Navorsing verbeter doeltreffendheid op plaasvlak

Gepubliseer: 9 Junie 2023

435
Prof Rojanette Coetzee, NWU Skool vir Bedryfsingenieurswese, Potchefstroom

Die landbousektor is soortgelyk aan ander bedrywe wanneer dit kom by produksieprosesse, voorsienings­kettings, fasiliteituitlegte en mensehulpbronbestuur en benodig meer bedryfsingenieurs wat toegepaste navorsing doen om praktiese waarde op grondvlak toe te voeg.

Uitdagings is ook soortgelyk: minder as gewenste deurset, fasiliteituitleg wat nie bevorderlik is vir vloei nie, ’n behoefte aan beter projek- en besigheidsbestuur, die behoefte aan verbeterde kwaliteitbestuur en bystand met menslikehulpbronbeplanning en -bestuur. Hierdie behoeftes kom voor in agribesighede asook op die plaas. Bedryfsingenieurs het die vaardighede om die omstandighede vir die produsent, die agribesigheid en die hele voorsie­ningsketting tussen-in te verbeter.

Wat doen bedryfsingenieurs?
Bedryfsingenieurs optimeer stelsels deur kreatiewe probleemoplos­sing wat mense, prosesse en tegnologie integreer (Figuur 1).

Figuur 1: Bedryfsingenieurswese in ’n neutedop.

Ons vakkundigheid strek oor ’n verskeidenheid van toepassings soos byvoorbeeld vervaardigings- en verwerkingsprosesse, opera­sionele bestuur en verbetering, proseskartering, fasiliteitsontwerp (plaas en bedryf), mensehulpbronbestuur, proses-simulasiemodel­lering, ekonomiese-impakstudies, projekbestuur, besluitnemings­teorieë en ergonomika (Figuur 2).

Figuur 2: Vakkundigheid van bedryfsingenieurswese.

Nuwe navorsingsforum by die NWU
By die Skool vir Bedryfsingenieurswese (NWU-Potchefstroomkampus) fokus baie van ons navorsing op die Lean-vervaardigingsfilosofie wat daarop toegespits is om prosesse binne verskillende bedrywe te verbeter. Die doel is om meer waarde te skep vir die kliënt deur te fokus op stappe wat waarde toevoeg en om sogenaamde waste (vermorsing) uit die proses te verwyder. In hierdie konteks verwys vermorsing nie na afvalmateriaal of gemorsde roumateriaal nie. Dit verwys eerder na enige iets waarop ’n werker tyd spandeer wat nie waarde toevoeg tot die kliënt se behoeftes nie. Dit sluit wagtyd, onnodige beweging van mense of produkte, te veel voorraad (wat kontantvloei beïnvloed), oorproduksie of oorprosessering in.

Lean-vervaardiging fokus daarop om meer waarde (uitsette) te kry met minder werk (insette). Tydens 2021 het ons fokus begin skuif na die landbousektor en soge­naamde Lean-agri. Die Lean-filosofie se sukses is afhanklik van ’n kultuur van voortdurende verbetering. Dit vereis die inkoop van beide die plaaswerkers en die plaasbestuur. Plase en agribesighede moet dus hulle werkers oplei om vermorsing te identifiseer en praktyke voor te stel om dit te verbeter.

Dit is egter nie al waarop ons tot dusver gefokus het nie. Die navorsing van die groep het baie spontaan begin vorm aanneem om geleenthede in die bedryf en die studente se belangstellings. Ons probeer navorsing doen op dit wat vir ons belangrik is, waar ons behoeftes identifiseer en waar ons ’n impak kan maak op mense na aan ons. Baie van die NWU se studente is plaaskinders van oor die land en dit is baie bevredigend (vir ons en hulle ouers) as studente reeds ’n bydrae by die huis begin maak op voorgraadse vlak en dan later veral met nagraadse studies.

Met die hulp van twee bedryfsingenieurstudente (Hermé Nel en Jorinda Marais), het ons tydens 2022 ’n navorsingsforum begin bou. Die doel van die forum is om beproefde bedryfsingenieurswesetegnieke asook toegepaste navorsing te gebruik om landbouprosesse te verbeter om sodoende agribesighede en boerderye meer effektief, doeltreffend en winsgewend te maak.

Teen die einde van 2022 is die eerste opedag gehou waar ons huidige en toekomstige navorsing ten toon gestel het. Ons beplan om dit weer te doen gedurende 2023. Die doel van hierdie byeenkomste is om pasmaats te kry tussen besighede (en hulle uitdagings), navorsings­projekte en studente se belangstellings. Nuwe netwerke en samewerking spruit uit hierdie byeenkomste waar studente dan die geleentheid het om navorsing te doen in die bedryf en praktiese oplossings te ontwerp vir boere, agribesighede en die groter voorsieningsketting.

Aniel van Deventer, Hermé Nel, Jorinda Marais en prof Rojanette Coetzee tydens die 2022-bedryfs­navorsingopedag, gehou by die NWU Skool vir Bedryfsingenieurswese.

Projekte waaraan ons tans werk
Die maklikste manier om te verduidelik hoe bedryfsingenieurswese in die landbousektor toegepas kan word, is aan die hand van voorbeelde van projekte waarmee ons tans besig is. Hierdie is van die geleenthede wat spontaan ontstaan het volgens bedryfsbehoeftes en studente se belangstelling. Ons sien uit daarna om in die toekoms ander toepas­sings ook te vind binne ander dele van die landbousektor.

