Arbeid – sien die groter prentjie

Gepubliseer: 8 Mei 2023

615
Dirk Coetzee, arbeidsverhouding­spesialis

8 Mei 2023 – Suid-Afrikaanse produsente tel onder die beste in die wêreld. Ten spyte van besonder uitdagende politieke omstandighede, arbeidskwessies en verskeie ander faktore, voed hulle suksesvol die land se bevolking.

Struikelblokke
Die meeste van die struikelblokke waarmee produsente gekonfronteer word, word verskans deur verskeie presisieboerderypraktyke toe te pas. Grondontledings word jaarliks gedoen om tekortkominge in die grond te bepaal sodat dit dadelik hanteer en reggestel kan word. Aspekte soos kuddegesondheid en vrugbaarheid word gemeet en onmiddellik reggestel om die prestasie van skaap- en beeskuddes te verbeter. Die meerderheid produsente meet daag­liks elke deel van hul boerdery en doen regstellings om dit meer effektief en/of winsgewend te bestuur.

Daar is egter een aspek wat ’n wesenlike verskil in die effektiwiteit van ’n boerdery kan maak, maar slegs deur ’n klein persentasie van produsente gemeet word. Dit is menslike hulpbronne, wat alle werknemers, van algemene werkers tot en met plaasbestuurders, insluit.

Die vraag word gereeld gehoor: My werknemers is oneffektief, maar trap net nie genoeg oor die lyn sodat ek hulle kan straf nie. Wat moet ek doen om hierdie gebrek aan prestasie behoorlik te hanteer?

Wees ingelig
Die antwoord is effektiewe meetinstrumente en korrekte toepas­sing van die inligting. Behalwe vir die hoërvlakvoordele soos hierbo genoem, kan die effektiewe bestuur en meting van werknemers se prestasie die laervlakkwessies waarmee produsente op ’n daaglikse basis gekonfronteer word, ook hanteer.

Alhoewel hierdie proses baie minder in boerderye toegepas word as in korporatiewe omgewings, kan die korrekte implemente­ring daarvan tot wesenlike voordeel vir die produsent lei. Nie net stel dit produsente in staat om die mees effektiewe werkers te behou nie, maar dit help ook om rigting aan werkers te gee om so­doende werkerdoelwitte te bereik. Indien werknemers hul doelwitte bereik, sal dit noodwendig help dat bestuursdoelwitte bereik word. Die landbou-omgewing het so ontwikkel in die laaste paar jaar dat plaaswerkers in staat moet wees om GPS-stelsels en trekkermonitors te kan lees en verstaan. Dit is dus noodsaaklik dat hulle die wil moet hê om te groei om hierdie ontwikkelende rolle effektief te vul.

Die prestasiemeetinstrument kan gebruik word om verminderde loonverhogings en/of bonusse te rasionaliseer. Dit sal ook die kwessie hanteer waarmee baie produsente tans gekonfronteer word: Alle werknemers verdien volgens die Wet op die Nasionale Minimum Loon (Wet No. 9 van 2018) dieselfde, ongeag jare diens, ensovoorts. Produsente kan nou verskille in salaris ten opsigte van prestasie rasionaliseer en verduidelik, sou hulle daarmee gekonfronteer word.

Graan SA-fotokompetisie – Wian Moolman, September 2020

Metingstrategie
Alhoewel die meting van prestasie ’n wetenskaplik gefundeerde proses is, kan die stra­tegie soos volg in ’n neutedop uiteengesit word.

  1. Bepaal die beginpunt: Werkers se pre­stasie kan nie gemeet word en daar kan nie bepaal word of verbetering plaasvind indien die huidige prestasievlak van die werknemer nie bekend is nie. ’n Basislyn moet dus eers bepaal word om die werknemer se prestasie en ontwikkeling teen te meet. Hierdie basislyn kan formeel en/of informeel bepaal word, maar die pro­ses moet verkieslik so administratief lig as moontlik wees.
  2. Gee gereelde terugvoer: Behoorlike bestuur van menslike hulpbronne is baie meer as om net een maal per jaar vir ’n werknemer terugvoer te gee oor sy pre­stasie wanneer ’n bonus en/of verhoging gegee word. Prestasiemeting is nie een geïsoleerde gebeurtenis soos byvoorbeeld wanneer wangedrag of afwesigheid hanteer word nie, maar is eerder ’n aaneenlopende proses. Daar behoort deur die jaar vir werknemers gesê te word waar hulle tekortskiet betreffende die sleutelprestasie-areas wat vir hulle gestel is. Hierdie konstante terugvoer sal dadelik tekortkominge aanpak en ’n effektiewe werker verseker. Indien dit nie die geval is nie, sal dit help om dissiplinêr teen die werknemer te kan optree.
  3. Meet die aksie-items: Gereelde terugvoer is net deel van die som en sal nie enige vrugte afwerp as daar nie behoorlike aksieplanne in plek is om te bepaal of daar wel enige verbetering in die pre­stasie van die werknemer is nie. Almal ken die stelling “Om te meet is om te weet”, maar by prestasiemeting word ’n stap verder gegaan. Dit wat gemeet word, moet aandag kry. As daar net vir ’n werker gesê word dat sy prestasie nie op standaard is nie, maar die tekortkominge word nie aangepak nie, sal die werksmag nie die effektiwiteitsgapings wat geïdentifiseer is, vul nie.
  4. Help die span om die groter prentjie te sien: Om bloot vir werkne­mers te sê dat hulle moet verbeter, sal nie noodwendig voldoende wees nie. Help hulle om die groter prentjie te sien. In kort beteken dit bloot dat werknemers die doel en betekenis van hul posisie moet verstaan. Help hulle om die doelwitte wat aan hulle gestel is te bereik en vier dan die bereiking daarvan. Dit sal ook help om ander werknemers aan te moedig om hul doelwitte met nuwe ywer na te jaag.
  5. Gebruik die regte gereedskap: Gebruik ’n instrument wat werk om werknemers se prestasie te meet en te ontwikkel. Die toepassing van generiese instrumente verseker nie noodwendig die beste resultate nie en laat die toepassing daarvan verwater. Stel die instrument saam volgens die boerdery se behoeftes. Hierdie instrumente sal help om die werksmag en die produsent se eie tekortkominge te iden­tifiseer en sodoende deel te vorm van ’n presisieboerderystelsel.

Effektiewe meetinstrumente en korrekte toepassing van die inligting sal help om ’n produktiewe en gehoorsame werksmag daar te stel. Binne hier­die stelsel word die produsent gehelp om effektiewe meet­instrumente vir sy eie arbeidsmag daar te stel, te implementeer en te evalueer.

Produsente is welkom om die outeur te kontak vir ’n voorbeeld van so ’n prestasiemeetinstrument wat aangepas kan word vir hul unieke boerdery.

Dirk Coetzee is ’n arbeidsverhoudingspesialis wat op Bothaville gesetel is. Indien u enige advies rakende hierdie en/of enige ander menslikehulpbron- of arbeidsverhoudingkwessie het, skakel hom gerus by 082 443 0296.