Bemestingspraktyke op sojabone

5089

Kobus van Zyl,
senior landboukundige, Omnia Kunsmis
Petrus van der Merwe,
landboukundige,
Omnia Kunsmis

Sojabone is deel van die peulgewasfamilie – wat uniek is in die opsig dat dit die vermoë het om residuele (opgeboude) grondvrugbaarheid goed te kan benut. Stikstof (N) kan deur peulgewasse gebind word deur ’n simbiotiese verhouding met Bradyrhizobium japonicum, algemeen bekend as knoppiesbakterieë.

Vanweë dié unieke vermoë word die aanname dikwels gemaak dat sojabone nie goed op bemesting reageer nie. Die vertrekpunt bly egter steeds om te weet watter voedingstowwe beskikbaar is vir opname deur die sojaboonplante. ’n Grondontleding sal ’n baie goeie aanduiding gee van die potensieel beskikbare plantvoedingselemente soos fosfaat (P), kalium (K), swael (S), kalsium (Ca) en magnesium (Mg).

Opneembaarheid van voedingselemente
Effektiewe opname van dié voedingstowwe is egter nie gewaarborg nie, aangesien omgewingsfaktore soos plantbeskikbare vog, grond-pH en die voorkoms van aalwurms ’n groot rol kan speel in die opneembaarheid van voedingselemente. Dit is daarom noodsaaklik om te verseker dat die voedingsopname so maklik as moontlik kan plaasvind.

’n Goeie plantermengsel wat gebandplaas word (minstens 5 cm weg en 5 cm onder die saad), kan die plante help met beter vestiging en sterker wortelontwikkeling. Dit is veral die geval in koue, nat gronde asook in sandgronde.

Net soos by enige ander gewas moet die voorafgaande oes se opbrengs en die toestande tydens daardie oesjaar in gedagte gehou word. Voedingstofoordrag kan voorkom in die geval van ’n swakker as verwagte oes. Die teendeel hiervan is gronduitputting, indien die vorige oes beter opbrengste gelewer het as waarvoor bemes is.

As die residuele stikstof van ’n voorafgaande mielie-oes hoog is weens oorbemesting of droogte, is die kans goed dat die daaropvolgende sojaboonoes nie baie goeie knoppiesbakterieë sal vorm nie. Die rede hiervoor is dat die plant genoeg stikstof uit die grond kry en gevolglik nie die simbiotiese verhouding nodig het nie.

Die plante groei dan gewoonlik welig met lang internodiums, maar het relatief lae opbrengste omdat die residuele stikstof later opraak en ’n tekort tydens peulvul ontstaan. Dit gebeur omdat die verminderde hoeveelheid bakterieë nie genoeg stikstof vir die plant kon maak nie.

Stikstof
Op sanderige gronde kan ’n klein hoeveelheid stikstof egter voordelig wees omdat sandgronde relatief lae residuele stikstof behou. Dit gee die plant ’n goeie wegspring, terwyl die simbiotiese werking tussen die sojaboonplant en die bakterieë eers later in werking tree.

Dit sal dan raadsaam wees om die bevindinge en beplanning met ’n kundige gewasadviseur te bespreek om ’n gepaste oplossing met die laagste moontlike risiko te vind.

Voedingstofonttrekking
Volgens die Fertilizer Association of Southern Africa (Fertasa) benodig sojabone net soos enige ander plant voedingstowwe om optimaal te produseer. Sojabone onttrek egter meer voedingstowwe per ton graan gestroop as ander gewasse soos mielies en koring. Tabel 1 toon die voedingstofonttrekking van 1 ton sojabone in vergelyking met die van mielies en koring aan.

Die siening dat sojabone stikstof oordra na die volgende gewas is baie goed in Suid-Afrika nagevors. Dr André Nel (voorheen van die LNR-Graangewasse) meld dat sojabone eerder gesien moet word as stikstofneutraal. Dit beteken dat stikstof nie noodwendig na die volgende gewas oorgedra word nie. Die opbrengsverhoging van mielies wat ná sojabone verbou word, kan eerder toegeskryf word aan ’n verbeterde wortelstelsel (16% meer wortels as mielies op mielies) asook algemene wortelgesondheid.

