May 2018

DR IAN HEYNS, LNR-Kleingraan, Stellenbosch

Koring word beskou as een van die belangrikste graangewasse in Suid-Afrika, met ‘n jaarlikse verbruik van ongeveer 3,2 miljoen ton. Die beraamde koringproduksie vir die 2017/2018-seisoen was 1,48 miljoen ton – 23% laer as die vorige seisoen. Daar sal dié jaar na verwagting ongeveer 1,9 miljoen ton koring ingevoer moet word om in plaaslike verbruik te voorsien.

Die Wes-Kaap is nog altyd beskou as die “broodmandjie” van Suid-Afrika en produseer ongeveer 50% tot 60% van alle plaaslike koring. Koring se winsgewendheid word egter al hoe meer bevraagteken, hoofsaaklik vanweë die lae koringprys en ‘n drastiese styging in insetkoste.

Produsente is gevolglik onder druk om goeie opbrengste te behaal ten einde insetkoste te verhaal en ‘n redelike wins te toon. Seisoene soos 2015 en 2017, waar 40% tot 50% minder as die verwagte oes in die Swartland gelewer is, het beslis nie gehelp nie en koringprodusente in die Wes-Kaap is onder groot druk.

As daar na die toekoms gekyk word, gaan die insetkoste van koring beslis nie afneem nie en die enigste oplossing is dat produsente beter opbrengste moet behaal. Gevolglik is die vrystelling van nuwe hoëopbrengskoringkultivars van groot belang om in die plaaslike verbruik te voorsien, asook om dit ekonomies vir pro­dusente te regverdig om koring te produseer.

In die verlede was die LNR-Kleingraan nog altyd betrokke by die vrystelling van nuwe, verbeterde koringkultivars, maar die fokus het die afgelope paar jaar verskuif na die vrystelling van uitsonderlike hoëopbrengskultivars.

Daar moet ook in ag geneem word dat die genetiese verbetering van koring maar slegs ‘n gedeelte van die opbrengspotensiaal van ‘n kultivar vorm en dat die omgewing en bestuur (wisselboustelsel, bemesting en onkruid-/swambeheer) van so ‘n kultivar ‘n drastiese uitwerking op die finale opbrengs wat verkry word, kan hê.

Die LNR streef gevolglik daarna om kultivars te ontwikkel met verbeterde opbrengspotensiaal, wat goed aangepas is by ‘n wye verskeidenheid van omgewingstoestande – selfs droogte. Bykomend word daarna gestreef om kultivars vry te stel wat oor ‘n redelike vlak van siekteweerstand beskik, asook oor die nodige kwaliteitseienskappe soos vereis word deur die bak- en maalindustrieë.

Met bogenoemde in ag genome, het die LNR onlangs ‘n nuwe kultivar, Tredou, voorgelê vir voorlopige vrystelling. Tredou is ‘n toevoeging tot die huidige reeks van LNR-kultivars: Ratel, Tankwa en Steenbok. Dit het ‘n medium- tot langgroeiseisoen en voorlopige opbrengsproewe het getoon dat dit oor ‘n beter opbrengspotensiaal as sy stalmaats beskik. Verder beskik dit ook oor goeie strooisterkte, pitvastheid en uitloopweerstand.

Opbrengsproewe, wat alle beskikbare kommersiële kultivars insluit, is die afgelope twee jaar op verskeie lokaliteite in die Swartland en Rûens geplant om die aanpasbaarheid van Tredou by verskillende omgewingstoestande te evalueer. Die data het getoon dat die kultivar uitstekend vir toestande in die Swartland en Rûens aangepas is en dat dit uiters kompeterend is met huidige beskikbare kultivars – selfs in ‘n moeilike en droë seisoen soos 2017.

Blaar-, stam-, streep- en witroes is van die bekendste swaminfeksies wat jaarliks onder koring waargeneem word. Alhoewel koring elke jaar vir hierdie swamsiektes gespuit word, is dit voordelig as ‘n kultivar ‘n matige weerstand teen bogenoemde swaminfeksies het, aangesien minder bespuitings nodig is om die swaminfeksies te beheer. Tredou is matig vatbaar vir blaar- en streeproes, maar veldproewe het getoon dat die kultivar uitsonderlik vatbaar is vir poeieragtige meeldou (witroes).

Die LNR is besig met die registrasie van Tredou as ‘n kultivar, soos beskryf in die Wet op Plantetelersregte en dit is onseker wanneer saad beskikbaar sal wees.

Enige navrae ten opsigte van die beskikbaarheid van saad, kan gerig word aan dr André Malan by 058 307 3446 of MalanA@arc.agric.za.

Publication: May 2018

Section: On farm level