Skaapskeerders
Een van die eerste studies wat afgeskop het, was om ondersoek in te stel waarom skaapskeerders wat hulle opleiding in Suid-Afrika voltooi het, die land verlaat en ’n tekort aan gekwalifiseerde skeerders in Suid-Afrika veroorsaak. Die landbousektor van die Onderwys- en Opleidingsowerheid het skaapskeer reeds in 2022 as ’n kritieke vaardigheid geklassifiseer. Die doel van die studie is dus om te verstaan hoekom die skeerders die land verlaat om sodoende voorkomende maatreëls in te stel.

Veilingskrale
Veilingskrale is die plek waar mense, diere en papiere bymekaarkom. Die doel van hierdie projek is om die prosesvloei van hierdie drie elemente op ’n veilingsdag te bestuur en meer effektief te maak – min­der tyd en minder spanning vir beide mens en dier.

Voerkrale
Die hantering van diere binne voerkrale veroorsaak spanning by die diere, wat hulle produksie negatief beïnvloed. Die hanteringsfasiliteite kan wel so ontwerp/verbeter word dat die diere meer effektief (en veiliger) hanteer word om sodoende spanning te verminder. Die doel van hierdie projek is om be­ginsels van vloei, bottelnekke, fasiliteitsuitleg en dieresielkunde te gebruik om voerkraalhanteringsfasiliteite te verbeter.

Weidingsbestuur en besluitnemingsmodel
Verskillende weidingsbestuurstrategieë word vir verskillende redes gebruik, maar een ding is deurlopend belangrik – historiese data bepaal toekomstige besluitneming. Die probleem is egter goeie rekordhou­ding en databestuur van watter diere het wanneer in watter kampe gewei. Ons werk aan ’n be­sluitnemingsondersteuningsmodel wat die beweging van diere oor tyd aanteken en dan voorstelle maak oor waarheen diere volgende geskuif moet word vir die optimale kondisie van die diere en die veld. Die stelsel gebruik historiese GPS-data van die beweging van die diere, die tropsamestelling en die weidings­kwaliteit om toekomstige be­sluitneming te ondersteun as dit kom by trop- en weidingsbestuur.

Verhoogde produksie vir skaapvelpantoffelvervaardiger
Enige nuwe besigheid het sy uitda­gings – kontantvloei, fasiliteitsuitleg, produksiebeplanning en uitbreidingstrategieë. Wild & Wol in George het sedert die begin gefokus op produkontwikkeling en die voorsie­ningsketting is opgestel in ’n semibe­plande manier. Daar is egter nou ’n verhoging in markaanvraag en die besigheid sal graag hulle produksie wil verdubbel sonder om kwaliteit prys te gee. Die doel van die studie is om ’n produksieplan (skedule en fasiliteitsuitleg) te ontwikkel wat die verhoogde produksie sal ondersteun.

Hoe om betrokke te raak
Produsente en agribesighede (groot en klein) word uitgenooi om deel te word van die navorsingsforum.

Opedag – 18 Oktober 2023
Daar word weer ’n opedag aangebied. Hierdie jaar val ons in by ons BScAgric-kollegas se opedag wat op 18 Oktober 2023 op die Potchefstroomkampus gehou word. Agribesighede word uitgenooi om ’n stalletjie te hê waar hulle amper-graduandi kan werf vir werks­geleenthede in 2024. Tydens die geleentheid gaan daar aanbiedinge wees van beide die ingenieurswese- en die landbounavor­sing wat gedoen word.

Tweejaar-ingenieur-in-opleidingsprogram
Ons het ’n tweejaarprogram saamgestel vir studente nadat hulle gegradueer het met hulle eerste vierjaargraad in Ingenieurswese. Die doel van die program is om vir die kandidaat toegang te gee tot werkservaring sowel as ’n meestersgraad in Ingenieurswese. Die program bestaan uit een jaar voltydse bedryfservaring en ’n opvolgende jaar van voltydse studie. Die eerste jaar ontvang die student ’n salaris vanaf die besigheid en die enigste akademiese vereiste is dat ’n bedryfsprobleem saam met die bedryfsmentor en studieleier geïdentifiseer en geformuleer moet word. Tydens die tweede jaar keer die student terug as voltydse student (met ’n beurs) om die pro­bleem wetenskaplik op te los met behulp van spesifieke bedryfs­ingenieurswesenavorsingsmetodes. Hierdie wetenskaplike en praktiese antwoord word dan aan die besigheid voorsien om die probleem aan te pak. Nadat die twee jaar (en die nagraadse kwalifikasie) voltooi is, kan die besigheid besluit om die kandidaat voltyds aan te stel (al dan nie).

Vakansiewerk
Ander opsies om betrokke te raak by die studente en bedryfsprojekte, is vir besighede om vakansiewerkgeleenthede te voorsien vir ’n tyd­perk van vier tot ses weke tydens een van die langer vakansies. Die studente moet dan ondersoek instel en ’n spesifieke probleem oplos.

Toekomsplanne
Alhoewel ons navorsing tans fokus op veeproduksie (en die gepaardgaande voorsieningsketting), sal ons graag ons toepassingsveld wil uitbrei na gewasse ook.

Ons sien uit daarna om nuwe netwerke te vorm, nuwe probleme op te los en om landbouprosesse te verbeter om sodoende boerderye en ander agribesighede meer effektief, doeltreffend en winsgewend te maak.

Vir meer inligting kontak prof Rojanette Coetzee deur ’n e-pos te stuur na Rojanette.Coetzee@nwu.ac.za of skakel haar by 018 299 1994.