In die skadu van ’n reus

Gepubliseer: 1 Augustus 2022

45

Beste Grootneef

Om te ruil is mos in ons bloed. Dit kom van die voorgeslagte af. Twee guldens vir tien tulpe. Of een swyn vir tien mudsakke gars. Wat van ’n passaat met ’n skuit oor die Engelse kanaal vir sewe balies vars gebroude lager?

Só het ons voorgeslagte, naas die wynbedryf, ook die ruilbedryf na die Suidland verskeep. Jan van Riebeeck en sy span het egter gou geleer dat ruilery nie altyd so eenvoudig was nie. Hy was skaars aan wal, toe is sy paar Merino’s skoonveld, die Helderberg oor! Nou ja, in vandag se dae is “om te ruil” nog net so ’n groot ding. Soms het jy egter nie ’n keuse van wat jy wil ruil nie. Die transaksie is dan redelik eensydig – soos ’n handvol tolmunte vir ’n pad vol gate. Net die tollenaar voel tevrede.

Een van die beste ruiltransaksies wat ek in die Volk se blad raakgelees het, was min of meer die volgende: “Een twee-mantent te ruil vir ’n carry cot.” Jy kan maar sê die paartjie was besig om hul op te werk in die lewe.

’n Ruiltransaksie wat gesorg het vir ’n huismoles, was toe ek die volgende in die plaaslike Skreebek-koerantjie geadverteer het: “Een bakkiekappie vir ’n bottel Klipdrift Premium” – met Vroulief se telefoonnommer daarby. Nodeloos om te sê, het die manne tougestaan om dié transaksie te beklink. My ore tuit nou nog.

Ou Neef, maar die grootste ruiltransaksie ooit het in die vroeë jare tagtig plaasgevind. Die agtergrond van dié meesterskuif moet ook verstaan word teen die politiek en stryd van die tyd. Niemand wou eintlik destyds met die Republiek besigheid doen nie. Boonop was die grensoorlog tot diep in Angola in volle swang.

Op die front het die Sowjetunie se raadgewers, Kubane en ander magte plek-plek met die ou Suid-Afrikaanse Weermag gebots. En Roemenië was tegnies gesproke deel van die Oosblok-lande, maar met hul eie moeilikheid, omdat hulle nie mielies op die wêreldmark kon kry om een miljoen varke (húlle stapelvoedsel) te voer nie.

Tussen die doolhof van konflik deur het ’n paar manne die visie gehad om mielies uit die Republiek aan die Roemeense owerhede aan te bied. Kan jy jouself indink watter moed dit moes verg om ’n tog na Boedapest aan te durf en deur taal- en kultuurgrense te breek om só ’n transaksie te gaan toets? Een van die oudstryders vertel dat toe hulle op Boedapest land, daar oral gewapende soldate ontplooi was, maar dat die groepie Suid-Afrikaners gul ontvang is en met spoed óm die doeane gelei is – as eregaste in hierdie vreemde land.

Na die groot mielie-oes van 1981 was daar ’n reusesurplus in die Republiek. Op die ruiltafel in Boedapest was wapens of ureum uit Roemenië. Twee vreemde volke, maar met ’n gemeenskaplike visie om ’n kloof te oorbrug. Die transaksie is amper verongeluk deur ’n ontydige Sondagkoerant met ’n hoofopskrif dat ’n span produsente uit Suid-Afrika met “kommuniste” besigheid wil doen.

Gegewe die grensoorlog wat toe op alle vlakke eskaleer het, het die berig baie druk op die voorgenome ruiltransaksie ge­plaas. Die knoop vir die grootste landbouruiltransaksie ooit is uiteindelik in Murten, Switserland, deurgehak. En nie sommer so van instap en hande skud nie. Eers na ’n week van heen-en-weer armdruk tot in die laat nagte, kon al die ruilsakkies uiteindelik één vir één toegeknoop word. Die finale ooreenkoms het dit moontlik gemaak dat vragte vol mielies vir ureum oor die diep water na die ooreengekome hawens verskeep is. In totaal 204 880 ton geelmielies vir 208 000 ton ureum!

Vir die Suid-Afrikaanse span was die ruiltransaksie die spreekwoordelike twee vlieë met een klap, want hoër mieliepryse was moontlik nadat die surplus weggewerk is, met laer bemestings­pryse vir plaaslike produ­sente. Ja, 007 en sy trawante kan maar in die Vrystaat kom leer hoe. Hoede af vir die span oudstryders wat in toeka se dae die onmoontlike reggekry het!

Ou Neef, iets om te onthou as julle weer deur Bothaville ry. Wanneer jy die teken van die Von Abo-gebou in die hoofstraat sien, stop en stap in. Jy sal die unieke geleentheid hê om die hand van ’n legende te skud en net vir ’n oomblik in die skadu van ’n reus te staan. En dan kan jy weer die pad huis toe vat en die manne gedenk wat die pad vir vandag se mielieboere oopgebreek het.

Groete

Hierdie rubriek het in die Junie 2016-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn en word vandeesmaand weer geplaas ter nagedagtenis aan Crawford von Abo wat in Junie vanjaar oorlede is.

As destydse voorsitter van die Mielieraad was hy instrumenteel in die ruiltransaksie waarvolgens Suid-Afrikaanse mielies vir ureum uit Roemenië geruil is.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.