Kyk na die natuur en sy kyk na jou

Gepubliseer: 9 September 2020

1256
Jan Greyling,
SA Graan/Grain-medewerker

Bewaringslandbou in wintergraanproduksie vereis volhoubare, winsgewende rotasie­stelsels. Die keuse van rotasiegewasse; die produksie van koolstof (C) en stikstof (N) uit organiese materiaal; grondbiologie as­ook kunsmisaanvullings is alles van deur­slaggewende belang.

Die nuutste bevindings oor die kostedoeltreffendste N-aanvulling en die rol van peulgewasse met optimale wortelnodule-ontwikkeling is tydens Bewa­ringslandbou Wes-Kaap (BLWK) en Landbouweekblad se Jack Human-bewaringslandbouweek-webinaar, vroeg in Augustus, gedeel.

Dr Neil Ballard van Global Pasture Consultants in Wes-Australië sê produsente moet besef dat en­ting vir optimale nodulevorming vir maksimum haarwortelontwikkeling in rotasiepeulgewasse die sleutel tot die natuur se stikstoffabriek is. “Enting vir nodules is relatief goedkoop. As dit reg gedoen word, is dit ’n baie doeltreffende manier om voldoende N vir die volgende koringjaar of -jare te vervaardig.”

Produsente moet seker maak dat entgroepe reg gekies word vir hul spesifieke peulgewasse. Sodoende sal newe-effekte, soos die gevolge van onkruiddoderreste, vermy word.

“Moet geen moeite of tegniek ontsien om te weet wat onder jou grond gebeur nie. Onthou om instruksies op korrel-, vloeibare of voorafbehandelde entstofsaad deeglik te lees en na te kom,” sê dr Ballard.

Meer organiese materiaal vra minder kunsmis
CD du Toit het Lanquedoc by Riversdal in 1992 as ’n beesplaas gekoop. Diereweiding oor jare heen het gesorg vir goeie C-vlakke in die grond. “Ons kon reeds in 1994 begin om gars direk te saai. Hoë C-vlakke waarborg egter nie stabiele grond nie. N-bestuur was uit die staanspoor deel van ons plan. Ons keuse is om so min moontlik en uiteindelik geen kunsmis te gebruik nie.”

Grondstabilisering, die beste moontlike grondbiologie en minimum grondversteuring is volgens CD nodig. “Ons glo in minstens 6% organiese materiaal en is tans op 4% tot 5%. Onthou, as jou kalsium (Ca) 40% is en magnesium (Mg) ook 40%, verhard die grond weer. Dan moet jy dit los maak en is jy terug by die begin.”

Hulle plant twee jaar na mekaar koring en daarna vir ’n jaar radys of kanola. “Ons volg dan weer dieselfde siklus, maar met een jaar koring of dalk twee, afhangend van die volstruisekonomie. ’n Peulgewas in die kanolajaar sal help om N-produksie te verhoog en siektesiklusse te breek, onkruid te bestuur en optimale voorbereiding vir koring te doen.”

In ’n tradisionele lusernproduksiestelsel aan die voet van die berg – waar reënval feitlik regdeur die jaar dieselfde is – vul hulle die mengsel van lusern en wit- en ondergrondse klawer met ’n bietjie kanola aan vir ’n sterk peulgewasbasis-voermengsel.

CD beaam dat minimumbewerking op stabiele grond ’n habitat vir optimale grondlewe met maksimum humusproduksie be­vorder. “Sou kunsmis enigsins nodig wees, is organiese produkte die ideaal. ’n Suikerbyvoeging en visekstrak werk teen enige moontlike skroei. Ons het ’n sagter benadering nodig.”

Hul 1 t/ha tot 1,2 t/ha rou hoendermis in die somer verseker goeie graanvoeding en vul Ca-tekorte aan. “Ons voeg tydens plant, weg van die koring- en kanolasaad af, 40 kg/ha ammoniumfosfaat en 20 kg/ha kalsiumsulfaat asook ’n vloeibare ureum-, suiker- en molassemengsel by.”

Dit lewer sowat 13 kg N/ha. Met byvoeging van ’n 7 kg/ha-mengsel van swart ureum en suiker wanneer daar vir onkruid ge­spuit word, verkry hy net voor oestyd sowat 20 kg N/ha, waarvan net 4 kg/ha “uit ’n sak” uit kom. Wanneer hulle siektes sien, behandel hulle nét die probleem. “Anders spuit ons 10 of 20 jaar se vordering tot niet. Kyk net na die natuur en die natuur sal na jou kyk, maar as jy teen die natuur boer, sal dit jou vir seker tot niet maak,” sê CD.

