Droëlandkoring in die Vrystaat – is plantdatum belangrik?

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

3063
Dr Robbie Lindeque,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem
Dr Chrissie Miles,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem

Plantdatums is uiters belangrik en hou direk verband met die verbouing van winter- en intermediêre koring. In die laat 1980’s het koringwetenskaplikes dikwels geredekawel oor die definisies van die twee koringtipes en is daar helaas besluit om die verskil geneties te verklaar.

Die definisies berus daarop dat egte winterkoring nie enige van die dominante Vrn-gene bevat nie en dus ’n lang groeiperiode en ’n groot aantal koue-eenhede benodig voordat are gevorm word. Hierdie twee koringtipes was aanvanklik so belangrik geag vir droëlandkoringverbouing in die Vrystaat dat daar op ’n stadium twee onafhanklike teelprogramme daarvoor by die destydse Kleingraansentrum bestaan het. Plantdatums van winterkoring (Junie) en intermediêre koring (Julie) kan met meer as ’n maand van mekaar verskil, maar sal waarskynlik aan die einde van die groeiseisoen in Desember baie naby aan dieselfde tyd oesryp wees.

Plantdatum is nie veronderstel om ’n lukrake besluit te wees nie. Die uiteindelike redes wat ’n koringprodusent se finale besluit oor planttyd bepaal, verskil waarskynlik van plaas tot plaas. Eerstens is die mikpunt van enige graanprodusent om die beste opbrengste en kwaliteit met sy oes te behaal, maar tweedens moet die bestuur en verbouing daarvan ook prakties moontlik wees en inpas in die groter opset van sy verbouingsisteem.

Koringplantdatum vir hoë graanopbrengs en graad
Indien ’n koringprodusent die optimum plantdatum van koring vooraf vir ’n bepaalde seisoen kon vasstel, sou die volgende boustene in die volmaakte verhouding tot mekaar voorkom:

  • Optimale grondvog wanneer daar geplant word.
  • Optimale grondvog tydens groeistadiums wanneer graanopbrengs en koringkwaliteit vasgelê en verwesenlik word.
  • Minimum en maksimum temperature wat optimale ontwikkeling (groei) van plantkomponente bevorder.
  • Die korrekte tipe en hoeveelheid voedingstowwe om plantkomponente gesond, sterk en aktief te laat groei.

Genetiese potensiaal van goeie kultivars kom slegs tot volle uiting onder bogenoemde toestande en die swakste bousteen bepaal uiteindelik die finale prestasie van ’n koringkultivar.

Opbrengs- en graadvergelyking
Opbrengs- en graadvergelyking van die volledige lys droëlandkoringkultivars uit die Nasionale Kultivarproewe oor twee plantdatums, skep dikwels ’n skewe beeld omdat ’n ongelyke getal wintertipe teenoor intermediêre kultivars hierin voorkom. Wintertipe koring benodig aansienlik meer koue-eenhede as intermediêre koring, wat dus ’n langer groeiseisoen en gevolglik ’n vroeër plantdatum vereis. Vir ’n vergelyking tussen plantdatums in hierdie studie is die opbrengs en graad van slegs die beste vyf kultivars uit elke plantdatum van 2018 vergelyk. Die resultate in Tabel 1 illustreer bogenoemde feit, deurdat geen kultivar in beide die vroeë en later plantdatum van 2018 voorkom nie.

Uit die bestuursoogpunt van ’n koringprodusent is dit goeie nuus dat slegs geringe verskille tussen dieselfde parameters oor die twee plantdatums van 2018 voorkom (Tabel 1). Die gemiddelde graanopbrengs asook hektolitermassa en valgetal van die vroeë plantdatum (winterkoring) is effe beter as met die later plantdatum (intermediêre koring), maar die graad van intermediêre koring sou steeds ’n B1 behaal het. Die hoeveelheid inkomste per hektaar van winterkoring (vroeë plantdatum) is hoër en sou ’n addisionele R26 000 oor ’n 500 ha-koringaanplanting beteken. Die inkomsteverskil is waarskynlik die resultaat van ’n hoër opbrengs van die B2-kultivar in die vroeë aanplanting teenoor die laer opbrengs van die B2-kultivar in die laat aanplanting (Tabel 1).

Koringplantdatum as ’n bestuursmeganisme
Een van die belangrikste voordele van ’n vroeë en later plantdatum is nie noodwendig gekoppel aan ’n direkte finansiële voordeel nie, maar eerder aan die tyd wat beskikbaar raak om, onder meer, die oesproses van somergrane af te handel. Vroeg of laat plant kan ook aangewend word om piektye waarin plae en ongure klimaatstoestande voorkom, te ontduik. Vir die koringprodusent bied dit ’n manier om die effek van klimaatvariasie op graanopbrengs en graad te bestuur.

