Skraalhanse – een van SA se grootste probleemonkruide

8974
Dr Maryke Craven,
LNR-Graange-wasse: Potchefstroom
Marlene van der Walt, 
LNR-Graange-wasse: Potchefstroom
Dr Jeanetta Saayman-du Toit, LNR-Graange-wasse: Potchefstroom

Tydens ’n meningspeiling wat onlangs deur die LNR-Graangewasse gedoen is onder ’n groep van 41 kommersiële produsente afkomstig van Mpumalanga, die Noordwes Provinsie en die Vrystaat, is skraalhanse (of armoedskruid) aangewys as die nommereenonkruid waarmee produsente dikwels stoei.

In hierdie artikel sal daar gepoog word om aan produsente ’n oorsig te gee rakende die biologie van hierdie onkruid, asook hoekom dit in die meeste gevalle onsuksesvol beheer word.

Ongeveer 15 verskillende Conyza spp. kom in Suid-Afrika voor, waarvan Conyza canadensis (Kanadese skraalhans), C. bonariensis (kleinskraalhans) en C. albida (vaalskraalhans) al drie ekonomies belangrike onkruide is. Kleinskraalhans en tot ’n mindere mate Kanadese skraalhans word beskou as baie belangrike onkruide onder veral minimum- of geenbewerking (Foto 1a en Foto 1b).

Verder is daar gedurende 2003 parakwat- en glifosaatweerstandige populasies van klein­skraalhans in boorde en wingerde in die Wes-Kaap geïdentifiseer. Sedertdien hou onkruidkundiges en produsente landswyd asem op om te sien wanneer en waar daar nog gevalle van weerstandige skraalhanspopulasies gaan opduik.

Bietjie meer oor skraalhanse
Skraalhanse is geharde, semihoutagtige onkruide. Hulle word gesien as hoofsaaklik winteronkruide wat laat in die seisoen ontkiem wanneer gewasse al fisiologies ryp is, maar nog nie geoes nie. Skraalhanssaailinge se blare vertoon heldergroen, terwyl die ouer blare van volwasse plante meer grysgroen van kleur is. Hul vaal voorkoms en wit pluimagtige blomme (Foto 2) is kenmerkend. Blaarrande is getand en harig wat die opneem en binnedring van na-opkomsonkruiddoders bemoeilik (Foto 3).

Verspreiding vind slegs deur saad plaas. Alle skraalhansspesies produseer groot hoeveelhede saad (tot 200 000 sade per plant) wat oor lang afstande deur die wind versprei word. Navorsing het getoon dat hierdie saad nie dormant is nie. Dit beteken dat dit enige tyd vandat dit gestort is, sal ontkiem mits die omgewingstoestande gunstig is.

Die optimum ontkiemingstemperatuur vir beide Kanadese skraalhans en kleinskraalhans is tussen 20ºC en 25ºC. In gematigde streke sal hierdie spesies van tyd tot tyd (na gelang van die omgewingstoestande) ontkiem vanaf herfs tot lente. Die plante oorwinter in die rosetgroeistadium (Foto 4), waarna die sentrale stam begin verleng.

Hierdie oorwinterende rosetplantjies kompeteer sterk met ontkiemende plante. Die saad van hierdie onkruid word ryp binne drie weke na blom en bly lewensvatbaar vir tussen twee tot drie jaar.

Om die verskillende skraalhansspesies op saailingstadium te onderskei, is baie moeilik weens die oorvleueling van morfologiese eienskappe (Foto 5). Kundiges moet in hierdie verband genader word om te verseker dat die korrekte spesies geïdentifiseer word vir optimale beheer.

Redes vir swak onkruidbeheer
Verskeie faktore kan bydra tot swak beheer van skraalhansspesies. Die toediening van byvoorbeeld glifosaatdosisse wat voldoende is vir die beheer van meer vatbare onkruide, maar onvoldoende vir die beheer van skraalhansspesies, lei daartoe dat onkruidkompetisie verwyder word. Slegs fisiologiese stremming word in goed ontwikkelde, gelignifiseerde skraalhansplante veroorsaak.