Met die rotasie van peulgewasse is die regte entstof noodsaaklik om optimale nodulevorming vir maksimum haarwortelontwikkeling – die sleutel tot die natuur se stikstoffabriek – te verseker.
Foto: Global Pasture Consultants
’n Vloeibare inokkuleringsentstof vir nodule-stimulasie vergemaklik aanwending.

Medics: die stikstoffabriek
Op Uitkyk, digby Moorreesburg, bedryf Cobus Bester ’n moderne eenderdestelsel met twee jaar medics en een jaar koring. Dit het hul behoefte aan N-aanvulling oor die afgelope dekade radikaal laat daal. “Ons hou slegs een derde van die plaas se landerye onder koring. Dit verlaag die risiko in die Swartland se wisselvallige klimaat.”

Weens onder normale reënval in 2019 en die droë jare voor 2018 was die uitdagings groot. “Ons kon egter met N-aanvulling van slegs 9 kg/ha steeds ’n gemiddelde 3 t/ha-oes met ’n 13%-proteïeninhoud realiseer.”

Cobus bieg dat hulle sedert 1971 nie hul volle kant gebring het om natuurvriendelik te boer nie. “Ons het egter sedert die vrye mark die koring begin roteer – aanvanklik met kontantgewasse. Een Kersfees het ’n vriend vir my letterlik een vuurhoutjieboksie vol medics-saad gegee. Dit het die plek van natuurlike N-vervaardiging hier vir altyd verander!”

Hul eerste jaar na koring is die sogenaamde “vuil” medics-jaar met ’n mengsel van raaigras, hawer en radys, wat saam met pio­niersgrasse en oorblywende gras ten volle uitgroei vir voer.

Die tweede jaar is dit suiwer medics. “Dit is ons stikstoffabriek, wat grondvoeding op vol standaard bring voordat ons koring plant.” Deur beweiding en bemesting vorm diere ’n integrale deel van hul N-bestuur. Die stelsel bring ook besparing deur slegs elke derde jaar vir koringbeskerming te spuit en ook net een keer tydens medics-rotasies. Insekte in die oes en poeieragtige meeldou en witroes het drasties verminder.

Cobus sê hulle sukses word geïllustreer deur hul opbrengs van 2,7 t/ha in 2019 op die kontrole-aanplanting met geen N-bolaag. “25 jaar gelede sou ons gelukkig wees as ons na sulke droogtes 1 t/ha kon oes.”

Vir ’n ses geslaan
Roelie Steyn van Greenspan sê jy kan nie die lang pad met ’n leë tenk aanpak nie. Daarom kan jy ook nie doodluiters voel oor die N-vlakke in jou lande nie. Die doeltreffendheid van N is werklik meer belangrik as die hoeveelheid daarvan. Dit vereis nuwe denke en doeltreffendheid.

“Die organiese materiaal in jou grond is jou energie deur die groeiseisoen. Meet regdeur die seisoen. Moenie net deurstap nie. Gebruik die kundigheid in jou kontrei.”

Hy vertel: “As jongman het ek en medestudente saam met wyle Jack Human op sy plaas gestap toe hy sê hy gaan voortaan stoppelbewerking doen. Dit het ons, met ons nuwe grond- en kunsmiskennis, verstom.”

Roelie sê toerusting, praktyke, planttegnieke, die klimaat, kultivars en kunsmis het verander. Dus moet óf kunsmis óf plaaspraktyke, soos die afstand van plasing van saad vanaf die kunsmis, ook aanpas. “Die natuur leer ons dat peulgewasse die ideale stik­stofvervaardigers is, al gee dit min voedsame plantmateriaal.” Hy sê produsente in hoër reënvalgebiede in die Wes-Kaap wat in 2018 meer N toegedien het, het gewys dat C in organiese materiaal ’n uitstekende oordraer van N na die volgende jaar is. “Moet nooit die waarde van oesreste onderskat nie.”

Om stoppels ten beste te komposteer moet veral N-vlakke reg aangevul word. Kyk en dink nuut, want ekstra N verseker dat ontbinde stoppels deel word van die grondlewe en nie as koolstof in die lug in verdwyn nie.

“Min N-aanvulling was nodig toe ons nog vore gemaak, geploeg en oesreste gebrand het, maar die organiese materiaal – die grond se energie – was tot niet. Daar was geen deklaag nie. Dit maak jou vir seker armer.”

Die voorsitter van BLWK, MG Lötter, beveel aan dat produ­sente te midde van dié kennis ’n holistiese, vernuwende benadering sonder enige drastiese besluite oorweeg. “Laat jouself toe om foute te maak en moenie opgee nie.”