February 2016

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Daar is al baie in die literatuur geskryf oor die voor- en nadele van verskillende plantspasiërings by grondbone, maar dit laat die produsent met meer vrae as antwoorde. Die kruks van die saak bly: Opbrengs is die belangrikste, maar dit moet koste-effektief wees.

Insetkoste kan die hoogte inskiet, met saad koste as een van die hoofuitgawes. In die verlede was dit nie vreemd om grondboonlande te sien wat letterlik lyk of dit soos koring gesaai is nie. Saad en handearbeid was toe nog goedkoop, maar tans is dit ‘n groot uitgawe vir die produsent.

Tegnologie vergemaklik die lewe vir die produsent omdat die probleem van plantestandberekening nou amper iets van die verlede is. Met die druk van ‘n paar knoppies, word daar gou vir die planter vertel wat van hom verwag word en omgekeer vertel die planter weer vir die produsent as daar een of ander tekort tydens die plantproses voorkom. Ai, as al die beplanning van die boerdery maar net met die druk van ‘n paar knoppies uitgesorteer kon word…

Digte spasiëring

Voordat daar na die ideale stand vir grondbone gekyk kan word, moet daar eers gekyk word na te digte spasiëring – waar om dit nadelig vir die plant is en wat die effek daarvan op die ontwikkeling van die grondboonplant is. Grondbone wat te dig gespasieer is, sal nader as 37 mm van mekaar geplant wees.

Die kompetisie vir lig, voedingstowwe en vog is seker die belangrikste gevolg van te digte spasiëring, daarom ontwikkel plante onder hierdie omstandighede gewoonlik baie swak.

‘n Enkel stam word gevorm met slegs enkele peule of, in uiterste gevalle, geen peule nie. Die ontwikkeling van sytakke word beperk en die afwesigheid van sytakke op die eerste twee knope op die hoofstam beteken ‘n verlies van meer as 80% van die potensiële produksie.

Met só ‘n oormatig diggespasieerde plante stand word plante gedwing om op hoërliggende knope op die hoofstam te produseer. Hierdie knope ontwikkel later en lewer laat peultjies wat onvolwasse met oestyd is en wat ‘n minderwaardige produk lewer.

Yl spasiëring

Yl spasiëring kan nog nadeliger vir grondboonopbrengste wees. Eerstens is ylgespasieerde plante meer vatbaar vir rosetvirusbesmetting. Dit gebeur omdat en kel plante deur plantluise en bladspringers gekoloniseer word.

‘n Besmette plant vertoon klein, verpot, geel en rosetagtig. Die ontwikkeling van ylgespasieerde plante is andersins nor maal met baie meer sytakke as korrek ge spasieerde plante. Daar word dus ‘n geweldige groot hoeveelheid peule per plant geproduseer, wat die wanindruk by produsente skep van ‘n moontlike hoër opbrengs.

Die hoër produksie peule per plant maak nie op vir die laer plantestand per hektaar nie en die opbrengs is gevolglik ook baie laer. Hierdie ylgespasieerde grondboonplante groei ook platter, wat blaarvlekbeheer bemoeilik.

Korrekte spasiëring

Die groot vraag bly dus: Wat is die korrekte spasiëring? Volgens navorsing is daar ‘n wesenlike toename in opbrengs namate die spasiëring aangepas word tot op die punt van 75 cm tussen rye en tussen 37,5 mm tot 75 mm binneryspasiërings.

Die optimale binneryspasiëring sal dus 50 mm tot 70 mm wees. Sodra daar aan dié spasiëring, hetsy nader of verder van mekaar, verander word, kan daar ‘n afname in opbrengs van so hoog soos 15% verwag word.

Tussenryspasiëring is ‘n ander belangrike faktor wat in ag geneem moet word. Oor die algemeen is die gevoel by produsente dat die rywydte hoofsaaklik deur die beskikbare hoeveelheid vog bepaal word.

Die ander faktore wat die rywydte bepaal, is die vergemakliking van siektebeheer en die oesproses. Die aanpassing van rywydtes by die grondboonuithaler wat die produsent gebruik, is uiters belangrik om oesverliese te verminder en die oesproses te vergemaklik.

Daarby het die gebruik van twin-rowaanplantings ook gewild onder produsente geword, maar weer eens moet die bogenoemde faktore in ag geneem word en alle ander faktore oorweeg word. Dit sal wys wees om, voordat daar oorgeskakel word na ‘n ander rywydte, ‘n proefaanplanting te maak en die opbrengste te ver gelyk. Daar is al gevind dat daar groot verskille tussen plase kan wees, veral wat bestuurspraktyke betref. Vind dus uit wat werk op ‘n spesifieke plaas.

Goeie saad

Om die beste opbrengs te verkry, moet goeie saad met ‘n geskikte planter in nat grond op die regte tyd geplant word. Met “goeie saad” word bedoel saad wat nie beskadig is nie en ‘n hoë ontkie mings potensiaal het.

Hierdie saad moet ook goeie groei kragtigheid toon. Dit is uiters belangrik om alle saad wat aangeplant gaan word, voor planttyd met ‘n swamdoder te behandel. Hierdie praktyk beskerm die ontkiemende grondboonplantjies teen aanvalle van grondpatogene en -swamme en verhoog die opkomssukses van die saad.

Met nuwe tegnologie tot die produsent se beskikking is korrekte plantestand en plantdiepte faktore wat aangespreek kan word met die druk van ‘n knoppie. Pre sisieplanters het baie kopsere uit die plantproses geneem.

Grondboonsom

Baie produsente vra gereeld of daar nog genoeg tyd oor is om ‘n goeie opbrengs te verwag – veral wanneer die seisoen laat is en veral as die grondboongroeilengte van 150 dae in ag geneem moet word.

Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om ‘n grondboonsom te maak. Neem in ag dat wanneer grondboonsaad geplant is, dit die saad tussen tien tot 14 dae neem tot hulle ontkiem het en sigbaar op die land staan.

Vandaar staan die grondboonplantjie vir 21 dae lank doodstil voordat dit werklik aktief begin groei. In die tydperk van visuele stilstand, vorm die wortelstelsel en moet produsente nie oorhaastig word en onnodig vreemde middels op die grondbone toe dien nie.

Tussen 35 tot 42 dae sal die eerste blomme verskyn en begin die eerste drag van die grondboon vorm. Daardie eerste drag neem tussen 60 tot 90 dae om volwassenheid te bereik, afhangende van die weersomstandighede.

As hierdie grondboonsom gemaak word, kan ‘n produsent mooi uitwerk of daar genoeg tyd gaan wees om ‘n goeie opbrengs te vorm vanaf planttyd tot die beoogde oestyd van sy grondbone.

imageDie regte planttyd wissel van jaar tot jaar en ook van gebied tot gebied. Afhangende van die heersende minimum temperature en die stand van beskikbare vog, strek die planttyd van ongeveer middel Oktober tot einde November. Daar moet egter in gedag te gehou word dat die optimale planttyd rondom middel November is.

Daar is dus meer as net plantspasiëring wat in ag geneem moet word wanneer grondbone aangeplant word. Goeie be planning strek van voor planttyd tot mid de-in oestyd.

Korrekte spasiëring van grondbone essensieel

Publication: February 2016

Section: Focus on