Onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap is nie ’n mite nie

71
Org Lötter,
tegniese konsultant,
Viking Bemarking

Volhoubaarheid is deesdae ’n gonswoord wat in baie aspekte van die moderne samelewing gebruik word – die landbou is geen uitsondering nie. Daar is baie definisies van volhoubaarheid, afhangend vanuit watter hoek ’n mens daarna kyk. In kort beteken volhoubaarheid ’n sosio-ekologiese proses wat gekenmerk word deur die nastreef van ’n gemeenskaplike ideaal of doelwit.

Volhoubare ontwikkeling is ontwikkeling wat die behoeftes van die huidige geslag bevredig sonder om die vermoë van toekomstige geslagte te kompromitteer om in hulle eie behoeftes te voorsien.

In die lig hiervan is dit vir produsente ’n geweldige uitdaging om in die mallemeule van volhoubaarheid, stygende insetkoste, winsgewendheid, tegnologiese vooruitgang, politieke agendas en veranderde markbehoeftes sin te maak van alles. Praat van die spreekwoordelike verkleurmannetjie op ’n boksie Smarties…

Onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap, veral in die kleingraanproduserende gebiede, is lankal ’n gegewe, maar word daar genoeg gedoen om onkruiddodergebruik volhoubaar te bestuur in die aanwesigheid van weerstand, of moontlike toekomstige weerstand? Hierdie vraag kan nie net aan produsente of produsente-organisasies gerig word nie, maar ook aan navorsers en konsultante, die landbouchemiese bedryf in geheel en miskien selfs aan implement- en plantervervaardigers en saadmaatskappye.

Prof Stephen B. Powles van Australië, ’n groot ghoeroe in onkruiddoderweerstand, het per geleentheid tydens ’n besoek aan die Wes-Kaap gesê dat diversiteit die beste opsie is om onkruiddoderweerstand te vertraag.

Daardie beginsel het nog nie verander nie. Hoe groter die diversiteit, hoe groter die kans om weerstand te beveg. Wisseling van onkruiddodergroepe, gewasrotasie en die bestuur van oesreste is maar net ’n paar dinge wat in gedagte gehou kan word ten opsigte van diversiteit.

Onkruiddodergebruiksbestuur
Dalk is onkruiddodergebruiksbestuur of weerstandsbestuur die verkeerde term – miskien is grondbestuur ’n meer omvattende begrip. Alle aksies wat op of in die grond gedoen word (plant, saai, bemes, spuit, bewei, bewerk, nie bewerk nie en stroop) het tog uiteindelik ’n invloed op die rendement wat die grond kan lewer, hetsy dit nou ’n gewasopbrengs, die voorkoms van weerstandbiedende onkruide of koolstofopbouing is.

In die konteks van hierdie artikel sal daar net gekyk word na die aspek van voor-opkomsonkruiddodergebruik in die teenwoordigheid van weerstand, of met die oog op moontlike toekomstige weerstand wat ten alle koste verhoed moet word.

Produsente word aangemoedig om die nuutste plakkaat van die Herbicide Resistance Action Committee (HRAC) by hul chemiese adviseurs te kry. Die plakkaat is hersien met die nuutste inligting en is ’n nuttige instrument om onkruiddoderafwisseling te beplan of te monitor.

In die Wes-Kaap is raaigras die belangrikste onkruid betreffende weerstand teen verskeie onkruiddodergroepe. In ’n kleingraansituasie kom weerstand teen na-opkomsmiddels vir die beheer van raaigras feitlik by alle groepe voor wat vir daardie doel geregistreer is. Met die koms van voor-opkomsmiddels is die druk op die na-opkomsmiddels aansienlik verlaag. Dit maak dit egter noodsaaklik om die voor-opkomsmiddels effektief te beskerm en te bestuur sodat dit in die toekoms nog steeds as volhoubare en effektiewe raaigrasbeheeropsies in kleingraan benut kan word.

Dit kan net gebeur indien die voor-opkomsmiddels ook behoorlik afgewissel en bestuur word na aanleiding van elke produsent se unieke situasie – al beteken dit in sommige gevalle dat die tweede of derde beste produk in ’n situasie gebruik moet word.

Uitdagings vir effektiewe voor-opkomsonkruiddoderbestuur
Die faktore wat ’n produsent moet oorweeg by die keuse van die mees geskikte voor-opkomsmiddel, kan onder meer die volgende wees:

  • Die vorige middel(s) en onkruiddodergroepe wat gebruik is op die beplande land.
  • Die vorige gewas wat geplant is.
  • Effektiwiteit van die vorige jaar se onkruidbeheerprogram.
  • Was voor-saaibespuitings moontlik in die vorige seisoen?
  • Is voor-plant- of voor-saaibespuitings moontlik in die huidige seisoen?
  • Die verwagte onkruidspektrum.
  • Die weerstandstatus van die land.
  • Beplande gewas vir die huidige seisoen en moontlike beheeropsies.
  • Die volgende seisoen se gewas en watter onkruidbeheeropsies beskikbaar is.
  • Kultivar van die volgende wisselbougewas (kanolakultivars gaan byvoorbeeld die tipe onkruiddoder bepaal).
  • Onkruiddoderoordragmoontlikheid na ’n volgende beplande gewas.
  • Die helling van die land.
  • Hantering van die vorige gewas se oesreste.
  • Hoeveelheid oesreste met planttyd.
  • Tipe planter of plant- of saaimetode.
  • Die vorige jaar se klimatologiese toestande en reënval.
  • Planttoestande vir die huidige seisoen ten tye van die voor-opkomsmiddel se toediening.
  • Verwagte reënvaltoestande na plant of saai.
  • Tipe grond (sand, klei of klipperig).

