Uitdagings lei tot BOEREPLANNE

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 Junie 2024

113

Soos altyd was Graan SA, Omnia Nutriology en Landbouweekblad­ se Boereplanne-kompetisie ’n gewilde stopplek vir Oesdagbesoekers. Dit was vanjaar die 37ste keer dat dié kompetisie, waar vindingryke planne ten toon gestel word, aangebied is. Omnia het 36 jaar gelede as hoofborg betrokke geraak en Landbouweekblad het vier jaar gelede as mediaborg aan boord gekom om meer blootstelling aan die kompetisie te gee.

Tydens die prysuitdeling het Derek Mathews (voorsitter van Graan SA) gesê dat die kompetisie sinoniem met NAMPO is. Hy het die deelnemers gelukgewens met hul innoverende denke en gesê hulle leef die gawe van entrepreneurskap uit. Louis Strydom van Omnia het al die uitstallers, beoordelaars en die span van Omnia wat agter die skerms werk vir hul insette bedank. Piet Groenewald van Omnia is uitgesonder vir sy betrokkenheid oor 28 jaar by die kompetisie. Hy was vir jare as beoordelaar betrokke en tree vanjaar uit.

Bertus Goosen van Botswana is ’n bekende gesig by die kompetisie. Vanjaar het hy en sy dogter, Nicolene, ’n totaal van ses pryse ontvang – vier eerste plekke en twee tweede plekke. Vir die Goosens is planne maak deel van die daaglikse lewe in Matlakeng, aangesien hulle nie veel hulpmiddele tot hulle beskikking het nie.

Die sanderige plaaspaaie het gelei tot een van Nicolene se weninskrywings – ’n lugdrukdomkrag. Die 18-jarige, wat al sedert 2015 deelneem, het verduidelik hoe moeilik dit is om ’n domkrag onder ’n pap wiel in te kry as ’n mens daar teëspoed optel. Met dié patent word ’n gewone tweelitergaskoeldrankbottel wat platgedruk is, onder die wiel ingedruk en met behulp van een van haar pa se ou kompressors opgepomp tot 4 bar. Dit verskaf die no­dige spasie vir die domkrag en kan voorwerpe van tot 4 ton oplig. “Ek geniet dit om dinge uit te dink as daar ’n uitdaging opduik,” vertel sy.

2024 se wenners

  • Afdeling A: Nuwe masjinerie, implemente en landboutoerusting: Vuurvegter van Bertus Goosen van Botswana
  • Afdeling B: Masjinerie, implemente en landboutoerusting: Elevator-waentjie van Gert van Tonder van Reitz
  • Afdeling C: Alle gereedskap – elektries en nie-elektries: Lugdrukdomkrag van Nicolene Goosen van Botswana
  • Afdeling D: Huis en tuin: ’n Frikkadeldrukker van Bertus Goosen
  • Afdeling E: Ope-afdeling: Hamermeuldeksel van Nicolene Goosen
  • Afdeling F: Skole-afdeling: Spoormeester van David de Wet van Ermelo, die 10-jarige wat verlede jaar met sy hekmeester gewen het.

Graan SA het ook ’n kommersiële prys toegeken aan Ferdi Bouwer van Groblersdal vir sy polecat. Dié peutervrye hekmotor word in ’n staalpaal van die hek ingebou sodat dit glad nie soos ’n hek­motor lyk nie. Dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navor­singskoördinering by Graan SA, het die prys – wat ’n uitstalruimte by NAMPO 2025 behels – aan Bouwer oorhandig.

Lourens Jacobs van Secunda het ’n spesiale prys vir sy deelname ontvang vir die ontwerp van ’n stompklower. Dié student verdien sakgeld deur vuurmaakhout te verkoop en sy ontwerp maak dit makliker om houtstompe te saag.
Nicolene Goosen van Botswana by die lugdruk-domkrag waarmee sy ’n eerste plek ingepalm het.
Bertus Goosen van Botswana was die wenner in twee kategorieë. Hier ontvang hy sy prys van Derek Mathews, voorsitter van Graan SA.
Dr Dirk Strydom, hoof: NAMPO, Bemarking en Navorsingskoördinering by Graan SA, oorhandig ’n prys aan Ferdi Bouwer wat die Polecat ontwerp het. Ferdi het ’n uitstalruimte by NAMPO 2025 gewen.
Die jong David de Wet van Ermelo het die land aan die gons gehad met sy hekmeesterontwerp in 2024. Vanjaar het hy met sy spoormeester weer die eerste plek behaal in die Skole-afdeling.
Gert van Tonder by sy Elevator-waentjie, ’n hystoestel wat met ’n battery werk en tot 4 meter hoog gehys kan word.