Proewe bevorder plaaslike sorghumproduksie

Petru Fourie, navorsingskoördineerder en landbou-ekonoom, Agri Manage Solutions
Gepubliseer: 4 September 2023

531

Graan SA se sorghumkultivarproefprojek is in sy agste seisoen. Die projek vind plaas in samewer­king met die sorghumsaadmaatskappye (Agricol, Lima Grain Zaad, Corteva en AGT Foods Africa), produsente en Graan SA. Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Lokaliteite
Volgens beplanning is daar die afgelope seisoen ses strookproewe aangeplant, waarvan almal suksesvolle resultate gelewer het. ’n Opsomming van die proewe en of dit suksesvol gestroop is al dan nie, word in Tabel 1 aangedui. Die resultate van die proewe word in hierdie artikel bespreek.

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is sowel as potensieel “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Wanneer die resultate in die artikel van nader bekyk word, is dit opmerklik hoeveel nuwe kultivars die afgelope paar seisoene in die proewe ingeskryf is. Corteva se Pan 8816 is as kontrole in Mpumalanga gebruik, terwyl Lima Grain Zaad se Mr Buster as kontrole in Limpopo gebruik is. Die koëffisiënt van variasie (KV) dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan, met ’n waarde laer as 15 wat as statisties goed beoordeel word.

Resultate
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir die omgewing aan te plant. Die tabelle verskaf die opbrengste per kultivar, gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se KV.

Mpumalanga
Standerton 1
In Tabel 2 word die opbrengsdata vir Standerton vir die 2022/2023-produksieseisoen aangetoon. Die KV was baie laag (6,70%), wat aandui dat die proef uiters goed uitgevoer is en die resultate betroubaar is. Die saadmaatskappye het in totaal 13 kultivars in die Standerton-proef ingeskryf, waarvan vier vir die eerste keer in dié proef aangeplant is. Dit is die derde seisoen dat Corteva se PEX 81 in die proef ingeskryf is en dié kultivar het in al drie seisoene die hoogste opbrengs behaal. Dit is ook die derde seisoen dat PAN 8950 van Corteva in die proef ingeskryf is – en dit het die afgelope seisoen tweede beste presteer Dit is belangrik om daarop te let dat albei hierdie kultivars nog nie kommersieel beskikbaar is nie, maar baie belowend presteer. ’n Gemiddelde opbrengs van 6,07 t/ha is vir die proef behaal.

2022/2023 se nuwekultivar-inskrywings is AGT Foods Africa (Gibson, NS 5540) en Agricol (Cracka, AGEXP 55STS).

Die opbrengsdata vir kultivars wat langer as twee jaar in hierdie Standerton-proef ingesluit is, se gemiddeldes word in Tabel 3 aangetoon. Kultivars wat slegs een seisoen in die proef ingesluit was of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, is nie in die tabel ingesluit nie. Kultivars wat wel nog in toetsfase of potensieel “goeie” kultivars is, se resultate is in die onderstaande tabel in­gesluit. Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Agricol se Enforcer en Corteva se PAN 8816 is die enigste twee kultivars wat agt jaar in die proef ingeskryf is. Die kultivars wat vir meer as een seisoen in die proef ingeskryf is, se gemiddeld is ook bereken.

Standerton 2
In Tabel 4 word die opbrengsdata vir ’n tweede lokaliteit in Standerton vir die 2022/2023-produksieseisoen aangetoon. Die kultivars wat in dié proef ingeskryf is, verskil van die kultivars in die Standerton 1-omgewing, aangesien die produsent verkieslik soet­sorghum-kultivars wou insluit. ’n Gemiddelde opbrengs van 5,58 t/ha is vir die proef behaal.

Limpopo
Settlers
Dit is die sewende jaar dat ’n proef in Settlers aange­plant is. Slegs twee nuwe kultivars is die afgelope seisoen in dié spesifieke lokaliteit ingeskryf. In Tabel 5 word die opbrengsdata vir die 2022/­2023-produksieseisoen aan­getoon. Die proef is goed uitgevoer en die resultate betroubaar as daar na die KV gekyk word. Lima Grain Zaad se Mr Buster het baie goed presteer en het die beste opbrengs vir die 2022/2023-seisoen gelewer, terwyl Agricol se Enforcer die tweede beste opbrengs behaal het. AGT Foods Africa se Gibson het derde beste presteer, gevolg deur PEX 81 van Corteva. Die KV was 12,06% en ’n gemiddelde opbrengs van 2,16 t/ha is behaal.

