Is jou finansier ’n vennoot in jou boerdery?

    Gepubliseer: 5 Mei 2020
    Wessel Lemmer en Abrie Rautenbach, Absa AgriBusiness

    1855

    In vergelyking met ander sektore doen die oorgrote meerderheid bedrywe binne landbou ekonomies baie goed. Die sektor geniet tans ekonomiese groei, groei in sakevertroue en verhoogde uitsette. Te midde van beleidsonsekerheid, ’n ekonomie wat in resessie is en die negatiewe impak van die wêreldwye koronaviruspandemie het landbou steeds ’n ongeëwenaarde impak op Suid-Afrika se ekonomie.

    Buiten die direkte bydrae wat landbou tot die bruto binnelandse produk maak, is daar ook die indirekte bydrae van sektore wat deur die primêre landbou (produsente) ondersteun word. Sonder produsente en hul skakel met insetverskaffers, verwerkers en uitvoerders van landbouprodukte sou Suid-Afrika waarskynlik dieper in ’n resessie gewees het. Dit is juis waarom besighede buite landbou in landbou belê. En dit is ook waarom landbou in finansiers se boeke en beplanning prioriteit geniet.

    Al is die verhouding tussen hulle nie ’n formele vennootskap waar die boerdery gesamentlik besit word nie, verwag die produsent dat sy finansier met dieselfde toewyding as ’n vennoot by die boerdery betrokke moet wees. Van die belangrike vereistes by die keuse van ’n finansier, is:

    Kies ’n finansier:
    Wat belang stel in jou vooruitgang
    Dit is belangrik vir ’n produsent om ’n finansier te kies wat die beste waarde tot die besigheid kan toevoeg. ’n Goeie finansier het ’n direkte belang in ’n produsent en die boerdery se vooruitgang. Produsente verkies iemand wat uit sy pad gaan om die boerdery te verstaan. ’n Goeie finansier sal aan ’n produsent uitwys hoe sy boerderybelange tydens die resessie uitgebrei kan word – hoe die boerdery geposisioneer moet word om die meeste waarde uit die ekonomiese herstel te kry wat uiteindelik gaan volg.

    Wat jou besigheid verstaan
    Begrip vir die feit dat ’n boerdery meer gereeld deur besigheidsiklusse beweeg, is uiters belangrik. Besigheidsiklusse word deur die klimaat beïnvloed en het ’n groot impak op die uitbreiding van ’n boerdery. Dit is juis waarom die verhouding tussen produsent en finansier uiters belangrik is en reg bestuur moet word. As vennote moet hulle saam geleenthede identifiseer.

    Wat help om jou uitsette te optimaliseer
    Die verhouding tussen die produsent en finansier moet nie net op ’n transaksie gebaseer wees waaruit laasgenoemde transaksionele en rente-inkomste verdien nie. Hy moet vertroud wees met die boerderystelsel en -sisteme, daarby kan inskakel en ’n bydrae lewer om uitsette te optimaliseer en uitgawes te beperk – veral waar spesifieke uitgawes nie strook met bedryfsnorme nie.

    Wat geleenthede en blindekolle uitwys
    Geleenthede kan aspekte insluit soos wanneer masjinerie en toerusting vervang moet word. Die finansier moet die uiteenlopende uitdagings van suksesvolle produksie verstaan, wat strek vanaf ’n produksie-aspek soos swartvlek in sitrus tot ’n produsent se behoefte om randverskansing met uitvoere oorsee doeltreffend te bestuur. As vennoot in die onderneming moet ’n finansier daardie aspekte waar ’n produsent ’n blindekol het, vroegtydig uitwys.

    Wat raad gee met strukturering
    Raad met die opstel van ’n optimale ondernemingstruktuur kan vir ’n produsent van groot waarde wees. Dit is nie net vir belastingdoeleindes van belang nie, maar ook vir die ononderbroke voortsetting van die boerdery-onderneming. ’n Finansier is oor die lang termyn betrokke as vennoot en dit is ook in sy belang dat die produsent voorsiening hiervoor maak.

    Wat omsien na persoonlike finansies
    As gevolg van die hoë werkslading om produksie- en bemarkingsrisiko’s te bestuur, skenk ’n produsent nie altyd aandag aan belangrike aspekte wat hom en sy gesin persoonlik raak nie. Dit sluit aspekte in soos lewensversekering en erfopvolging, voorsiening vir kinders se naskoolse opleiding en om deur besparing en belegging voldoende voorsiening te tref vir sy eie uittrede of aftrede. ’n Goeie finansier maak seker dat hy ten minste jaarliks met sy produsent as vennoot hieroor gesels.

    Wat perspektief verbreed
    ’n Finansier kan ’n groot bydrae lewer om te verseker dat sy kliënt die nodige insig het om te weet of sy inkomste of uitgawes strook met die bedryfsnorme in sy streek. Gemiddelde prestasie is nie genoeg om die uitdagings van ’n resessie en swak ekonomiese groei te oorleef nie. ’n Resessie bied geleenthede soos lae rentekoerse vir uitbreidingsprojekte oor ’n langer termyn. ’n Finansier moet sy kliënt posisioneer om die beste van die resessie se geleenthede gebruik te maak en wanneer ekonomiese groei uiteindelik na ’n resessie herstel, optimaal geposisioneer te wees.

    Wat toeganklik is
    Finansiers moet ten spyte van hul korporatiewe, multinasionale aard steeds die vermoë hê om toeganklik vir ’n produsent te wees. Finansiers moet konsekwent met ’n produsent kan skakel soos wat bankiers op die dorp dit destyds gedoen het. As die verhouding tussen die produsent en finansier aan tegnologie oorgelaat word, gaan die geleentheid vir nuwe mededingers in finansiering wat verhoudingsbankwese beter kan bestuur, vergroot.

    Ten slotte
    Die finansier wat die beste langtermynverhouding met produsente kan onderhou en waarvan die ondernemingskultuur en waardesisteme met die van produsente se boerderye ooreenstem, is die finansier wat in die toekoms en oor die lang termyn die meeste groei in sy landbouboek gaan toon. Die huidige resessie gaan unieke uitdagings aan produsente en finansiers stel. Diegene met die beste verhouding gaan beter uit die stryd tree en die ekonomiese groei wat hierna volg, ten beste benut.