Diversifiseer en gaan voluit

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

1165

Wayne Preece

Wayne Preece van die plaas Knopfontein in die Coligny-distrik meen sy sukses is allereers toe te skryf aan genade van Bo. “Ons kan alles binne ons vermoë doen, maar as dit nie reën of die seisoen nie reg uitdraai nie, is baie dinge uit ons hande. Ons geloof is die gom wat ons boerdery aan­mekaar hou.”

Hy het die eerste twee plekke ingepalm in die Noordwes-sojaboonafdeling met twee Pioneer-variëteite. Met P 71T74R het hy 4,65 t/ha gestroop en met P 64T39R het hy ’n opbrengs van 4,60 t/ha behaal.

Wayne boer saam met sy twee broers in ’n gediversifiseerde boerdery wat uit ’n saai-afdeling, pekanneute, beeste en hoen­ders bestaan. Elke broer is vir ’n gedeelte van die boerdery verantwoordelik en Wayne staan aan die stuur van die saaiboerdery.

Volgens hom is wisselvallige en onreëlmatige reënval hul grootste uitdaging. Hy pas dus sy plantdatums aan en versprei die gewasse tussen verskillende plase. “Ons sal slegs plant wanneer daar ’n vooruitsig vir opvolgreën is. Ek probeer risiko versprei deur verskillende gewasse en kultivars op verskillende plantdatums in verskillende omgewings te plant.”

Wayne Preece (regs) ontvang sy toekenning van Willem Groothof by die Groei vir Goud-geleentheid.

Sowat 18 jaar gelede het hulle met geenbewerking begin. Volgens Wayne hou dit groot voordeel in wat betref die bewaring van grondvog asook algemene grondgesondheid en -vrugbaarheid. Al verkeer oor die lande is die planter, die spuite en die stroper.

Wayne was een van die voorlopers met die plant van sojabone in die westelike graanproduksiegebied in 2007 en hy glo die geenbewerkingstelsel wat hy volg, het die pad oopgemaak vir sojabone op die plaas. Hy plant geelmielies (60%) en sojabone (40%) in ’n wisselboustelstel en afhangend van die seisoen is die verdeling tussen die mielie- en sojaboonlande 50/50 of 60/40. Party seisoene sal hy mielies op mielies plant, wat hy dan met sojabone opvolg, maar op van die lande plant hy mie­lies en sojabone in ’n tweejaarlikse rotasieprogram. Hy plant geelmie­lies omdat hy vind dat hy minder vir graad gepenaliseer word.

Hulle onkruidbeheer pas gemaklik in by die geenbewerking­stelsel. Wayne plant Roundup Ready-mielies en -sojabone en doen ’n voorplantbespuiting met glifosaat, wat opgevolg word met ’n kombinasie van glifosaat en voor-opkoms-onkruiddoders tydens plant. Na gelang van die onkruiddruk en die seisoen, sal hy een of twee keer na plant opvolg met glifosaat wat hy bo-oor die gewasse met ’n hoogloopspuit toedien.

Oor die afgelope 20 jaar het hulle die rywydtes aangepas van 2,3 m tot waar hulle die afgelope seisoen 76 cm-rye geplant het. Die plantestand as geheel is nie baie verander nie, maar hulle plant nouer rye met minder plante per ry. Wayne meen die feit dat die rye nader aan mekaar is, veroorsaak dat die plante ’n sambreeleffek gee wat help om die grond koeler te hou vir beter vogbewaring.

Grondanalise is van uiterste belang en grondmonsters word jaarliks op ’n derde van die plaas geneem, meestal waar sojabone geplant was. Blaarontledings word net gedoen as Wayne opmerk dat daar ’n probleem op die gewasse voorkom.

Wayne plant sy eie stand-, kunsmis- en kultivarproewe op die plaas sodat hy die interaksie van die verskillende aspekte op sy grond kan bepaal. “Elkeen se grond en bestuurspraktyke verskil en dit het ’n invloed hoe ’n kultivar gaan presteer. Dit is vir my belangrik om my eie proewe te plant. Ek doen dit op kommersiële skaal met my eie implemente en volgens my bestuur. So bekom ek inligting wat vir my sin maak en nuttig is in my opset.”

Sy raad aan intreeprodusente is om te diversifiseer, veral in die westelike dele van die land. Hy sou ook aanbeveel om voluit te gaan as iemand oorweeg om oor te skakel na ’n minimum- of geenbewerkingstelsel. Dis egter noodsaaklik om eers deeglike navorsing te doen.