Prestasie beloon én afskeid geneem

    Johan Smit, besturende redakteur: SA Graan/Grain; foto’s: Lizelle Snyman
    Gepubliseer: 5 September 2022

    757

    Die erkenning wat oor die afgelope jare weens die COVID-pandemie agterweë gebly het, is op datum gebring toe Graan SA se Hoofbestuursfunksie weer vanjaar op 27 Julie kon plaasvind.

    Tydens die geleentheid op NAMPO Park is oud-Hoofbestuurslede sedert 2000 – asook dié wat die afgelope jare uitgetree het – gehuldig, personeel met lang diens is vereer en die geleentheid om na ’n afwesigheid van twee jaar weer as leierskap, oudleierskap en personeel te sosialiseer, is ten volle benut.

    Benewens vorige Hoofbestuurslede wat sedert Graan SA se ontstaan in die leierskap gedien het wat die geleentheid bygewoon het, was dit ’n geskiedkundige oomblik met vyf voorsitters uit die graanbedryf wat teenwoordig was. Hulle was Boetie Viljoen (oudvoorsitter van NAMPO), Japie Grobler (laaste voorsitter van NAMPO en eerste voorsitter van Graan SA), Neels Ferreira (oudvoorsitter van Graan SA), Jaco Minnaar (oudvoorsitter van Graan SA) en Derek Mathews (Graan SA se huidige voorsitter).

    “Aan die huidige span en die personeel, dankie vir wat julle doen in hierdie besige en moeilik oorleefbare omstandighede. Wat Graan SA bereik, is ’n voorbeeld,” het Japie Grobler namens die oudvoorsitters gesê.

    Afskeid is ook geneem van lede van die Hoofbestuur wat die afgelope jare uitgetree het. Jaco Minnaar en Chris Schoonwinkel het in 2020 uitgetree, Rudolf Fourie, Cobus van Coller en Jaap van der Westhuizen in 2021 en Kallie Schoeman in 2022. Verskoning is ontvang van Preline Swart, Michel Geldenhuys, Israel Mothlabane, Marnus Bothma en Jan George Pretorius.

    In ’n boodskap aan uitgetrede Hoofbestuurslede, het Derek Mathews hulle namens Graan SA bedank vir hul toewyding en die gee van hul kundigheid, kennis en ervaring tot voordeel van die organisasie en die graanbedryf in geheel. “Dankie van Graan SA se kant af. Mag dit waaraan julle in die toekoms julle hande waag, geseënd wees,” het hy gesê.

    Jaco Minnaar het ’n klompie oomblikke wat vir hom in sy termyn uitgestaan het met die gehoor gedeel en bygevoeg: “’n Mens mis die inligting, blootstelling en vriende wat jy in die Hoofbestuur gemaak het. Die gesprekke en besprekings is soos vuurmaakhoutjies vir jou oudag.”

    Vir Chris Schoonwinkel het die mense en personeel by Graan SA soos familie geword. Hy sê daar is baie genade wat in Graan SA vloei, want miljoene kilometers word in belang van die graanbedryf afgelê met min tot geen teenspoed. Hy het die huidige leierskap só bemoedig: “Hou moed, alles vat maar ’n bietjie tyd.”

    “Ek het sewe wonderlike jare op die Hoofbestuur gehad waarin ek soveel geleer het en agtergekom het waaroor georganiseerde landbou gaan,” het Rudolf Fourie gesê. Soos elkeen van die uitgetrede Hoofbestuurslede het hy dr Pieter Taljaard en die Graan SA-personeel vir hul uitnemende werk bedank.

    Cobus van Coller, wat vir ’n tweede keer op die Hoofbestuur gedien het, het verwys na die waarde van vriendskappe in landbou wat oor die jare gevorm is. Hy het ook hulde gebring aan sy eie en ander lede se vrouens en kinders wat die fort op die plaas moet hou. “Min mense besef waardeur ’n mens gaan as jy in diens van landbou staan,” het hy gesê.

    “Graan SA is ’n organisasie wat uitstaan. Dankie vir die ge­leent­heid wat ek gehad het om hier te dien,” het Jaap van der Westhuizen gesê.

    “Dit was ’n wonderlike tien jaar as deel van Graan SA gewees. Ek gaan ’n beter mens weg as wat ek was toe ek hier gekom het,” het Kallie Schoeman met die gehoor gedeel. Hy reken dat Graan SA dié organisasie is wat al sy vakke cum laude geslaag het – en wat beskik oor ’n personeelkorps wat goud werd is. Hy het graanprodusente aangemoedig om ’n eie narratief te skep: “Wanneer die mense begin om leiding te gee, sal die regering volg. Die toekoms van landbou en van Suid-Afrika is in ons eie hande,” het hy gesê.

    Graan SA-personeel wat dié aand erkenning vir lang diens ontvang het. Dr Pieter Taljaard (uitvoerende hoofbestuurder), derde van links, het die oomblik met die spanlede gedeel. Van links: Coretha Usher (10 jaar), Bennie Zaayman (20 jaar), Toit Wessels (10 jaar), Ashley Mathisa (10 jaar) en Luzelle Botha (10 jaar).
    Erkenning word jaarliks gegee aan ’n lid van die Hoofbestuur wat diep spore in die organisasie trap. Jozeph du Plessis (regs) ontvang die Uitnemende Hoofbestuurslid-trofee van dr Pieter Taljaard.
    Hoofbestuurslede wat in 2020 uitgetree het saam met hul gades: Jaco en Nicolene Minnaar en Chris en Lizette Schoonwinkel.
    ’n Geskiedkundige oomblik met vyf graanvoorsitters byeen. Van links: Neels Ferreira, Japie Grobler, Boetie Viljoen, Derek Mathews en Jaco Minnaar.
    Tyd vir boerderysake gesels is daar altyd, maar dié Hoofbestuurslede kon gou ’n tydjie afknyp vir ’n foto. Van links: Gerrit Roos, Patrick Stuurman, Ramoso Pholo en Jeremia Mathebula.
    Musique Romantica het gesorg vir instrumentale musiek uit die boonste rakke. Later in die aand het hulle soos wafferse straatmusikante tussen die gaste deur beweeg.
    2021 se uitgetrede Hoofbestuurslede en hul gades: Jaap en Lindie van der Westhuizen, Cobus en Magdel van Coller en Divona en Rudolf Fourie.
    Kallie en Elna Schoeman. Kallie het vroeër vanjaar uit die Hoofbestuur getree.
    Nico Vermaak, hoof: Maatskappysekretariaat, het die leisels opgeneem as seremoniemeester van die aand. “Gedenk die oomblik” was sy raad aan die gaste van Graan SA wat die geleentheid bygewoon het.