32 000 plante/ha in hoëpoten­siaaltoestande en 23 000 tot 28 000 plante/ha by laepotensiaaltoestande is geskikte populasie-aanbevelings. Die genetika presteer goed op alle grondtipes, maar veral op sandgronde. Enige ry-konfigurasie (0,9 tot 1,5 m-rye) is aanvaarbaar.

Vir meer inligting, kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com of www.pioneer.com/za.