2022/2023 se nuwekultivar-inskrywings is AGT Foods Africa (Gibson, NK 8830)

Die opbrengsdata vir hierdie langtermynproef word in Tabel 6 aangetoon. Kultivars wat slegs een seisoen in die proef ingesluit was of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, is nie in die tabel ingesluit nie. Kultivars wat ook nog in toetsfase of potensieel “goeie” kultivars is, se resultate is in die tabel ingesluit. Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel KV kan per seisoen vergelyk word. Volgens die data is dit opmerklik dat die afgelope seisoen ’n baie beter seisoen was en die beste opbrengs sedert die 2017/2018-seisoen is behaal. Agricol se Enforcer het die hoogste sesjaar- gemiddelde opbrengs met 2,75 t/ha behaal, gevolg deur Lima Grain Zaad se Mr Buster en Corteva se Pan 8816 met onderskeidelik 2,57 t/ha en 2,09 t/ha.

Lehau
Dit is die derde jaar dat ’n proef in Lehau aangeplant is. Slegs twee nuwe kultivars is die afgelope seisoen in dié spesifieke lokaliteit ingeskryf. In Tabel 7 word die opbrengsdata vir die 2022/2023-produksieseisoen aangetoon. Die proef is goed uitgevoer en die resultate betroubaar as daar na die KV gekyk word. Corteva se PAN 8816 het baie goed pre­steer en het die beste opbrengs vir die 2022/2023-seisoen ge­le­wer, terwyl Lima Grain Zaad se Mr Buster die tweede beste opbrengs behaal het. Corteva se PEX 81 het derde beste presteer, gevolg deur Mr Taurus van Lima Grain Zaad. Die KV was 4,75% en ’n gemiddelde opbrengs van 4,65 t/ha is behaal.

2022/2023 se nuwekultivar-inskrywings is AGT Foods Africa (Gibson, NK 8830¹*).

Die opbrengsdata sedert die proef in die omge­wing aangeplant is, word in Tabel 8 aangetoon. Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Die data dui aan dat die afgelope seisoen ’n goeie seisoen was en ’n puik opbrengs is in Lehau behaal. Lima Grain Zaad se Mr Buster het die hoogste driejaar- gemiddelde opbrengs met 2,87 t/ha behaal, gevolg deur Agricol se Cracka en Lima Grain Zaad se Mr Taurus met onderskeidelik 2,42 t/ha en 2,39 t/ha.

Immerpan
Dit is die eerste jaar dat ’n strookproef in Immerpan aangeplant is. In Tabel 9 word die opbrengsdata vir die 2022/2023-produksieseisoen aangetoon. Die KV was 4,73% en ’n gemiddelde opbrengs van 3,54 t/ha is behaal.

Noordwes
Ottosdal
In Tabel 10 word die opbrengsdata vir die 2022/2023- produksieseisoen vir Ottosdal aangetoon. Daar is slegs drie bittersorghum-kultivars in die proef ingesluit en die prestasie tussen die kultivars kan waargeneem word. Die KV was 14,57% en ’n uitsonderlike gemiddelde opbrengs van 4,79 t/ha is behaal.

Slotsom
Graan SA bedank elke individu wat saamwerk om plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur dié projek aan te pak. So ’n taak kan nie gedoen word sonder toegewyde, doelgerigte produsente en die samewerking en bystand van Lima Grain Zaad, Agricol, AGT Foods Africa en Corteva nie. Daar is groot waardering vir al die rolspe­lers se moeite en opofferings met die uitvoering van die proewe.

Die resultate kan ook op Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za onder die graannavorsingopskrif besigtig word. Graan SA spreek sy opregte dank aan die Sorghum Trust uit vir hulle finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.

Samewerking met die uitvoering van die sorghumproewe:
Saadmaatskappye: Corteva, Agricol, AGT Foods Africa en Lima Grain Zaad.
Produsente: Produsente wat die proewe aanplant en alle insette behalwe die saad verskaf.
Graan SA: Koördinering en implementering van sorghumkultivarproewe volgens streek.
Sorghum Trust: Finansiële ondersteuning.