Tekort aan sorghumsaad kry aandag

Gepubliseer: 25 Februarie 2020
SA Graan/Grain redaksie

1618

As gevolg van die grootte van die mark van graansorghum in Suid-Afrika, word saadproduksies gewoonlik op klein skaal aangeplant. Indien daar dus iets sou verkeerd gaan, kan dit uiteraard tekorte veroorsaak. Pannar is een van die belangrikste verskaffers in die graansorghumsaadmark en in die vorige produksieseisoen was daar ’n aansienlike tekort aan hulle bittersorghumsaad.

Pieter Rademeyer, senior agronoom by Pannar, verduidelik dat die maatskappy se kiemplasma uniek is aan Suid-Afrika. Daar is dus nie ’n ander maatskappy elders in die wêreld van wie saad van die rak af ingevoer kan word nie.

Een van die hoofredes vir die tekorte in die 2019-seisoen was saadverwering, wat veral voorkom na saadset en oormatige reën. Tekorte aan saadbeskikbaarheid kan dikwels ook aan hael- en vinkvreetskade toegeskryf word.

Om tekorte in die komende seisoen te verhoed, sal Pannar produksies geografies versprei om risiko te verlaag. Alle saad sal ook onder besproeiing geproduseer word. Die beste kwekers met langtermynervaring in graansorghumsaadproduksie is reeds gekontrakteer. Volgens Pieter pas hulle baie goeie praktyke toe en beskik hulle oor uitstekende grondtipes.

Pieter voeg by dat proefwerk op verskeie ander inisiatiewe, wat gemik is op verbeterde saadkwaliteit en verlaagde risiko, ook tans aandag geniet. “Wees verseker dat die suksesvolle produksie van graan- en voersorghum vir Pannar ’n prioriteit is en dat ons alles in ons vermoë doen om die Pannar-besigheidseenheid en ons kliënte van voldoende kwaliteitsaad te voorsien.”