Wanneer maak oorlê sin?

Gepubliseer: 9 September 2020

1149
Michael van Rooyen,
NWK Landboube­stuursdienste
Martiens du Plessis,
NWK Landboube­stuursdienste

Die druk om kontantgewasverbouing in die westelike saaigebiede op ’n volhoubare basis te bedryf, neem konstant in felheid toe. Dit is veral die ekonomie van en produksierisiko gekoppel aan kon­tantgewasverbouing wat boerdery baie moeilik maak. Kan ’n oorlêstelsel hierdie probleme oorbrug en die produsent help om steeds volhoubaar te boer?

’n Hipotetiese saaiboerdery van 1 000 ha is gebruik om die ekonomie van ’n konvensionele jaar-op-jaar-produksiestelsel te bereken (scenario 1). Dit word vergelyk met dieselfde plaas waar lande jaarliks teen ’n tempo van 20% na ’n oorlêstelsel oorgeskakel word, met al die lande wat teen jaar 5 oorgelê het (scenario 2). In scenario 3 is die infasering vinniger en word 33% van die lande per jaar oorgelê, met al die lande wat in jaar 4 ten volle by die oorlêstelsel ingeskakel is.

In die model word 60% van die lande met mie­lies en 40% met sonneblom aangeplant. In scenario 1 (konvensionele jaar-op-jaar-stelsel) word ’n mielieopbrengs van 3,5 t/ha en ’n sonneblomopbrengs van 1,2 t/ha aanvaar.

By scenario 2 (20%-oorlêstelsel) word die mielies eerste na oorlê geplant en word ’n 40%-opbrengsverhoging van 4,9 t/ha aanvaar. Die mielielande word in jaar 2 na die oorlê met sonneblom opgevolg, teen ’n 30%-opbrengsverhoging na 1,56 t/ha en tweedejaarmielies na oorlê met ’n 15%-opbrengsverhoging na 4,03 t/ha. Vanaf jaar 3 na oorlê word die jaar-op-jaar-opbrengsvlakke vir beide mielies en sonneblom aanvaar. Omdat daar meer mielies as sonneblom geplant word, is daar lande waarop daar tweedejaarmielies geplant word en hier word slegs ’n 15%-verhoging aanvaar. In Grafiek 1 word die geweegde gemiddelde opbrengste vir die drie scenario’s vir mie­lies aangedui.

Grafiek 1: Die geweegde gemiddelde mielieopbrengste (t/ha) vir die drie scenario’s.

In scenario 3 (33%-oorlêstelsel) word die mielies soos in scenario 2 eerste na oorlê geplant en word ’n 40%-opbrengsverhoging van 4,9 t/ha aanvaar. Die mielielande word in die tweede jaar na oorlê met sonneblom opgevolg teen ’n 30%-opbrengsverhoging na 1,56 t/ha en tweedejaarmielies na oorlê met 15% na 4,03 t/ha.

’n Mielieprys van R2 157/ton (sakprys) en R4 633/ton vir sonneblom word aanvaar. Die produksiekoste is volgens die onderskeie scenario’s se opbrengsvlakke aangepas. Vir die oorlêjaar is vier glifosaatbespuitings en een meganiese bewerking begroot, wat ruim is.

Die produksiekoste in die model is gebruik volgens NWK Landboubestuursdienste se produksiekoste­nor­me vir die 2019/2020-produksiejaar. Vir die 3,5 t/ha-mielieopbrengs is die begrote uitgawe van R6 179/ha gebruik en vir die 1,2 t/ha-sonneblomopbrengs is R3 565/ha gebruik. Vir die verhoogde opbrengste is die produksiekoste dienooreenkomstig aangepas.