Belangrikheid van bemesting
Volgens prof Fred Below en dr Ross Bender van die Universiteit van Illinois is bemesting, naas weerstoestande, uiters belangrik om sukses met sojabone te verseker. Hul navorsing toon dat die piek van voedingstofverbruik tussen die R5- en R6-groeistadiums voorkom.

As die grond tydens dié stadiums in die vraag na voedingstowwe kan voorsien, sal daar min reaksie op bemesting wees. Die teenoorgestelde is ook waar as die grond nie dan in die plant se vraag kan voorsien nie.

Opnamekurwes
In Grafiek 1 tot Grafiek 3 word die P-, K- en S-opnamekurwes aangedui vir die kortgroeiersojabone (vinnige sojas) wat in Amerika aangeplant word. Die inligting in die grafieke is gegrond op ’n oes van 4 t/ha.

Voedingstofreserwes soos P (Grafiek 1) word baie vinnig deur sojabone uitgeput. Sowat 80% van die P wat uit die grond opgeneem word, eindig op in die graan.

Sowat 60% van die K (Grafiek 2) en S (Grafiek 3) wat deur sojabone opgeneem word, eindig op in die graan.

Hoe om bemesting aan te pak
Bemesting van sojabone kan op verskeie maniere aangepak word. Bemesting vir graanonttrekking kan gedoen word as die grondontleding normaal is, terwyl daar by laer grondontledings vir meer as onttrekking bemes kan word. ’n Grondregstelling kan ook gedoen word om byvoorbeeld die fosfaatstatus na 20 mg/kg – 25 mg/kg (Bray 1) te verhoog. Bemesting kan ook gedoen word vir wat verwyder is nadat die sojabone gestroop is om sodoende die grondstatus in stand te hou.

Bekalking is baie belangrik om te verseker dat die plantvoedingstowwe optimaal beskikbaar is vir opname deur die wortels, asook om ’n gunstige pH vir die knoppiesbakterieë te skep. Mikro-elemente (sink, yster, mangaan, koper, boor en molibdeen) moet ook aandag geniet, aangesien enige vorm van ’n tekort of swak opname ’n groot invloed op die opbrengs kan hê.

Hoë opbrengste word deesdae meer gereeld geoes waar die klimaat tydens die groeitydperk gunstig was en waar die grond kon voorsien aan die voedingsbehoefte van die hoër opbrengs (Tabel 2). Om groot hoeveelhede voedingstowwe in spesifieke stadiums te voorsien, moet die grond se status van die spesifieke voedingstof hoog wees of genoegsame vars voedingstowwe moet toegedien word.

Bou grond deur presisieregstellings op
Gronde waar gereeld sojabone verbou word en wat nie bemes of deur presisieregstellings opgebou word nie, se voedingstatus gaan agteruit en mettertyd verlaag die opbrengste. Daar is bevind dat die fosfaat- en kaliumstatus aansienlik verminder het oor ’n vyfjaarperiode waar sojas in ’n 50/50-mielierotasiestelsel verbou is.

Fosfaat het gedaal vanaf 18 mg/kg na 9 mg/kg (Bray 1) en kalium het gedaal vanaf 95 mg/kg na 52 mg/kg (ammonium­asetaat). Dit is duidelik dat die grond baie verarm het en dat die potensiaal verlaag het. Dit sal duur wees om die grond weer op te bou tot by optimale vlakke vir gewasproduksie.

Wanneer omgewingsfaktore soos reën (waaroor die produsent geen beheer het nie) nie meer die beperkende faktor vir opbrengste is nie en dit dus die grond se swak voedingstatus is wat die opbrengs bepaal, word die risiko om sojabone ekonomies te verbou, baie hoog.

Bemesting van sojabone moet in beginsel soos enige ander gewas aangepak word – dit wat verwyder is, moet aangevul word. Gebalanseerde bemesting wat die meeste plantvoedingstowwe insluit, sal op lang termyn die beste opbrengsresultate lewer.

Kontak jou naaste Omnia-landboukundige vir advies oor sojaboonbemesting.