Die jaar toe dit skielik winter geword het

Gepubliseer: 5 Mei 2020

1568

Beste Grootneef

President Ramaphosa se somber stem het op ’n Sondagaand die radioprogram Sterre en Planete onderbreek. Hennie Maas se stem is gedoof, waarna die president die land meegedeel het van iets groots, nie net in die Suidland nie, maar ook oor die hele planeet. COVID-19, familie van Korona, het hom oral kom tuismaak. Die mensdom het met mekaar begin praat oor noodmaatreëls om dit te tem. Die president het daardie aand bevestig dat alle skole in daardie week sou sluit, en dat byeenkomste van meer as 100 mense verbode sou wees.

Lande in die Noordelike Halfrond het toe reeds grense gesluit en vlugte na en van hul stede gekanselleer. Maar dit het ver weg gevoel. Asof dit iemand anders se probleem was.

Berigte het begin vloei dat Italië midde in ’n COVID-storm vasgevang was, met mense wat nie net knieserig gevoel het nie, maar ook gesterf het. Foto’s is op sosiale media geplaas van die Italiaanse weermag wat ingeroep is, omdat daar eenvoudig nie genoeg lykbesorgers was om na al die dooies om te sien nie. Die Pous het sy gebruiklike seënwens uit die Vatikaan se binneruim gedoen. Die St. Petersplein was die eerste keer in baie dekades verlate.

Dit het egter nog steeds ver gevoel, want die Suidland was ’n hele halfrond weg. ’n Skerper bewustheid van iets groters het posgevat toe president Trump vlugte na en van die VSA gekanselleer het. As Trump skrik vir iets, moes dit groot wees.

Gerugte het in die Suidland begin loop dat ons president ’n tweede, maar ingrypende aankondiging gaan maak. Die naweek is egter stil verby met ’n nuusberig op die Sondagaand dat die president en kabinet in vergaderings vasgevang is en dat aankondigings later volg. Laat die Sondagaand is bevestig dat die president die volk die volgende dag sou toespreek.

Die Maandagoggend was gesprekke in besigheid en industrie nie óf daar ’n grendel op die land geplaas word nie, maar wánneer? Daardie aand het die president dan ook bevestig dat die land teen middernag van 26 Maart die stadspoorte sluit en paaie toemaak vir ’n volle drie weke. Die weermag is ingeroep.

Na hierdie aankondiging het alles verander. Mense wou nie meer naby mekaar kom nie. ’n Vat vyf is vervang met ’n skurwe elmboog of ’n voet vyf. ’n Afstand is gehandhaaf, nie net tussen persone nie, maar ook oor hul toekomsplanne.

Die winkels is oorstroom, met rakke wat letterlik leeg gekoop is. Mense het vir die een of ander rede groot geld in witgoud en geblikte bone belê.

Ons Minister van Polisie met sy snaakse hoed het egter die kat in die duiwehok gegooi met sy aankondiging dat Bacchus óók vir 21 dae nie welkom sal wees nie. Die fokus het onmiddellik van kosaankope geskuif na mansapteke. Teen die Woensdag was daar plek-plek ’n tekort aan brandewyn. Enige brandewyn.

Die volgende wat waargeneem is, was die bykans koorsagtigheid waarmee finale take in nywerhede, besighede en kleinsake afgehandel is. Kantore is letterlik gelig en tuis staangemaak. Elk in isolasie, maar steeds in kontak deur die wêreldwye web. Skielik het vergaderings heel uit die mode geraak. Een lid in ’n raadsaal se droë kuggie was so goed soos ’n punt van orde.

Op die Donderdag het nywerhede en myne tot stilstand geknars, met die JSE en ander wêreldmarkte wat soos klippe geval het. Moody’s het op die koop toe bevestig dat die Republiek se ekonomie tot rommelstatus afgegradeer word. Kleinsake was met die hande in die hare, want hoe oorleef jy indien vir drie weke nie besigheid gedoen kan word nie?

Baie werkers is ook met verpligte en onbetaalde verlof huis toe gestuur. ’n Eksodus is oor die land heen gesien, soos familie en vriende bymekaar wou uitkom. Busse vol mense en hulle aardse besittings is noorde toe in die hoop om betyds oor Beitbrug te kom. Verkeer het snelweë en paaie laat verstop soos voor ’n Paasnaweek.

Daarna het ’n vloedgolf van aankondigings oor die planeet gevolg, soos lande van die res van die wêreld afgestig het en grense gesluit is.

Die Donderdagaand van 26 Maart 2020 het president Ramaphosa, met ’n weermagbaadjie aan, troepe gemaan dat hulle nie in vyandelike gebiede inbeweeg nie, maar tussen hul eie mense gaan stelling inneem. Die Ministers van Polisie en daarna Verdediging, het egter die volk versoek om nie die polisie of weermag uit te lok nie, anders sal met die volle gesag van die reg te doen gekry word.

Ou Neef, sou jy op Nuwejaarsdag só ’n prentjie geskets het, sou mense gedink het jy het ’n papsak met jouself gedeel. Maar dit het vanjaar skielik winter geword, ook hier in die Suidland.

Kom ons hoop dat die president nie té tuis raak in ’n weermagbaadjie nie. En dat die maatreëls om COVID-19 te beheer, suksesvol sal wees.

Ou Neef, bly veilig. Jy beleef iets wat die wêreld nog nooit gesien het nie.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.