Graanopbrengsdata uit die Nasionale Kultivar­proewe (LNR-Kleingraan) en klimaatsdata (LNR-IGKW) vanaf 2015 tot 2018 uit die Oos-Vrystaat (Bethlehem-omgewing) is gekorreleer met minimum temperature, maksimum temperature en reënval (Grafiek 1 en Grafiek 2). Korrelasies is vanaf Maart tot November gedoen, omdat hierdie as die belangrikste maande beskou word vir die voorbereiding, vestiging en ontwikkeling van droëlandkoring in die Oos-Vrystaat. Alhoewel data van enige twee faktore gekorreleer kan word, byvoorbeeld aantal koffiedrinkers met hoeveelheid swembadverdrinkings, beteken ’n positiewe korrelasie van hierdie voorbeeld nie dat meer koppies koffie tot ’n groter aantal swembadverdrinkings gaan lei nie. Die verband tussen faktore is meestal indirek, wat beteken dat omstandighede wat in die geval van ’n positiewe korrelasie (bokant die basislyn) tot ’n toename in die een faktor lei, ook die ander faktor bevoordeel.

Grafiek 1: Die maandelikse korrelasies wat voorkom tussen klimaat en graanopbrengs by ’n vroeër plantdatum in die Oos-Vrystaat (2015 tot 2018).
Grafiek 2: Die maandelikse korrelasies wat voorkom tussen klimaat en graanopbrengs by ’n later plantdatum in die Oos-Vrystaat (2015 tot 2018).

Minimum temperature (°C)
Hoër graanopbrengs van die vroeë aanplanting (winterkoring) gaan in hierdie studie gepaard met kouer nagtemperature (laer minimum temperature) in Julie (Grafiek 1). Dit kan verklaar word aan die hand van die hoër vernalisasiebehoefte van winterkoring en word oor die algemeen bevestig deur laer opbrengste van winterkoring wat laat aangeplant word. Kouer nagtemperature hou waarskynlik ook verband met meer beskikbare grondvog tydens planttyd, ontkieming en saailingontwikkeling.

Graanopbrengs van later aanplantings (intermediêre koring) korreleer ook positief met kouer nagtemperature (Grafiek 2). Hierdie kouer nagtemperature is ’n maand voor die aanvang van die laat aanplantings (Junie), en tydens planttyd in Julie, belangrik. Soortgelyk aan die vroeë aanplantings, verminder kouer nagtemperature verliese aan kritieke grondvog, maar is steeds genoeg om aan die laer vernalisasiebehoefte van intermediêre koringtipes te voldoen. Kouer nagtemperature in Oktober het ook positief gekorreleer met graanopbrengs en dui weereens op beter vogtoestande. Hierdie kouer nagtemperature is ook bevorderlik vir die ontwikkeling van blompakkies en be­stuiwing van koringplante (Grafiek 2).

Maksimum temperature (°C)
Dagtemperature (maksimum temperature) is volgens hierdie studie die belangrikste klimaatsfaktor in die bepaling van opbrengs by winterkoring en het in Junie en September negatief met graanopbrengs gekorreleer. Dagtemperature in Junie, kort na ontkie­ming en tydens saailingontwikkeling, is baie belangrik vir vernalisasie van winterkoring, terwyl warm dagtemperature in September blompakkievorming en bestuiwing kan benadeel (Grafiek 1). Die rede waarom warm dagtemperature in April positief met graanopbrengs van intermediêre koring, wat eers in Julie geplant word, korreleer, is waarskynlik ’n indirekte verband tussen toestande wat bevorderlik is vir reën in April (Grafiek 2).

Reënval (mm)
Korrelasies tussen reënval en graanopbrengs by winterkoring en intermediêre koring verskil in hierdie studie in ’n baie belangrike opsig. Die positiewe korrelasie by winterkoring vind in April plaas. Dit val dus nog buite die winterkoringseisoen. Reënval korreleer positief met graanopbrengs van intermediêre koring in Julie en Oktober. Dit stem ooreen met die planttyd en blomstadium daarvan (Grafiek 2). Vir winterkoring in die Oos-Vrystaat beteken dit dat grondbewerking daarvoor reeds in April reg moet wees, maar indien reënval in April/Mei onder gemiddeld is, aanplantings van winterkoring heroorweeg word. By intermediêre koring hou die positiewe korrelasies tussen reënval en graanopbrengs in Julie verband met goeie vogtoestande tydens planttyd, ontkieming en saailingontwikkeling, asook die vaslegging van ’n goeie opbrengspotensiaal in vroeë ontwikkeling van koringplante. Hierdie goeie wegspring moet egter weer in Oktober deur goeie reënval aangevul word om die opbrengspotensiaal te verwesenlik. Vandaar die positiewe korrelasie tussen opbrengs en reënval in Oktober-maand.

Opsommend
Die beskikbaarheid van winterkoring en/of intermediêre koring bied aan die binnelandse koringprodusent ’n handige bestuursopsie wat nie in die winterreënstreek beskikbaar is nie. In Tabel 2 word ’n aantal voordele vir winter- en intermediêre koring aangedui. Elke koringseisoen is uniek en die effek van klimaatsvariasie en omgewingsfaktore op die uiteindelike prestasie van koring gaan nog tot vele nuwe uitdagings vir kultivarontwikkeling en produksie lei.

Vir navrae kontak dr Robbie Lindeque deur ’n e-pos te stuur na lindequerc@arc.agric.za

’n Soortgelyke studie sal binnekort na die rol van minimum en maksimum temperature en reënval op hektolitermassa, valgetal en proteïen kyk. Resultate behoort ’n duideliker prentjie te skep oor die rol van plantdatum op kwaliteit en graad van onderskeidelik winter- en intermediêre koring, aangesien graanopbrengs, kwaliteit en graad dikwels negatief gekorreleer is.