Hoe lyk die ekonomie?
Inkomste
Oor die vyf jaar is scenario 1 se inkomste die hoogste (Grafiek 2). Scenario 2 en 3 se inkomste is baie laer, aangesien ’n kleiner oppervlakte geplant word. Dit is veral in jaar 1 en 2 waar scenario 2 en 3 ’n baie laer inkomste toon, omdat die voordeel van die oorlê nog nie sigbaar is nie. Daarna beweeg hulle nader aan mekaar, maar hulle sal nooit scenario 1 se inkomste inhaal nie. Die hipotetiese aannames is aan die hand van produsente wat ’n oorlêstelsel bedryf, be­vestig en aangepas om so naby as moontlik aan die waarheid te kom.

Grafiek 2: Die inkomste (R/ha) vir die drie scenario’s oor die vyf jaar.

Uitgawes
Scenario 1 se uitgawes is die hoogste en scenario 2 en 3 se uitgawes is betekenisvol laer (Grafiek 3). Die daling in scenario 1 se uitgawes vir jaar 3 kan aan die verhoudings van die gewasse se oppervlaktes, wat tussen jare verskil, toegeskryf word.

Grafiek 3: Die uitgawes (R/ha) vir die drie scenario’s oor die vyf jaar.

Bruto marges
Grafiek 4 toon die bruto marges vir die 1 000 ha oor die vyf jaar vir die drie scenario’s. Gegewe die opbrengste en pryse in die model, is elke scenario se bruto marge in jaar 1 reeds positief. In jaar 1 is scenario 2 se bruto marge 29,3% laer as scenario 1 en scenario 3 is 50,9% laer (Grafiek 5). Scenario 2 se bruto marge is in jaar 4 beter as scenario 1 en in jaar 5 is dit 18,8% beter. Scenario 3 breek reeds in jaar 2 gelyk met scenario 1 en daarna is hierdie scenario deurgaans die beste.

Grafiek 4: Die bruto marges (rand) vir die 1 000 ha oor die vyf jaar vir die drie scenario’s.
Grafiek 5: Die verskil van die bruto marge van die scenario’s as persentasie van scenario 1.

Kontantvloei
Die stawe in Grafiek 6 toon die verskil in jaarlikse bruto marge van scenario 2 vergeleke met scenario 1. In jaar 1 tot jaar 3 is scenario 2 se marges swakker as dié van scenario 1, waarna dit in jaar 4 en jaar 5 beter as scenario 1 is. Die lyn toon die kumulatiewe verskil (verlies teenoor scenario 1) oor die vyf jaar. Hiervolgens word die agterstand eers in jaar 5 uitgewis. Rente is in berekening gebring.

Grafiek 6: Die verskil in jaarlikse bruto marge van scenario 2 vergeleke met scenario 1.

Grafiek 7 toon scena­rio 3 se vergelykende berekeninge soos in Grafiek 6. Hiervolgens is scenario 3 reeds in jaar 2 positief teenoor scenario 1 en haal dit die agterstand in jaar 5 in, met ’n noemens­waardige surplus wat oorbly.

Grafiek 7: Die verskil in jaarlikse bruto marge van scenario 3 vergeleke met scenario 1.

Hoe lyk dit in die stelsel?
In Tabel 1 is scenario 3 met scenario 1 vergelyk nadat die oorlêstelsel volledig geïmplementeer is. In die tabel loop die stelsel vir ses jaar om vir twee siklusse voorsiening te maak. Scenario 3 se gemiddelde inkomste vir die tydperk is 13,85% laer as scenario 1 se inkomste. Daarteenoor is die uitgawes ook heelwat laer, naamlik 27,19% as wat dit sou wees vir scenario 1, met ’n positiewe verskil van 31% waar scenario 3 beter vaar as scenario 1.

WM = witmielies
FH = sonneblom

Volgens werklike syfers van ’n geval­lestudie in Coligny, is die bruto marge in ’n eenderde-oorlêstelsel (vergelykbaar met scenario 3 van die hipotetiese model in hierdie artikel) 26,23% beter as die jaar-op-jaar-stelsel.

