Teler én produsent wen met dié saad

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

903
Eddie Goldschagg,
tegniese bestuurder, SANSOR

Alhoewel verbouingspraktyke en omgewingstoestande die uiteindelike opbrengs van ’n oes bepaal, speel die genetika van die saad wat geplant word ’n deurslaggewende rol. Saad word beskou as die belangrikste inset wanneer ’n gewas aangeplant word, aangesien dit die opbrengspotensiaal beïnvloed.

Die aanpasbaarheid van die betrokke variëteit tot die omgewing waarin dit geplant word en die variëteitsuiwerheid, met ander woorde tot hoe ’n mate elke plant aan die beskrywing van die betrokke variëteit voldoen, het ’n direkte invloed op die opbrengs wat verkry word.

Ontwikkelaars (telers) teel spesifieke eienskappe in daardie variëteit in, wat tot voordeel van die produsent is. Dit sluit moontlik beter agronomiese eienskappe, siekteweerstand teenoor byvoorbeeld blaarvlek, verdraagsaamheid teenoor aalwurms, pitvorm, kwaliteitsaspekte soos byvoorbeeld oliensuurinhoud, ensovoorts in. Om hierdie eienskappe te behou, moet daar streng beheer tydens die vermeerderingsfases toegepas word. Dit word gekontroleer wanneer saad ingevolge die bepalings van die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema geproduseer word.

Die sertifiseringsproses
’n Klein hoeveelheid saad word deur die teler aan die produksieafdeling van ’n saadmaatskappy oorhandig. Hierdie telersaad word dan vermeerder tot prebasissaad (1) en die opbrengs daarvan word vermeerder tot prebasissaad (2). Dit word dan vermeerder tot basissaad. Hierna word gesertifiseerde saad geproduseer. Dit is hierdie generasie wat dan uiteindelik deur die kommersiële produsent geplant word vir produksie van die kommoditeit.

Die teler bepaal die aantal vermeerderingsfases van ’n spesifieke variëteit. Dit is omdat die variëteitsegtheid van saad, al is dit aanvanklik ook hoe suiwer, mettertyd degenereer en sommige van die gewenste ingeteelde eienskappe, soos siekteweerstand en opbrengs, “verlore” raak. Dit veroorsaak verder dat die plante nie meer aan die betrokke variëteitsbeskrywing voldoen nie en dus nie as saad bemark kan word nie.

Kontrole
Selfs al is elk van die betrokke variëteite op hul eie variëteitseg, moet streng kontrole uitgevoer word sodat daar nie vermenging tussen verskillende variëteite plaasvind nie. Verskillende grondboonvariëteite het verskillende eienskappe, soos byvoorbeeld baklengte (die tyd wat dit neem om gaar te word). Wanneer verskillende variëteite met verskillende baklengtes vermeng is, sal sommige pitte al gaar wees terwyl ander nog rou en sommige reeds swart verbrand is.

Indien ’n ander variëteit die vorige seisoen op ’n land geproduseer is en opslag voorkom of indien planterbakke nie skoongemaak word tussen die aanplant van verskillende variëteite nie, kan vermenging ook in die land plaasvind.

Produsente wat die kommoditeit wat hulle geproduseer het, terughou en dan gebruik as saad, pas gewoonlik nie kontrolemaatreëls toe om vermenging of degenerasie van variëteite te verhoed nie. Die fisiese kwaliteit van die saad, soos kiemkragtigheid wat onder meer beïnvloed kan word deur opbergingstoestande, is ook nie bekend nie.

Dit is besonder riskant vir produsente om teruggehoue saad aan te plant. Indien iets verkeerd sou loop, byvoorbeeld swak ontkieming, het produsente geen verhaalreg nie en sal hulle enige verlies self moet dra.

Risiko en nadele
Wanneer saad van ongeregistreerde verkopers aangekoop word, benadeel dit ook die regte van die teler deurdat hy nie voldoende vergoeding ontvang vir die teling van die saad nie. Dit neem etlike jare en miljoene rande om ’n nuwe variëteit te teel en vry te stel. Sonder inkomste uit tantieme kan hierdie finansiële las nie gedra word nie en sal die teling van nuwe variëteite gestaak word – tot nadeel van die produsent.

Dit is reeds ’n werklikheid by grondbone in Suid-Afrika deurdat geen private instansie meer betrokke is by die teling van nuwe grondboonvariëteite nie.

