Koster-studiegroep gaan groot

Pietman Botha, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 1 Oktober 2020

2089

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg! Die Koster-stu­diegroep, wat 50 jaar gelede in 1970 gestig is, het besluit om ter viering van hierdie groot mylpaal die bykans onmoontlike te vermag. Hulle wou op een dag 1 000 ton mielies stroop en dit ook op een dag by die plaaslike silo lewer.

Die groot taak is met presisie beplan en 18 van die lede se stro­pers is op 24 Julie 2020 aangewend om die 150 ha-studiegroep­mielies te stroop. Sowat 958 ton mielies is die volgende dag op lede se vragmotors gelaai en by NWK se Koster-silo gelewer.

SA Graan/Grain het by die studiegroep gaan inloer om meer oor hul werksaamhede uit te vind.

Die Koster-studiegroep werk saam om 150 ha in ’n dag te stroop.

Waarom is die studiegroep gestig?
Die oorspronklike doel van hierdie studiegroep was om die plaaslike gemeenskap se ooreenstemmende landbouprobleme prakties te probeer oplos en om inligting onder mekaar te deel. Oor tyd is daar verskeie belangrike sake ondersoek en heelwat proewe is aangeplant en ontleed. Aspekte is bespreek en oplossings vir probleme is met mekaar gedeel en geïmplementeer om sodoende die welvaart van die gemeenskap te verhoog. Deur samewerking en omdat almal hul deel bygedra het, is die werk lig gemaak en kon almal deel in die voordeel wat verkry is.

Waarop fokus die groep tans?
Op die oomblik fokus die studiegroep op produksie-inligting deur bemesting, kultivarkeuse enonkruidbeheer na te vors. Hierdie distrikstoepaslike navorsing word gedoen deur die werk te verdeel en saam te werk om sodoende die beste resultate te verkry. Wins­gewendheid van die boerdery is ’n sentrale tema wat deurentyd in aanmerking geneem word.

Gedurende die jaar is daar gereelde vergaderings waar aktuele sake asook alle aspekte wat die boerdery raak, bepreek word. Deur die ledetal te beperk, word verseker dat die lede hul kant bring en gereelde bywoning van studiegroepdae is ’n vereiste. Almal moet daar wees om hul insette te gee en sodoende die beste oplos­sings vir probleme te vind. Produsentetoere is ook ’n uiters suksesvolle metode wat gebruik word om toepaslike inligting in te samel, terwyl vriendskappe terselfdertyd gesmee en versterk word. Om mekaar se belange op die hart te dra, bind ook hierdie groep besonder goed saam en onder die bekwame leiding van die ou sowel as die huidige bestuur het die studiegroep oor tyd heelwat hoogtes bereik.

In die toekoms beplan die groep om voort te gaan om die hoë standaarde wat gestel is, te handhaaf en om die gemeenskap soos altyd te dien. Die fokus bly op volhoubare graanproduksie en die effek van vee sal ook hierby ingesluit word.

958 ton mielies is op een dag by die NWK-silo in Koster gelewer.