Gerda de Kock from Hoopstad wins the R1 500 in prize money for her beautiful entry featuring wheat. With it she perfectly captures a moment in a day of a grain producer’s life.

June 2016

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

‘n “Waardetoevoegingsplan” klink altyd goed – tot dit begin skeefloop, dan is dit ‘n groot en duur gemors wat die bestaande besigheid maklik groot skade kan berokken. Om ‘n waardetoevoegingsprojek te maak werk, verg sorgvuldige beplanning, volgehoue kwaliteit produksie, knap bestuur en sekerlik die belangrikste: Baie goeie markontleding en bemarking. Verder is langtermyn-vooruitbeplanning van kardinale belang.

Geleentheid om geld te maak

Waardetoevoeging word gewoonlik oorweeg en geïmplementeer om ‘n toekomstige bedreiging vir die boerdery-onderneming om te skakel in ‘n geleentheid om geld te maak en te kan bly voortbestaan. Net só sal daar vir die waardetoevoegingbesigheid weer nuwe geleenthede ontstaan, wat ook benut kan word.

Mense dink dikwels die prys waarteen byvoorbeeld mieliemeel in ‘n kettingwinkel verkoop word, die prys sal wees wat hulle vir hul geproduseerde meel gaan ontvang. Dit is ‘n groot fout. Verwerkers kry nie naastenby daardie pryse nie. Baie kostes en winste word nog in die verspreidings- en bemarkingsketting bygevoeg. Die winste wat veral op waardetoegevoegde produkte gemaak word, is maar laag en daarom is volgehoue hoë omsette van produkte baie belangrik.

Kundigheid

Een van die sleutelvereistes vir sukses, is die inbring van kundigheid en spesialisasie. Maak gebruik van kundige persone om die uitvoerbaarheidstudie en markontleding te doen. Gebruik ook kundiges om die fisiese en finansiële beplanning vir die nuwe besigheid te doen en aan te beveel watter infrastruktuur en masjinerie aangeskaf moet word, asook watter personeelposte geskep en wanneer dit gevul moet word.

Hierdie aspek is krities, omdat ‘n fout hierin die besigheid van die begin af kan kelder. By die aanstelling van personeel, maak seker dat kundige werkers aangestel word: ‘n Bestuurder, rekenmeester, debiteure- en krediteureklerke en personeelbestuurders is voorbeelde van personeel wat aangestel moet word – en sulke kundiges kos geld.

Pasop vir kruissubsidie

Dit is van kardinale belang dat die verwerkingsvertakking so vinnig moontlik op sy eie voete moet kom – wat beteken dat daar afsonderlike stelle boeke en bestuur moet wees. Hierdie nuwe besigheid is ‘n besigheid op sy eie en daarom moet kruissubsidie voorkom word.

Die werkslas en druk van die bestuur van die huidige boerderybesigheid gaan ook verhoog as daar op ‘n nuwe waardetoevoegings bedryf besluit word. Waardetoevoeging is niks anders as ‘n vertakking wat ekstra hoë bestuursintensiewe aandag benodig nie. As hierdie nuwe vertakking nie by die bestaande boerderybesigheid en bestuur inpas nie, gaan iets skade ly. As eienaar sal jou taak van toesighouding en beplanning toenemend belangrik raak en ook meer van jou tyd in beslag neem.

Trek spesialiste in

Deur spesialiste toe te laat om hul spesialis-kundigheid tot jou voordeel toe te pas, verhoog die winsgewendheid van die besigheid omdat hulle die effektiwiteit en doeltreffendheid verbeter. Die twee is saam die boublokke van ‘n suksesvolle besigheid.

Die spesialiste moet sorg dat die produksie met die vraag ooreenstem en dat kwaliteit gehandhaaf word. Spesialiste neem nie jou verantwoordelikheid ten opsigte van beplanning en kontrole weg nie – jy het nou net hulp op daardie spesifieke gebiede.

Besigheidsplan

‘n Volledige besigheidsplan wat alle aspekte en gepaardgaande risiko’s insluit, moet opgestel word voor daar tot waardetoevoeging toe getree word. As dit nie op papier werk nie, is die kans dat dit in die praktyk gaan werk, bitter skraal. Hierdie besigheids plan moet gereeld gekontroleer en aangepas word as die waarde toevoegingsbesigheid eers aan die gang is.

Markontleding

Die proses om te bepaal tot watter bedryf toegetree moet word, val saam met die ontleding van die mark en spesifiek die behoefte wat jou produk gaan bevredig, asook die bemarkingsomgewing waarbinne die besigheid val. Gegewe hierdie realiteite, sal dit sin maak om die langtermyn-winsgewendheid ook te ontleed.

Dit is belangrik om te weet hoe groot die mark in der waarheid is, wie en hoeveel kompetisie daar is en wat jou kompeterende voordele sal wees.

Die verwagte veranderinge van smake en voorkeure van die verbruikers moet ook in aanmerking geneem word. Verbruikers se eienskappe moet ook ontleed word, met ander woorde: Is hulle pryssensitief, kwaliteitbewus, gemakgeoriënteerd of tegnologies ingestel? Dit sal die toekoms van jou produkte bepaal.

Vir bemarking is dit belangrik om die regte produk, teen die regte prys, op die regte tyd, by die regte verbruiker met die spesifieke behoefte uit te kry.

Watter ondernemingsvorm?

Die ondernemingsvorm wat jy vir jou besigheid kies, is net so belangrik. Maak gebruik van kenners om jou hiermee te help. Dit is belangrik om te weet watter effek die besighede op mekaar gaan hê as daar dalk byvoorbeeld ‘n droogte is en een van die afdelings ‘n verlies maak en of en hoe opgehoopte belastingverliese benut kan word.