Die effek van graanpryse
Hoe hoër die graanprys, hoe beter vaar die konvensionele jaar-op-jaar-stelsel. Tabel 2 toon die effek van die graanprys op die verlies in bruto marge teenoor scenario 1. Hiervolgens haal die oorlêstelsel nie die kumulatiewe verlies in bruto marge binne vyf jaar in nie, sou die sakprys R2 100/ton en laer wees. Met ’n sakprys van R2 150/ton, word die kumulatiewe verlies in bruto marge in jaar 5 ingehaal, plus ’n oorskot van R330 293 vir die 1 000 ha wat gerealiseer word. Met ’n sakprys van R2 250/ton word die kumulatiewe agterstand in jaar 3 feitlik ingehaal en in jaar 5 is die kumulatiewe oorskot R1 229 567.

Hoe om oor te skakel na ’n oorlêstelsel?
Een alternatief is om stadig in die oorlêstelsel in te groei deur in jaar 1 sowat 20% van die lande oor te lê (scenario 2). Dit is be­langrik dat die oorlêlande totaal onkruidvry gehou moet word om optimaal vog op te gaar. Indien beskikbaarheid van bedryfskapitaal dit toelaat, kan daar dadelik na die 33%-oorlêstelsel (scenario 3) oorgeskakel word. ’n Ander strategie kan wees om in jaar 1 en moontlik jaar 2 die hektare wat in oorlê gaan, te vervang deur bykomende lande te huur ten einde die kontantvloei te diens.

Onderliggende voordele
Behalwe dat die stelsel ekonomies sin maak, is daar ’n aantal onderliggende voordele. Die belangrikste hiervan is sekerlik dat opbrengste grotendeels gestabiliseer word en dat die produksierisiko betekenisvol verlaag word. Omdat daar altyd op nat grond geplant word, is die kans vir ’n misoes betekenisvol minder, wat oessekerheid verhoog en risiko verlaag. Droë jare word dikwels ook met hoër graanpryse gekorreleer en produsente met graan in droë jare kan die hoër pryse benut. Die oorlêstelsel verhoog in wese die gerealiseerde, geweegde, gemiddelde langtermyngraanprys.

Tydigheid is ’n baie belangrike beginsel in gewasproduksie. Oorlêlande bied die geleentheid om hulle in die somer en herfs te bekalk, die kalk in te werk en skeurploegbewerkings te doen. Hierdie lande wat vooraf bewerk is, benodig dan ook tydens planttyd minder reën om te plant. Dit impliseer verder dat die produsent ’n groter kans het om al sy lande in die optimale planttyd geplant te kry.

Verder word bestaande trekkers en implemente op ’n kleiner oppervlakte toegespits, wat die produsent ’n beter slaan­krag gee. Minder trekkers en implemente is dus nodig om die 1 000 ha te bewerk en te plant, wat die boerdery se meganisasiekoste verlaag. Dit het ook ’n invloed op die waardevermindering van die landbouwerktuie omdat dit langer hou. Die onderhouds­kosterekening verlaag omdat slegs 67% van die lande in die eenderde-oorlêstelsel bewerk word. Verder verlaag die brand­stofrekening ook.

Hardnekkige onkruide soos kweekgras, Johnson-gras, wilde sorghum en uintjies kan in die oorlêjaar die nekslag toegedien word. Die land is “oop” vir die nodige onkruiddoders of meganiese bewerkings.

