2025-SAADPRYSE VIR WINTERGRAAN

Gepubliseer: 3 Maart 2025

189
Marquerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
marquerite@grainsa.co.za

Saad bly een van ’n produsent se heel belangrikste insette, alhoewel die prys nie so beduidend soos die van ander insette is nie. Die genetiese potensiaal van ’n kultivar bepaal uiteindelik die potensiële produksie en winsgewendheid van ’n wintergraanprodusent en is daarom die beginpunt om ’n suksesvolle oes te vestig.

Vandat die teling-en-tegnologieheffing op koring nege jaar gelede geïmplementeer is, is goeie vordering in die saadmark opgemerk:

  • Nuwe saadmaatskappye asook ’n tegnologieverskaffer het die koringsaadmark betree.
  • Tydens 2024 is tien nuwe kultivars deur die Koring- Tegniese Komitee goedgekeur vir finale vrystelling. Van hierdie tien was vyf vir besproeiing en vyf vir die Wes-Kaap.
  • Nuwe tegnologie in die pyplyn: Bioceres se HB4- droogtebestande geen gaan op koring getoets word.

In hierdie artikel word die jongste saadpryse van koring- en garskultivars wat kommersieel in die mark beskikbaar is, met produsente gedeel asook wenke om seker te maak die beste word uit die saad gehaal.

Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark is genader om aan die prysvergelykings deel te neem.

Tabel 1 dui wintergraansaadpryse vir 2025 in rand aan. Daar is altesaam agt koringkultivars vir die noordelike droëlandproduksiegebiede en 18 besproeiingskultivars beskikbaar. Produsente in die Wes-Kaap kan uit ses garskultivars kies.

Koringsaadpryse in Suid-Afrika het in 2025 met gemiddeld 2,3% gestyg. Sommige maatskappye se kultivars het met 6,8% gestyg terwyl ander maatskappye se kultivars in geheel dieselfde gebly het.

Die inligting in Tabel 1 neem nie afslag vir vroeë bestellings en grootmaataankope in ag nie. Dit is belangrik om self navrae by die saadmaatskappye te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse
Die volgende is belangrike riglyne om te volg wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word:

  • Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.

Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer. Sien ook SA Graan/Grain se Kultivarbylaag (Maart 2025) waarin die resultate van die nasionale kultivarevaluasieprogram deur die LNR-Kleingraan gepubliseer is. Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ’n onge­toetste kultivar aan te plant.