Van sandkorrel tot pêrel

    3375

    Ek is so lief vir pêrels en kan my verwonder aan die glans daarvan en hoe dit verskillende kleure reflekteer. As Spreuke 31:10 (OV) sê dat ’n knap vrou baie meer werd is as korale, gaan my gedagtes onwillekeurig na ʼn glimmende pêrel toe.

    ’n Pêrel word gevorm wanneer ’n piepklein element soos ’n sandkorreltjie, sy weg in ’n oester in vind. Die mantel van die oester raak geïrriteerd en skei ’n beskermende vloeistof af. Hierdie vloeistof vorm lagie vir lagie om die bron van irritasie om dan uiteindelik ’n pragtige pêrel te vorm.

    Soms kom maak die sandkorrels van die lewe so maklik in ons lewenskulpe nes. Sandkorrels in ons huwelike, ons kinders se lewens, ons finansies, ons toekoms en ons vrouwees veroorsaak dikwels irritasie, seer en pyn. Dit is asof ons in ’n donker oesterskulp vasgevang word en ons hierdie uitdagings en beproewings net wil wegwens of wegbid.

    As beproewing soos ’n skulp om ons toeklap, is God saam met ons in die skulp. Hy gebruik dikwels ons donkerste tye om ons sterk in Hom te maak. Hy sal ons laag vir laag beskerm, terwyl Hy besig is om ons soos kosbare pêrels te vorm.

    Pêrels is ook sagter as ander mineraaljuwele en absorbeer én weerkaats lig. Dit is hoe ons moet wees: Sag in God se hand, sodat ons Sy lig kan absorbeer, selfs as dit donker om ons is. Só sal ons Sy lig na ander wat swaarkry weerkaats en glimmend soos ’n pêrel wees – voorwaar ’n knap vrou wat meer werd is as korale!

    Dit is asof Jakobus ’n soortgelyke groeiproses in Jakobus 1:2 – 4 beskryf: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

    RW Emerson het gesê: “Dit is die gewonde oester wat homself genees tot ’n pêrel gevorm is.” Is jy bereid dat God van jou sandkorrel ’n glimmende pêrel maak?