May 2017

ELMARIE HELBERG, SA Graan/Grain redaksie

Op 27 November 2015 het produsente op NAMPO Park op hul knieë gesmeek vir reën – die land was vaal en die vooruitsig vir goeie oeste was maar skraal. Effens meer as ‘n jaar later, op 24 Maart vanjaar, kon die landbougemeenskap met danksegging kom getuig van ‘n uitstekende seisoen op die horison.

Graan SA het, na aanleiding van goeie reën wat dié seisoen oor groot gedeeltes van Suid-Afrika se graanverbouingsgebied uitgesak het, ‘n dankdag op NAMPO Park gereël. Produsente, plaaswerkers en ander rolspelers in die bedryf het saam met Louis Brittz ‘n sessie van lof- en pryssang bygewoon, gevolg deur ‘n boodskap deur mnr Dawie Spies.

Spies, ‘n motiveringsspreker, het melding gemaak van sy vorige besoek aan NAMPO Park vir die biddag vir reën: “Toe ek laas hier was, was dit vaal en stowwerig, nou staan die mielies hemelhoog en my hart jubel,” het hy gesê. Hy het ook ‘n beroep op die landbougemeenskap gedoen om lewe te spreek oor Suid-Afrika: “Ons kan in ‘n land bly met goeie reënval, ‘n sterk rand en gunstige toestande, maar as God nie in daardie land is nie, beteken dit niks. Jou toekoms lê in jou mond, wees versigtig met wat jy sê en spreek lewe. Jou gebed is net so belangrik soos myne en wanneer broers in eenheid bid, gee God ‘n bevel dat daar guns kom,” het hy almal aangemoedig.

Die teenwoordiges het in kleiner groepies byeengekom en gebid vir die goeie oeste; ook vir die Wes-Kaap wat steeds onder droogte gebuk gaan. Produsente het elk ‘n bottel water van hul plase af gebring, wat tydens ‘n geleentheid in kanne uitgegooi is – sodoende is dit aan God geoffer om dankie te sê vir dié seën.

Publication: May 2017

Section: Grain SA