Die ondernemingsgrootte en produksiekapasiteit is belangrik. Maak ook voorsiening om insette van buite te kan inkoop en te kan ver werk. Dit sal dalk beter wees om sommer met die ontwerp van die verwerkingsfasiliteite reeds hiervoor voorsiening te maak en dan in die produksie in te groei.

Wat van die afvalstowwe?

Met waardetoevoeging is daar altyd afvalprodukte, byvoorbeeld die mis van ‘n voerkraal of die semels in ‘n meule. Die vraag is hoe kan hierdie afvalstowwe omgesit word in ‘n finansiële voordeel vir die besigheid – vir beide die verwerkings- asook die boerderybesigheid. Voorts sal hierdie afvalstowwe in die bepaling van die prys van inkope en verkope opgeneem moet word.

Die verbruiker is koning

Onthou net: Die verbruiker is koning. Hy het die geld in sy sak en hy besluit vir wat en vir wie hy dit gee. As die verbruiker baie van ‘n produk hou, sal hy dalk bereid wees om meer daarvoor te betaal, maar gewoonlik wil hy waarde vir sy geld hê.

Die verbruikers vereis ook toenemend dat daar naspeurbaarheid van die produk moet wees. Hy wil weet dat die grondbone wat hy koop aan die nodige standaarde voldoen en hy moet dit kan kontroleer as hy wil. Dieselfde vereistes word toenemend vir meer en meer produkte vereis.

Maak seker watter wette betrekking het op jou nuwe besigheid en produkte in terme van voedselveiligheid, naspeurbaarheid, inligtingbeskerming, arbeidswette, verbruikerswette en talle ander vereistes – dat jy dit verstaan en daaraan voldoen.

Daar is baie wette waaraan voldoen moet word wat waardetoevoeging op produkte betref. Die bestuur van hierdie wette neem baie tyd in beslag.

Insetverskaffers

Net soos die verbruiker koning is, sal die insetverskaffers ook hul produkte teen die beste pryse verkoop. Maak seker dat die insette altyd teen die regte pryse beskikbaar is en dat die fabriek reg geposisioneer is om vervoerkoste vanaf die insetverskaffer of opberger en aan die verbruiker te minimaliseer.

Maak seker dat die pryse wat vir die insette betaal word, realisties is sodat die besigheid winsgewend bedryf kan word. As produkte ingekoop word, maak seker dat die nodige fondse betyds beskikbaar is. Soos in die boerdery, moet die waarde toe voegingsvertakking ook sy eie kontantvloeibegroting op stel en moet die kontantvloei bestuur word. ‘n Afsonderlike bank rekening is verseker ‘n vereiste.

Waardetoevoeging is ‘n besigheid met baie hoë risiko’s en lae winste. Toetrede van kompetisie is redelik maklik – wat die produkpryse en die grondstofpryse sal beïnvloed. Die ekonomie van skaal kan dalk ‘n mate van beskerming gee, maar produkkwaliteit en prys is van kardinale belang.

‘n Waardetoevoegingsbesigheid is meer blootgestel aan eksterne faktore as ‘n boerdery. ‘n Verandering in die politieke, ekonomiese, sosiale en maatskaplike omgewings syfer baie vinniger deur na die besigheid. Die besigheid moet homself rat om hierdie verandering die hoof te bied. Planne moet in plek wees as daar dalk ‘n staking van werknemers is of as die klante se kooppatrone verander.

Kapitaal

Enige besigheid benodig fondse: Hetsy om kapitaalitems te koop of vir bedryfskapitaal. Die bedryfskapitaal kan dramaties verhoog as die grondstofpryse verhoog. Hierdie verhoging vat tyd om deur te werk na die verbruiker en die verhoging moet derhalwe gefinansier word. Sonder die nodige fondse om hierdie besigheid te bedryf, is alles net ‘n mooi droom.

Kontantvloei is die eerste prys. Daar moet genoeg fondse beskikbaar wees om rou produkte te koop, die produksie aan die gang te hou en produkte op ‘n rak te kan dra. Voorsiening moet gemaak word vir debiteure en verwerkte voorraad – dit is albei elemente wat kontant verteer.

Dit kan soms ‘n ruk neem om gelyk te breek en enige aanvangsverliese en kapitaalbesteding moet gefinansier kan word of deur die eienaar gedra word.

Ja, dit is so dat as die produksie volwaardig aan die gang is, kontantvloei bestendig sal word, maar omdat die aankoop- en verkoopspryse nie gelyk verander nie, sal die winsgewendheid baie varieer.

Ongelukkig het die nuwe verwerkingsbesigheid ‘n invloed op die kontantvloei van die boerderybesigheid. Maak seker dat die boerderybesigheid se kontantvloei die effek van die verwerkingsbesigheid ook insluit. Dit kan gebeur dat die boerdery dalk ses maande moet wag voor die fondse inkom om sy krediteure af te los.

Rekordhouding belangrik

Laastens, net soos in die boerdery, is rekordhouding van kardinale belang. Hierdie inligting moet op datum wees en gebruik word om die besigheid te bestuur en om foute vroeg op te spoor en reg te stel. Debiteure is en bly ‘n probleem. Hou hulle op datum, sorg dat hulle op tyd betaal en maak voorsiening vir ‘n gedeelte wat nie ingevorder kan word nie.

Uit die bogemelde is dit duidelik dat dit nie maklik is om in die verwerkingsbedryf te wees nie. Hierdie is net ‘n opsomming van sommige van die kritiese aspekte waaraan aandag gegee moet word en van die groot slaggate wat die besigheid kan kelder.

Kontak gerus vir Pietman Botha by 082 759 2991 indien jy meer inligting oor die onderwerp benodig.

Publication: June 2016

Section: Focus on