Indien saad van ’n geregistreerde saadmaatskappy aangekoop word, moet die saad aan sekere minimum vereistes voldoen wat deur die Plantverbeteringswet, 1976 (Wet Nr. 53 van 1976) voorgeskryf word. Saad van geregistreerde saadmaatskappye word deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) gemoniteer. Indien die onderneming saad verkoop wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, is hulle aan ’n misdryf skuldig en kan hulle vervolg word. Produsente kan dan ook vergoeding van die onderneming eis vir skade wat gely is.

Die feit dat saad deur ’n geregistreerde onderneming verkoop word en/of daar ’n ontledingsverslag daarvoor beskikbaar is, beteken egter nie dat daardie saadlot gesertifiseer is nie. Sertifisering van saad behels ’n volledige kontrolesisteem vanaf die vrystelling van die variëteit deur die teler daarvan tot en met die uiteindelike beskikbaarstelling van die saad aan die produsent. Dit geskied oor verskeie generasies van vermeerdering wat gewoonlik drie tot vier seisoene duur.

SANSOR se rol
Gedurende elk van die onderskeie vermeerderingsfases word daar volledige kontrole uitgevoer, deurdat elke eenheid vir produksie van saad by SANSOR (Suid-Afrikaanse Nasionale Saad-organisasie) geregistreer word. SANSOR kontroleer eers die oorsprong en sertifiseerbaarheid van die ouersaad van die betrokke variëteit, voordat die eenheid aanvaar word vir die produksie van saad vir sertifisering.

Tydens die groeistadium word die plante op vasgestelde groeistadiums deur SANSOR-opgeleide en -gemagtigde inspekteurs ondersoek om onder meer te bepaal dat die plante aan die voorgeskrewe minimum vereistes ten opsigte van die variëteitsegtheid en -identiteit voldoen. Dit sluit aspekte soos die kontrolering van isolasie-afstande, vorige gewasse, opslagplante en aftipes in.

Vir elke inspeksie wat uitgevoer word, word daar verslag aan SANSOR gelewer, wat dan die bevinding op rekord plaas. Die inspeksieproses word deurlopend deur SANSOR, sowel as beamptes van DALRRD, gemoniteer.

Nadat die saad geoes is, word dit verwerk en verpak. Daar vind weer eens kontrole plaas om te verseker dat geen vermenging plaasvind nie. Die houers waarin die saad verpak word, word gemerk met voorgeskrewe inligting op etikette wat deur SANSOR verskaf word.

Vir gesertifiseerde saad word ’n blou etiket met die landswapen asook die woorde SA GESERTIFISEERDE SAAD: SANSOR daarop gedruk, gebruik. Elke houer word ook met ’n SANSOR-seël met ’n unieke nommer daarop verseël. Die saad word dan deur SANSOR-opgeleide en -gemagtigde monsternemers bemonster en deur ’n geregistreerde saadtoetslaboratorium ontleed om die ontkieming en fisiese suiwerheid van die saad te bepaal. ’n Verdere monster word ook deur die Variëteitskontrole-afdeling van DALRRD uitgeplant om dit met die verwysingsmonster van die betrokke variëteit te vergelyk.

Indien die betrokke saadlot aan al die minimum vereistes van die Saadsertifiseringskema voldoen, insluitend dié vir variëteitsegtheid, sal SANSOR ’n sertifikaat uitreik om die sertifisering daarvan te bevestig.

Voordele van gesertifiseerde saad
Die aankoop van gesertifiseerde saad gee aan die produsent die volgende versekering:

  • Enige gesertifiseerde saadlot het deur meer as 90 kontrolepunte gegaan, voordat dit vir verkoop beskikbaar gestel is.
  • Die produksie van die saad is deur ’n onafhanklike instansie gemoniteer en gekontroleer.
  • Daar is ’n volledige produksiegeskiedenis op rekord.
  • Die betrokke saadlot voldoen aan vasgestelde minimum vereistes.

Verder verseker die aanplant van gesertifiseerde saad dat skaars hulpbronne optimaal benut word, deurdat die beste moontlike saad gebruik word met die potensiaal om optimale resultate te lewer. Verwerkers weet ook dat indien hulle ’n produk wat van gesertifiseerde saad geproduseer is, aankoop, dit eenvormige kwaliteitstandaarde het.