Ken chemiese skade só uit

AJ Steyn, veldagronoom, Pioneer
Gepubliseer: 4 November 2021

1979

Wanneer planttyd vir somergewasse aanbreek, weet ons nie wat die seisoen ten opsigte van klimaatstoestande gaan inhou nie.

Die gebruik van chemiese onkruiddoders het al so deel van produksiepraktyke geword dat daar uitdagings rondom hierdie onkruiddoders se gebruik bestaan. Dit bly belangrik om by die etiketaanbeveling te hou om die effektiwiteit van onkruiddoders te optimaliseer. Skade­simptome kom egter elke seisoen voor – die korrekte identifikasie van simptome bly van belang asook om risiko’s sover moontlik te systap.

Diagnose van abnormaliteite
Wanneer chemiese skade op saailinge vermoed word, is ’n sistematiese ondersoek na die oorsaak van die skade op drie vlakke nodig, naamlik:

  1. Die voorkoms van die land;
  2. simptome op geaffekteerde plante; en
  3. simptome op plantdele soos blare of stamme.

Daar moet bepaal word of die simptome in die land herhalend van aard of nieherhalend is.

Gereelde patrone kom dikwels voor as gevolg van:

  • oorvleueling van spuittoediening;
  • grondkompaksie;
  • spuittenkkontaminasie;
  • mengfoute van chemie;
  • toedieningsfoute; en
  • winddrywing.

Ewekansige patrone as gevolg van omgewingsfaktore sluit dikwels die volgende in:
onkruiddoderoordrag vanaf die vorige seisoen (bv. atrasien na ’n droë seisoen);

  • spuitdrywing;
  • topografie (bv. sywaartse watersyfering);
  • weerstoestande (koue en nattigheid);
  • plantstres (koue/hitte);
  • grondvogtoestande (dikwels ekstreem); of
  • klei-inhoud/organiese materiaal.

Plantstrukture kan leidrade verskaf ten opsigte van die tyd en bron van die skade, byvoorbeeld:

  • saailinge of groter plante;
  • wortelskade;
  • onderste of boonste blare;
  • koppe of pitte; en
  • kombinasies van bogenoemde.

Dit is nodig om te bepaal wanneer die besering plaasgevind het: gedurende of net na saailingverskyning; of was daar goeie aanvanklike stand en groei, met die besering daarna?

Grasonkruiddoders
Vir die doel van geheueverfrissing word die grasdodergroep van vooropkomsonkruiddoders uitgelig. Hierdie chemiese groep sluit die asetamiede, chloro-asetamiede en oksi-asetamiede in, met aktiewe bestanddele soos alachlor, acetochlor en metolachlor. Die werking van hierdie groep grasdoders vertraag die vorming van selmembrane en inhibeer so onkruidgroei.

Omdat die mielieplant ook aan die grasfamilie behoort, word beveiligers by hierdie chemie gevoeg ten einde veilige gebruik in mielies te verseker.

Die grond se kleipersentasie word in ag geneem om die korrekte dosis grasdoder te bepaal. Probleme duik gewoonlik op wanneer die nagtemperature laag daal (veral by vroeg plant). Die mieliesaai­ling se koleoptiel druk dan stadiger deur die onkruiddodersone as normaal en neem in die proses meer grasdoder op as wat dit moet. Foto 1 toon asetamiedskade en hier kan die tipiese grasdoderskade (verwronge saailing) gesien word. Foto 2 dui butilaatskade aan – dit kan voorkom as die onkruiddoder sonder ’n beveiliger toegedien word of as die opkoms vertraag word as gevolg van koel, nat grond.

1. ’n Mieliesaailing wat asetamiedskade vertoon.
2. Butilaatskade aan ’n mieliesaailing.

Produsente wat vroeg wil plant moet die weervoorspellings goed dophou om die kanse van ’n laat koue na planttyd te minimaliseer en hierdie gepaardgaande probleme te systap.

Bronne

  1. Bernards, ML. 2009. Herbicide injury simptoms in corn. University of Nebraska.
  2. Clay, SA. 2016. Herbicide injury to corn. Chapter 42, I grow corn. SDSU Extension.

Vir meer inligting, gaan na www.pioneer.com/za of stuur ’n e-pos na info.rsa@pioneer.com.