As boer in jou bloed is

251

Vir die Van Zyls van Marseilles tussen Tweespruit en Ladybrand in die Suidoos-Vrystaat was daar nog nooit juis ’n kwessie hieroor nie: Hulle is produsente.

Theo sr (72) se pa, wat ook in die omgewing geboer het, is skielik oorlede toe hy nog ’n kleuter was en sy kleinboet enkele dae oud. Sy wyle ma, Ella, het koshuismoeder by die eertydse Huishoudskool Anna Scheepers op Tweespruit geword om die pot aan die kook te hou. Sy het Theo beloof sy sal sorg en al die geld wat sy kon afknyp, gespaar om vir haar seun ’n plaas te koop.

Sy het dit reggekry en die resultaat was Prairie – vandag hul familieplaas. Hier boer Theo sr en sy twee seuns, Theo jr en Cobus, in ’n gebied met marginale grond en uiters wisselvallige klimaat van jaar tot jaar vooruit, waarskynlik danksy hierdie oorgeërfde werk­ywer en passie vir boer.

Die aanvanklike plaas wat ouma Ella gekoop het, was 250 ha groot. Deur die jare het Theo sr, wat ná matriek gaan boer het, nog grond rondom bygekoop en net die pa en seuns se saaiery is vandag ongeveer 1 800 ha groot. Dít is benewens ’n beesboerdery op oesreste, groenvoer en veldweiding met Eragrostis en waarvan al die kalwers in hul eie voerkraal, met hul eie kontantgewasse (meestal mieliemeel) afgerond word.

Cobus behartig meestal die saaiery en Theo jr die beesboerdery. Tussendeur hou hul pa, wat hulle omtrent alles van boerdery geleer het, ’n wakende oog.

“Al my boerderyondervinding is eerstehands opgedoen in praktyk, hier op die plaas, te danke aan my pa wat sy kennis op ’n daaglikse basis met my deel. Daarvoor is ek baie dankbaar,” sê Cobus, wat in 2001 amptelik begin boer het nadat hy die nasionale sertifikaat (N3) voltooi het.

Hy sê hulle beleid is om so ver moontlik al die werk self te doen, asook die weeklikse beplanning van onder meer die aankope van onkruiddoders, kunsmis, saad en diesel.

Die Van Zyls plant alles op droëland en op lande met ’n medium opbrengspotensiaal op beide eie en huurgrond. Hiervan is sowat 700 ha gewoonlik mielies, 700 ha Clearfield-sonneblom en ongeveer 400 ha sojabone, in wisselbou.

Hulle behaal ’n gemiddelde opbrengs van 4,8 t/ha mielies, 2 t/ha vir die sonneblom en 1 t/ha vir die sojabone. Vir die mielies en sonneblom word met NPK bemes, maar nie vir die sojabone nie. 500 ha hawer word ook jaarliks as groenvoer aangeplant, wat teen 0,5 ha/bees benut word.

Die sojabone en sonneblom, wat penwortels het, word met minimumbewerking geplant. Vir die mielies vind hulle dat ’n ripbewerking die opbrengs verbeter. 2 ton dolomitiese kalk word per hektaar in ’n siklus van vier jaar op sowat 400 ha per jaar toegedien.

Wat kultivars betref, plant hulle dié wat bewys het dat hulle in beide nat en droë jare ’n stabiele opbrengs lewer. Voorts voeg hulle jaarliks ook een nuwe kultivar by om sy potensiaal te toets.

Onkruid
Die saaiery behels ’n redelike druk program – winter en somer. Onkruidbeheer is vir hulle ’n voorste prioriteit. Die hardnekkigste onkruid wat hulle jaarliks bestry, is skraalhanse en kweek.

In die winter, ná stroop of nadat die vee die lande bewei het, begin hulle beheer toepas met ’n kontrasnyeg (offset-ripper) op die kweekkolle, om die wortels bo die grond te kry sodat die ryp dit kan laat vrek. Dit is gewoonlik dieselfde tyd as wanneer hulle die lande rip en kalk strooi vir die komende jaar se mielies. Onkruid word ook in hierdie tyd gespuit, afhangend van die onkruiddruk.

Sodra dit genoeg gereën het en die onkruid nie meer danksy droogte onderdruk word nie, doen hulle ’n algemene chemiese bespuiting, wat gewoonlik middel Oktober plaasvind.

’n Nuwe praktyk wat hulle nou begin beproef het, is om die skraalhanse vanuit ’n vliegtuig met onkruiddoder te spuit nog voordat die mielies gestroop is en die klein skraalhansplantjies nog plat op die grond groei waar dit tussen die mielies opgekom het.