Afwisseling van voor-opkomsonkruiddoder
Die ideaal is om te strewe na ’n situasie waar geen middel wat in dieselfde onkruiddodergroep val, meer as jaarliks na mekaar op dieselfde land gespuit word nie. Dit is makliker bereikbaar as daar ’n rotasiestelsel met ’n breëblaargewas is, maar raak moeiliker hoe verder daar weg beweeg word van só ’n stelsel.

Weerstand, navorsing en geheueverlies
In elke onkruidpopulasie wat mag voorkom in ’n land, is daar sekere biotipes wat meer weerstandig is as ander teen sekere onkruiddoders. Hierdie weerstandige populasie kan met tyd vermeerder waar die herhaalde gebruik van dieselfde middel of groep van middels op dieselfde land jaar na jaar plaasvind.

Weerstand kan ook ontwikkel waar subletale dosisse van ’n onkruiddoder gereeld toegedien word. Tesame met herhaalde gebruik word daar dan eintlik geselekteer vir die weerstandige populasie. Met ’n onkruid soos raaigras wat verder ook nog kruisbestuiwend is, kan die spoed van hierdie seleksie nogal oor ’n baie kort termyn plaasvind.

Subletale dosisse van voor-opkomsmiddels hoef nie noodwendig doelbewus toegedien te word nie. ’n Subletale dosis kan ook voorkom as die toegediende hoeveelheid onkruiddoder nie die teiken (grond) in genoegsame hoeveelhede bereik nie – hetsy dit vasgehou word deur deklaagmateriaal, kafrye, kluite of klippe, of as daar te min reënval was om die onkruiddoder genoegsaam in die grond in te was of te aktiveer.

Dit wil voorkom asof die lesse wat geleer is uit die weerstandsituasie wat ontwikkel het in die geval van na-opkomsonkruiddoders, lankal vergete is, want daar is nog baie rolspelers wat blasé is oor die afwisseling van voor-opkomsonkruiddoders – aan verskaffings- en aan gebruikerskant.

Registrasieproewe neem ook nie altyd veranderde tendense in ag wanneer ontwikkelingswerk gedoen word nie. Bewaringslandboupraktyke en die gebruik van voor-opkomsonkruiddoders in sulke situasies is ’n goeie voorbeeld hiervan. Selfs planter- of implementvervaardigers en onkruiddodervervaardigers hardloop in verskillende bane en daar waar die pit in die grond moet val en die onkruiddoder op die grond moet kom of nie, mis hulle mekaar.

Tydens onlangse navorsing in Australië is ’n baie weerstandbiedende biotipe raaigras onder eksperimentele toestande geplant en slegs die helfte van die geregistreerde dosis pyroxasulfone is toegedien. Die saad van daardie behandelde plante is weer geplant en die proses is vir ’n derde keer herhaal voordat die eerste tekens van weerstand teen pyroxasulfone gevind is. Met ander woorde: Na slegs drie generasies van herhaalde lae dosisse kon hulle reeds die eerste simptome van weerstand waarneem.

Hierdie saad is weer geplant en behandel met triallate en prosulfokarb waarna daar toe agtergekom is dat kruisweerstandbiedendheid in daardie generasie tussen die drie middels voorgekom het.

Hoewel hierdie werk baie eksperimenteel van aard en boonop slegs glashuisproewe was, is die waarskuwing wat dit inhou baie ontstellend. Die vraag is: Wat gaan ons met daardie inligting doen? Gaan ons ons koppe soos die spreekwoordelike volstruis in die grond druk en dit ignoreer? Of gaan ons wakker skrik, die omvang van hierdie potensiële dilemma besef en ons beskikbare voor-opkomsmiddels volhoubaar afwissel, aanbeveel en bestuur?

Quo vadis?
Met die uitsondering van een nuwe “ou” onkruiddoder (gedeeltelik nuut in Suid-Afrika, maar nie internasionaal nie) wat tans op die Registrateur van Wet 36 se tafel vir goedkeuring lê, is daar geen nuwe onkruiddodergroep vir voor-opkoms- of na-opkomsbeheer van raaigras of ander grasonkruide in die Wes-Kaap vir die afsienbare toekoms nie. Ons moet dit wat beskikbaar is soos goud bewaar en baie verantwoordelik met die bestaande middels omgaan.

Win betyds inligting in sodat alle opsies oorweeg kan word, alvorens jy besluit watter onkruiddoder of watter wisselbousisteem jou die beste gaan pas. Neem jou veefaktor in ag met so ’n besluit.

Raadpleeg jou chemiese adviseur of landboukundige vir inligting oor die metode van werking van die tipe middels tot jou beskikking. Dalk is die soort omstandighede tydens en na planttyd meer voordelig vir ’n ander middel as gevolg van sy werkingsmetode, logingsindeks of klouvermoë aan byvoorbeeld organiese materiaal of vorige oesreste. Miskien word jou gekose middel hoofsaaklik deur die wortels opgeneem, maar as dit te droog is, of te min reën gaan ’n middel wat deur koleoptielopname werk dalk meer doeltreffend wees.

Dalk moet jy twee middels meng om jou spesifieke onkruidprobleem effektief aan te spreek. Jou chemiese verteenwoordiger of landboukundige sal jou hier van die nodige inligting kan voorsien na aanleiding van die spesifieke land se situasie.

Onthou die wyse raad van mense soos prof Powles is dat verskeidenheid die sleutel tot sukses in ons stryd teen weerstand is. Uiteindelik is die besluit oor die nalatenskap wat jy gaan oordra ten opsigte van onkruidweerstand op jou plaas in jou eie hande. Werk dus volhoubaar hiermee – vir jou en jou kinders se belang.