Media beleef sukses van KZN- en Oos-Kaap-projekte eerstehands

Hanlie du Plessis, SA Graan/Grain medewerker

28

Ontwikkelende landbou en sy boere lê my baie na aan die hart. Ongeveer vyf jaar gelede het ek vir die eerste keer kennis gemaak met Graan SA se “From Subsistence to Abundance”-ontwikkelingsprogram.

Ek onthou soos gister hoe daardie kleinboere met hul mielielande gespog het en vol emosie vertel het hoe hul lewens verander het vandat hulle deel geword het van die program. Ek het gehoor dat niemand meer honger hoef te gaan slaap in gemeenskappe waar die meeste van die inwoners ver onder die broodlyn lewe nie en dat daar selfs nou genoeg geld was om die kinders skool toe te stuur. Dit het my oortuig dat Me Jane McPherson (bestuurder: Ontwikkelende Landbou, Graan SA) en haar span op die regte pad was.

Ongelukkig is ontwikkelingsprogramme vir boere maar selde suksesvol in ons land. Menige insetverskaffer en georganiseerde landbougroep het al met groot entoesiasme hul oplossings vir die ontwikkelende landbou van stapel gestuur – net om na ’n jaar of twee stil-stil dood te loop. Daar is net soveel redes vir hierdie mislukkings as wat daar projekte was.

Juis daarom was ek versigtig opgewonde toe ek onlangs weer, as deel van ’n mediagroep, genooi is om ’n paar bestaansboere wat deel is van die “Subsistence to Abundance”-program in die kommunale gebiede van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, te besoek.

Vyf jaar later
Amper vyf jaar later en “Subsistence to Abundance” kon ook al deel geword het van die mislukkingstatistiek – maar die teendeel is waar. Ons eerste stop was by Oliviershoek in die Bergville-distrik. ’n Groep van 24 kleinboere het ons met vreugde ontvang en ons genooi om hul studiegroepbyeenkoms by te woon.

Mnr Zamokwakhe Nathaniel Khoza, die leier van die groep, het met trots opgestaan om aan almal te vertel hoe dié ontwikkelings­program hul lewens verander het. Sy woorde was: “Ons is so dankbaar vir Graan SA en sy vennote wat ons tot hier gebring het. Hier op Oliviershoek gaan slaap niemand honger nie. Ons produseer genoeg om ons families heeljaar te voed en het boonop nog ’n surplus wat ons kan verkoop. Met die geld wat ons só verdien, kan ons nou baie dinge bekostig wat voorheen vir ons onmoontlik was. Sonder die program sou ons dit nie kon doen nie.”

Een vir een het van die ander lede opgestaan om te vertel hoe dankbaar hulle is en om Graan SA en hul mentor se lof te besing. Die groep se twee grootste bekommernisse was dat die program om een of ander rede gestaak sou word en dat daar nie genoeg jongmense in die omgewing is wat in landbou belangstel nie. Hulle het egter groot planne om meer uit die waardeketting te haal en te diversifiseer.

Van nader beskou
Ons het ná die vergadering van die kleinboere se lande besoek. Alhoewel hierdie gesaaides onder erge droogte deurgeloop het, kon ’n mens duidelik die verskil sien tussen die lande van “From Subsistence to Abundance”-lede en dié wat nog nie by die program aangesluit het nie. Laasgenoemde het nog nie toegang tot die beste saad, kunsmis, chemikalieë en inligting oor goeie boerderypraktyke nie – en gaan ooglopend kleiner oeste afhaal.

Passievolle trots en dankbaarheid het soos ’n goue draad deur al ons besoekpunte geloop. Ek het met hoendervleis geluister hoe ’n groep vroue ons met uitbundige dans en Xhosa-sang verwelkom (nadat hulle ure lank vir ons gewag het). Ek kon die taal nie verstaan nie, maar die totale oorgawe en die woorde “Grain SA” in hul liedere het hulle dankbaarheid duidelik weerspieël. Wat ’n voorreg om dit te kon beleef!

Wat maak die program anders?
Dit laat ’n mens wonder – wat maak Graan SA se boerontwikkelings­program anders? Waarom is hierdie program so ’n groot sukses? Wat veroorsaak dat “From Subsistence to Abundance” gegroei het van 850 tot 5 251 lede en dat dit steeds só ’n positiewe impak op hierdie boere se lewens maak?

Jane sê dat hulle eers indringend moes kyk na die struikelblokke wat dit moeilik maak vir beginnerboere om suksesvol te boer. Hulle het besef dat dit van kardinale belang was om vir elkeen van hierdie struikelblokke ’n oplossing gereed te hê.

Geld is altyd ’n kwessie. Sonder voldoende finansies kan geen boer toegang tot die nuutste en beste insette en meganisasie verkry nie. Omdat die meeste van die bestaansboere nie titelaktes het vir die grond wat hulle bewerk nie, is dit vir hulle bykans onmoontlik om finansiering by kommersiële banke te bekom.

Alhoewel die program met behulp van sy vennote insette subsidieer om dit sodoende meer bekostigbaar vir die kleinboer te maak, rus die onus steeds op die boere om met min of meer die helfte van die produksiekoste per hektaar aangeplant vorendag te kom. So het die totale finansiële bydrae van die betrokke beginnerboere van R3 633 750 in die 2015/2016-seisoen na ’n stewige R25,5 miljoen vanjaar, gegroei.

Kennis en vaardighede is die volgende groot probleem en daarom is dit ’n vereiste dat elke boer wat deel wil wees van die program, ’n lid van Graan SA en ’n studiegroep moet wees. 26 mentors is landwyd aangestel wat boeredae en opleidingsessies aanbied, studiegroepe besoek en toespreek en die boere met raad en daad bystaan gedurende planttyd en in die vroeë groeistadium.

Passievol
Die werklike sukses van Graan SA se “From Subsistence to Abundance”-ontwikkelingsprogram lê egter in passievolle betrokkenheid. Die toegewydheid van Jane en haar personeelkorps van oor die 100, die vrygewige betrokkenheid van die vennote, en laaste – maar nie die minste nie – die deursettingsvermoë en harde werk van elke kleinboer om die beste moontlike opbrengs per hektaar van die grond tot hul beskikking te oes, gee gesamentlik die deurslag.