Saad maak saak – berg dit reg

192

Die voortslepende droogte in groot dele van die land, asook die onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding, het daartoe gelei dat heelwat minder somergewasse aangeplant is. Die Oesskattingskomitee se aanvanklike berekenings dui ’n daling van tot 19% in vanjaar se mielie-oes aan.

Die dilemma is dat sommige produsente saad aangekoop het wat nie benut is nie. Hoe gemaak daarmee? ’n Kenner in die saadbedryf sê as daar ’n goeie verhouding tussen die saadverskaffer en die produsent is, kan gereël word dat die saad by die verskaffer in gekontroleerde omstandighede gestoor word. Faktore soos bergingskapasiteit en die moontlikheid van diefstal speel egter ’n rol. Die meeste produsente het dus geen ander keuse as om die saad op die plaas te stoor tot omstandighede gunstiger vir aanplanting is nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) is die toestande waaronder saad geberg word, ’n bepalende faktor in die opbrengspotensiaal van die saad. Faktore wat ’n invloed op die opbrengspotensiaal het, sluit die volgende in:

Saadhantering
Saad is ’n lewende organisme en moet gevolglik met sorg hanteer word. Groot peulgewasse soos sojabone en grondbone moet veral reg hanteer word.

Wanneer hierdie saad gelaai word, moet die sakke nie neergegooi word nie. Hardhandige hantering lei daartoe dat die saad bars of beskadig. Volgens kursusmateriaal oor saadhantering van die Universiteit van Pretoria, is interne skade dikwels eers na ontkieming sigbaar. Verborge interne skade lei dikwels tot verlaagde groeikragtigheid en opbrengs.


Langlewendheid
Soos saad verouder, verloor dit geleidelik kiemkragtigheid. Sade van gewasse soos sojabone en grondbone het ’n kort lewensduur. Volgens mnr Willem Engelbrecht, voormalige bestuurder van agronomiese gewasse by Klein Karoo Saad, kan sojaboonsaad nie na ’n volgende seisoen oorgedra word nie. “Dit moet maar as voer gebruik word,” sê hy. Daarteenoor kan mielie- en sonneblomsaad vir twee tot drie seisoene geberg word.

Voginhoud
’n Belangrike faktor wat die leeftyd van saad beïnvloed, is ongetwyfeld voginhoud. Volgens SANSOR verhoog ’n toename in voginhoud die agteruitgang van saad.

Prof David Mycock van Wits se Skool vir Dier-, Plant- en Omgewingswetenskappe en ondervoorsitter van die International Seed Testing Association (ISTA) se tegniese komitee, sê produsente wat saadgewasse kweek, moet daardie saad na die oes so gou moontlik droog kry en in geseëlde houers bewaar.

Bergingstoestande
As opbergingstoestande nie optimaal is nie, sal saadgroeikragtigheid vinniger agteruitgaan. Hoë temperature en hoë saadvogpeile – wat deur hoë relatiewe humiditeit in die stoor veroorsaak kan word – is die belangrikste faktore wat saadagteruitgang veroorsaak.

Relatiewe humiditeit is die hoeveelheid vog in die lug, uitgedruk as ’n persentasie van die totale hoeveelheid vog wat die lug by dieselfde temperatuur kan bevat. Sade met hoë persentasies proteïene, koolhidrate of beide (soos sojabone of mielies) sal vogpersentasies van 13% tot 15% hê by 25ºC en 75% relatiewe humiditeit, terwyl olieryke sade (soos katoen of grondbone) in dieselfde toestande ’n voginhoud van 9% tot 11% sal hê.

Temperatuur
Die bergingsleeftyd van saad neem toe soos die temperatuur afneem. Prof David raai aan dat saad teen sowat 15ºC geberg word. Hy meen egter die ideaal is om saad in koelkamers teen ongeveer 4ºC te berg.