Grondtipes
Die verskil in mieliegraanproduksie tussen scenario 1 en 3 in die model is bykans 1,5 t/ha. Om dit te bewerkstellig, is sowat 83 mm water bykomend nodig. Dié water moet by wyse van die oorlêjaar in die grond opgegaar word en na die opvolgseisoen oorgedra word. Daarvoor gaan daar sowat 250 mm reën nodig wees gedurende die oorlêjaar. Die normale reënval in die wes­telike saaistreke is ongeveer dubbel dít, wat dié oefening teoreties baie moontlik maak en selfs heelwat beter. Om 500 mm teen ’n opgaringsdoeltreffendheid van 33% op te gaar, moet die grond wat in oorlê gaan sowat 165 mm water kan hou. In beide dié twee gevalle word gepraat van gronde wat minstens 1 m diep is. 2 m diep is egter beter en as daar ’n kleilaag onder 1,5 m-diepte voorkom, nóg beter. Gronde van die Avalon-, Pinedene-, Bainsvlei- en Bloemdal-vorm, wat minstens 1 m diep is tot op die kleilaag (sagte plintiet of glei) is geskik. As die kleilaag op sowat 1,5 m voorkom, is dit nóg beter. Diep gronde (2 m) van die Hutton-, Clovelly-, Glencoe- en Lichtenburg-vorm kan ook werk.

Slaggate en uitdagings

  • Alles is nie net maanskyn en rose met ’n oorlêstelsel nie. Die oorlêlande moet totaal onkruidvry gehou word. Ongelukkig groei onkruid op dieselfde tyd as die ander gewasse en mag dit nodig wees om tydens kritieke tye ook aan die oorlêlande aandag te gee. Dit is raadsaam om die oorlêlande voor planttyd met oorblywende onkruiddoders te bespuit, sodat hulle minstens oor planttyd en topbemestingstyd onkruidvry sal bly.
  • Winderosie is ’n ander jakkals! Die beste manier is om die oesreste staande te hou en so lank as moontlik chemiese onkruidbeheer toe te pas.
  • Watererosie kan verder problematies wees. Ook hier moet daar so min moontlik meganies met die grond gekarring word. Die oesreste moet bo-op die grond gelaat word en verkieslik moet die stoppels deur die oorlêjaar regop bly staan en nie platgerol word nie. Die organiese materiaal op die grond is uiters bevorderlik vir waterinfiltrasie.
  • Hoë graanpryse maak die jaar-op-jaar-stelsel meer aanloklik. Indien die produsent voor hierdie versoeking swig, moet hy daarna weer voor begin om in die stelsel te kom.
  • Moenie oorlêlande laat vuil word nie. Dit skakel die oorlêvoordeel baie vinnig uit.
  • Dit kan ’n strategie wees om die oorlêlande met ’n vinnige gewas soos akkerbone te beplant. Onthou net dat die akkerbone ook water gebruik en die volle oorlêvoordeel dan nie vir die op­volggewas beskikbaar gaan wees nie.
  • In die oorlêstelsel moet bemesting vir die hoër opbrengste aangepas word.
  • Praktyke en bestuur moet aangepas word om hierdie verhoogde potensiaal te laat realiseer.

Samevatting
Die oorskakeling na ’n oorlêstelsel gaan druk op die boerdery se kontantvloei plaas en finansiering moet hiervoor begroot word. As die boerdery eers oorgeskakel is, maak dit ekonomies sin en verlaag produksierisiko betekenisvol. Die onderliggende voordele is beslis nie te versmaai nie. Die produsent van die gevallestudie in Coligny beveel aan dat “produsente die unieke uitdagings en geleenthede wat die stelsel bied, op hulle eie grond moet ontdek, deur dit op klein skaal, maar deeglik te beproef”. Dit wil voorkom of oorlêstelsels die boerdery se volhoubaarheid ’n goeie hupstoot kan gee.

Vir meer inligting, kontak die outeurs by lbd@nwk.co.za of 018 633 1143.

Bronne

  1. Conradie, FH. 2019. Persoonlike mededeling. Mielieprodusent, Coligny.
  2. Van Rooyen, M & Schepers, A. 2019. Opsommende begrotings van bedryfsvertakkings vir die 2019/2020-produksieseisoen. Ongepubliseerde verslag. NWK Landboubestuursdienste, NWK Beperk. Lichtenburg.