Voor die aanplanting van al drie kontantgewasse word voor-opkomsbespuitings ook gedoen. Bespuiting word na gelang van die korrekte plantstadium gedoen, soos wat die chemiese maatskappye aanbeveel.

Bespuitings word met ’n hoogloopspuit gedoen, hetsy as ’n algemene bespuiting of met valarm-pypies. Op die mielies, wat ’n groot blaaroppervlakte het, gebruik hulle meestal die valarm-py­pies om tussen die rye toe te dien sodat die chemiese beheermiddel doeltreffender op die grond beland. Die liter per hektaar water wat saam met die gif toegedien word, word volgens die hitte van die dag aangepas.

Plaagbeheer
Ander plae wat hulle teister, is Sclerotinia op die sonneblom, wat soms vir groot oesverliese sorg. Springhaasrotte grawe ook in planttyd saad uit. Teen die Sclerotinia kon hulle nog geen doeltreffende beheerstrategie vind nie, omdat daar nog bitter min navorsing gedoen is waarmee suksesvolle beheermetodes teen dié swam gevind is, sê Cobus.

Die springhaasrotte beheer hulle deur lokaas in hul gate te strooi.

Geldsake
Wat finansiële beplanning betref, vind hulle dit werk goed om rekord te hou deur alles neer te skryf van wat gedoen of gebruik word op die plaas. Dit dien dan as baie goeie beplanning vir die volgende seisoen.

Hulle skryf hul finansiële sukses toe aan ’n konstante dryf om heersende boerderypraktyke te verbeter. Hulle vergader ook twee tot drie keer per jaar met hul boekhouer om kontantvloei en belas­ting te beplan.

Saamwerk vir die toekoms
Cobus is ’n sterk voorstander van groepsbedinging onder produ­sente, omdat dit die produsent meer koopkrag gee en geweldig kan help om insetkoste te verminder. Hulle is tans met ’n paar ander produsente in gesprek hieroor en dit is deel van hul toekomsbeplanning.

Die werksmag op Prairie is opmerklik klein gegewe die omvang van die boerdery en al die take wat daagliks verrig word. Net 7% van die boerdery se omset word aan lone en salarisse bestee, waarskynlik omdat pa en broers skouer aan skouer met die werkers ’n groot deel van die plaaswerk self doen.

Hul werkers se lojaliteit is ook opmerklik. Ten minste een van hulle is al oor die 37 jaar op die plaas (Cobus is self nog nie eens 37 jaar oud nie). Cobus praat vlot Sesotho met hulle, want dis ’n taal waarmee hy kleintyd grootgeword het.

Daar is geen deeltydse werkers in diens nie en in die afgelope vyf jaar het nog net een van hul werkers bedank.

Cobus meen die heersende minimum loon is aanvaarbaar. Hy voeg by dit is vir hulle nog altyd belangrik om hulle werkers behoorlik vir hul diens te vergoed. Minimumloonverhogings speel geen beduidende rol in hul boerdery nie.

Wat van die toekoms? Die politieke onstuimigheid en dreigemente ten spyt, voel Cobus geen nodigheid om elders in Suid-Afrika of in die buiteland te gaan boer nie. Hy glo dit sal oorwaai.

Die veeboerdery
Hul beesboerdery het drie vertakkings – twee stoete en ’n kommersiële kudde. Dit sluit in ’n Sussex-stoet van 230 vroulike diere met kal­wers en tussen 70 en 80 vervangingsverse. Van dié stoet se bulkalfgroep word ten minste 50 bulle grootgemaak en op twee jaar verkoop. Die uitskotbulkalwers rond hulle in die voerkraal op die plaas af.

In die Boran-stoet is daar 110 vroulike diere met kalwers, 30 vervangingsverse en 20 bulle tussen een en drie jaar oud, wat ook as bulle bemark word. Hierdie stoet se uitskot word ook in die voerkraal afgerond.

Die kommersiële kudde bestaan uit 160 F1-koeie, wat kruisings tussen Sussex en Boran is, asook 30 vervangingsverse. Die koeie word met ’n Sussex-bul gepaar vir terminale kruising. Alle kalwers word in hul voerkraal afgerond.

Nadat die kalwers in April gespeen is, word hulle op die hawer gehou sodat verse op twaalf maande oud gepaar kan word en manlike uitskotdiere in die voerkraal afgerond kan word. Alle verse wat gekalf het, word op die hawer gehou totdat die somerveld voldoende is.

Sewe van die boerdery se 13 heeltydse werkers word in die veeboerdery ingespan en die ander ses in die saaiery.