SA-graanprodusente sukkel te midde van erge droogte en hittegolwe

Graan SA Kommunikasie
Gepubliseer: 15 Maart 2024

407

Suid-Afrika word deur ’n ernstige droogtekrisis in die gesig gestaar wat deur uiterste hittegolwe vererger word – en die land se graanprodusente onder geweldige druk laat wankel. Die versengende temperature en langdurige droë periodes het landbougrond verwoes en beide ontwikkelende en kommersiële produsente ernstig geraak. Met finansiële druk wat toeneem as gevolg van verlaagde opbrengste en stygende produksiekoste, doen die Suid-Afrikaanse graanbedryf ’n dringende beroep op die regering vir ondersteuning en bystand om die las op produsente te verlig.

Die huidige droogte wat Suid-Afrika teister het landboutoestande tot hul uiterste gedruk. Die meedoënlose hittegolwe, tesame met wisselvallige reënvalpatrone, het landerye uitgedroog, wat dit droog en kliphard laat. Graanprodusente, wat die ruggraat van die land se landbousektor vorm, het ’n opdraande stryd terwyl hulle sukkel om die vernietigende gevolge van die droogte die hoof te bied, met sommige produsente wat minder as 50% van hul gemiddelde reënval in die huidige seisoen ontvang het.

Dit is boonop in ’n bedryf wat reeds ’n negatiewe groei in bruto binnelandse produk (BBP) vir die laaste twee kwartale ervaar het, wat landbou in ’n tegniese resessie plaas. Graan- en oliesade vorm deel van 70% van alle voedsel en het dus ’n groot vermenigvuldigingseffek oor verskeie bedrywe. Die finansiële druk op graanprodusente het verreikende implikasies, nie net vir hul eie lewensbestaan nie, maar ook vir Suid-Afrika se BBP. Dit is dus uiters belangrik – en in landsbelang – dat produsente bygestaan word om die droogtesiklus finansieel te oorleef.

“Die snikhete temperature het gelei tot verlaagde opbrengste en kwynende winsmarges en bedreig die lewensvatbaarheid van totale bedrywighede. Baie kommersiële produsente worstel met die vooruitsig van oesmislukkings en finansiële verliese, wat die druk op hul besighede verder vererger,” het Derek Mathews, Graan SA-voorsitter, gesê.

Hierdie impak is ook meer opmerklik onder ontwikkelende produsente, wat dikwels nie die finansiële hulpbronne en infrastruktuur het om sulke teëspoed te weerstaan nie. Beleggings wat in die ontwikkeling van die landbousektor gemaak is, word afgeskaal weens die ramp van die droogte. Met hul lewensbestaan wat in die weegskaal hang, en geen manier om die risiko te versag nie, moet hierdie produsente ernstige finansiële beperkings trotseer en sukkel om hul plase aan die gang te hou te midde van kwynende hulpbronne en toenemende skuld.

“Die huidige toestande beklemtoon die realiteite van landbouproduksie en die impak van klimaatstoestande op voedselsekerheid en -pryse vir Suid-Afrikaners, maar ook die Suider-Afrikaanse gemeenskap. Landbouprodusente is tans besig met finansiers en landboubesighede om te verseker dat hulle in die volgende seisoen produksie kan hervat. Dit is egter duidelik dat ’n aantal produsente in ernstige nood verkeer en ondersteuning sal benodig om die volhoubaarheid van ons voedselproduksiesektor te verseker,” het dr Tobias Doyer, Graan SA-HUB, gesê.

Met inagneming van hierdie uitdagings doen die Suid-Afrikaanse graanbedryf ’n dringende beroep op die regering vir ondersteuning en bystand. Onmiddellike optrede is nodig om finansiële bystand te verskaf deur middel van ’n landbourampfonds, toegang tot bekostigbare kredietoplossings en bekostigbare inkomsteversekering, wat produsente in staat sal stel om die krisis te deurstaan en hul bestaan te onderhou.