Maak groei jou fokus

Gepubliseer: 4 Oktober 2021

946

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Soos ons die nuwe somerseisoen aanpak, kan ons nie anders as om met dankbare harte terug te kyk na die afgelope seisoen en spesifiek na die pragtige winterseisoen in die Wes-Kaap nie. (Teen druktyd gaan ons meer weet, maar op hierdie stadium lyk die kleingrane ongelooflik belowend.)

Omdat ons almal uitdagende tye en seisoene ken, besef ons dat die huidige situasie wat opbrengste en produkpryse betref uniek is. Daarom is dit soveel makliker en lekkerder om dié goeie tye te geniet en te waardeer. Verder weet ons ook dat dit in sulke omstandighede uiters belangrik is om onsself beter en sterker te posisioneer vir groei – nie net finansieel nie, maar ook sielkundig en geestelik.

Die fokus hoort op produktiwiteit wat winsgewendheid verbeter en risiko’s help mitigeer – dit waaroor ons beheer het. Lees en leer gereeld iets nuuts oor tegnologie. Spandeer slim, ook wat tegnologie betref. Verseker dat jou spandering winsgewend aangewend kan word om die lewe vir jou makliker en beter te maak. Tegnologie word goedkoper, eenvoudiger om te verstaan en te gebruik en het dikwels onbeplande addisionele voordele. Dit maak sin om daarin te belê, so maak seker dat jy nie te ver agter raak hiermee nie.

Met die legio negatiewe gebeure en omstandighede rondom ons, dink ek dit is handig om daagliks selfondersoekend te vra hoe om meer “trots Suid-Afrikaans” te wees. Vir my lê die antwoord in groei, want slegs deur te groei kan ons as ’n land uit ons huidige penarie kom. Hoe kan ek dus bydra tot ons land se groei? Groei is direk afhanklik van die privaat sektor. Dit beteken ons sal moet inklim om te help om die verskil te maak, al is dit nie ons direkte verantwoordelikheid nie.

’n Fondasie vir dié groei lê in die uitbou (dalk soms herstel) van verhoudings (as die beton) en die deel van kundigheid (as die bewapening). Dit gaan ongelukkig verder as ons verhoudings met ons direkte kontakte in die waardekettings, soos insetverskaffers en kopers van produkte. Dit begin by ons besighede se eie menslike kapitaal en dan die plaaslike owerhede en instansies wat veronderstel is om die diens­te te lewer. Ek is oortuig hiervan en ek dink ons onderskat dikwels die waarde van beter verhoudinge en opbouende gesprekke (of soms dalk selfs vermanings) in ons almal se “eie wêrelde” – want dit is waar dit moet begin. Ons weet tog almal dat negatiewe en afbrekende gesprekke en vermanings telkens as slegsê ervaar word en net die spanning vererger. Opbou vir groei is daarom die sekerste manier om ons eie situasie – en die van ander – te verbeter.

Die feit dat ons oor goeie lands­wette beskik wat deur die Grondwet beskerm word, maar uitdagings ondervind met die uitvoering en implementering daarvan (dus die absolute afwesigheid van enige vertroue), is nou al holrug gery. Ons weet dat ons dit nie meer aan die owerheid kan oorlaat nie – ons moet ons eie sake verbeter deur in te tree en positiewe bydraes te bly maak. So kan ons die owerheid tot eerlike verantwoording roep deur opbouend saam te werk en ’n positiewe uitkoms te bewerkstellig. Dit mag vergesog en ongehoord klink, maar daar is al talle bewyse dat dit kan werk.

Hou dus aan om die regte vrae te vra (en belangrik ook op die regte manier!), want dit is waar die regte antwoorde en inisiatiewe vandaan gaan kom. Daar is genoeg bereid­willigheid om ’n verskil te maak en hopelik sal ons soos Steve Jobs kan terugkyk en sê: “Daar was goeie tye, daar was moeilike tye, maar daar was nooit slegte tye nie!” Bly glo, bly fokus, bly koelkop. Lekker boer en onthou om dit te geniet!

Kom ons gesels
Ek hoor graag van julle: Skryf vir my, kontak my, maak ’n afspraak of nooi my om julle te besoek (pieter@grainsa.co.za).