Kundiges noem dat hierdie geaffekteerde skraalhansplante, wat nie meer aktief groei nie, dan nie so vatbaar sal wees vir enige verdere onkruiddodertoedienings nie. Die stremmingstoestande waaronder die skraalhansplante verkeer, ontlok verder ook die reaksie om oorvloedig te blom om sodoende die voortplanting en voortbestaan van die spesie te verseker. Dit alles lei daartoe dat daar ’n skuif in onkruidspesies plaasvind ten gunste van die skraalhansspesie. Die gevolg is ’n toename in skraalhansinfestasie op die plaas.

Die toediening van twee of meer onkruiddoders opeenvolgend of in ’n tenkmengsel, is ’n algemene praktyk. Dit het ten doel om die onkruidspektrum wat beheer word te vergroot, om insetkoste te beperk en/of om die ontstaan van weerstandige onkruide te verhoed. Sulke onkruiddoders kan egter mekaar se werking beïnvloed – wat sinergisties, antagonisties of additief van aard kan wees.

Anders gestel kan die wyse waarop hierdie twee of meer onkruiddoders op mekaar inwerk, daartoe lei dat hul uiteindelike effektiwiteit groter, swakker of gelykstaande aan die som­totaal van hul aparte werking sal wees.

Internasionaal word gemaan dat antagonisme/sinergisme byvoorbeeld kan voorkom wanneer die intervalle van opeenvolgende onkruidtoedienings te na aan of te ver van mekaar is. Daar is byvoorbeeld gevind dat wanneer die interval tussen opeenvolgende bespuitings glifosaat en 2,4-D langer as drie dae was, die beheer van kleinskraalhans afgeneem het. Etiketaanwysings moet noukeuring gevolg word om te verseker dat onkruiddoders wat in tenkmengsels toegedien word, wel geregistreer is om so toegedien te word.

Die toediening van onkruiddoders onder toestande wat nie optimaal is vir opname deur die plant nie, sal verder ook bydra tot swak beheer. Onder droogtestremmingstoestande sal die huidmondjies van die onkruid geslote wees en die sistemiese aktiwiteit van die onkruid minder – wat lei tot swak beheer.

Toediening van glifosaat tydens groeistadia waar die on­kruid ’n hoër toleransie teen dié onkruiddoder besit, is die laaste en algemeenste rede vir swak beheer. Navorsers het gevind dat die vatbaarheid van beide weerstandige en vatbare skraalhanspopulasies afhanklik is van die groeistadium van die onkruid, met die dosis wat vereis word vir die beheer van die onkruid wat toeneem soos wat die plant fisiologies groei.

Effektiewe beheer van skraalhanse
Die beheer van skraalhanse het baie uitdagings, waarvan die hoofprobleem gesetel is in die feit dat ontkieming laat in die seisoen plaasvind, terwyl die gewasse nog nie geoes kan word nie. Kundiges is dit eens dat waar hoë infestasievlakke voorkom, dit van kritieke belang is dat beheer toegepas word voordat die onkruide kans kry om in die winter te blom.

Weens die probleme wat skraalhanse inhou onder minimum- of geenbewerkingspraktyke, sal dit oorweeg moet word om tog een maal elke drie jaar ’n bewerking in te sluit.

Produsente kan effektiewe beheer verder verseker deur eerstens al die gemelde slaggate wat tot oneffektiewe beheer lei, te vermy. Chemiese beheer kan toegepas word met na-opkomsdoders soos parakwat, 2,4-D, MCPA en glifosaat.

Die beste beheer word verkry met ’n tenkmengsel van glifosaat en 2,4-D, MCPA of saflufenacil wanneer onkruide nog in die rosetvorm is. Etiketinstruksies moet in hierdie verband nou­keuring gevolg word. Soos genoem, word swak chemiese beheer verkry met na-opkomsdoders wanneer plante te groot raak en begin saadskiet.

Onkruiddoderweerstandige populasies
Soos genoem is onkruiddoderweerstandige populasies van skraalhansspesies reeds in Suid-Afrika aangeteken. Wanneer chemiese beheer wat op die regte tyd asook teen die regte dosis toegedien is, steeds swak beheer tot gevolg het, moet produsente die relevante chemiese maatskappye daarvan in kennis stel sodat die weerstandige skraalhanspopulasies verder ondersoek kan word.

Produsente is welkom om die onkruidnavorsingspan by LNR-Graangewasse te kontak by 018 299 3646.