
SA Graan/Grain-medewerker
Graan SA se Produksie-en-Inset-werkgroep versoek jaarliks ’n afvaardiging van die organisasie se Raadslede en personeel om met ’n spesifieke mandaat ’n besoek aan saadmaatskappye namens produsente af te lê.
Volgens Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, is die tydsberekening van hierdie jaarlikse besoeke uiters belangrik. “Voorheen is nuwe saadpryse by die NAMPO Oesdag bekendgemaak, maar tans sorg saadmaatskappye dat pryse vir die nuwe seisoen binne ’n kalenderjaar vasgemaak word. Dit is dus belangrik dat ons in gesprek met hulle tree voor die vasmaak van die pryse, met ander woorde in November elke jaar.”
Die vorige besoek onder leiding van Jaco Breytenbach, Raadslid en visevoorsitter van die werkgroep, het daartoe gelei dat produsente se belange rakende die aankoop van saad, nuwe tegnologie, siekteweerstandigheid en die teling-en-tegnologieheffing op die voorgrond geskuif is. Winsgewendheid, volhoubaarheid en ook kommer oor Goss-verwelksiekte, ’n nuwe bakteriese siekte wat in Suid-Afrika opgemerk is, was hoog op die agenda.
Goeie nuus volgens Louw is dat saadpryse vir die komende seisoen nie met meer as inflasie behoort te styg nie. Nuwe saadpryse vir kanola is in die Februarie-uitgawe van SA Graan/Grain gepubliseer en saadpryse vir koring in die Maart-uitgawe. Louw herinner lesers om die Junie-uitgawe van SA Graan/Grain dop te hou vir ’n uiteensetting van somergraansaadpryse.
’n Lang pad
Dit is nou meer as 20 jaar dat Graan SA jaarliks in gesprek tree met saadmaatskappye om produsente se belange te verteenwoordig. Louw vertel dat dit aanvanklik op ’n ad hoc-basis plaasgevind het, maar dat gesprekke oor die jare meer formeel geraak het. “Die afvaardiging gaan jaarliks met ’n spesifieke mandaat na die vergadering toe, en ons sal tipies voor die tyd met die werkgroep koukus en bespreek wat die belangrike punte is. Hierdie gesprekke het mettertyd daartoe gelei dat goeie verhoudinge met besluitnemers van die maatskappye gebou is en daar word tans oor veel meer as net saadpryse beraadslaag.
“Ons probeer jaarliks by die meeste saadmaatskappye uitkom. Hierdie jaar was ek, dr Tobias Doyer (HUB van Graan SA), Graan SA-Raadslede Jaco Breytenbach, Danie Minnaar, Willem Groothof en Marius Groenewald asook Marguerite Pienaar (landbou-ekonoom by Graan SA) deel van die span. Ons besoeke aan Bayer, Syngenta, Pannar, Pioneer, United Seeds, Agricol en Limagrain was ’n gulde geleentheid om die produsent se saak te stel en te verduidelik hoe erg produsente tans onder druk is as dit kom by winsgewendheid.”
Volgens Louw is die jaarlikse Groei vir Goud-kompetisie ook met die maatskappye bespreek en hulle kon voorstelle oor verbeteringe aan die formaat van die kompetisie maak. Nuwe tegnologie by mielies en sojabone sowel as die belangrikheid van die SACTA-heffing is ook hanteer. Volgens Louw is maatskappye dit eens dat die heffing grootliks daartoe bydra dat nuwetegnologie-saad aan Suid-Afrikaanse produsente beskikbaar gestel kan word.
“Al die maatskappye het uitstekende nuwe genetika in die pylyn, wat vir ons produsente beter opbrengs en siekteweerstandigheid beteken,” het Louw bygevoeg. Hy is veral opgewonde oor gesprekke rakende nuwe geelmieliegenetika vir die westelike dele waar witmielies tradisioneel geplant word. Wat sonneblom betref, is daar ook goeie vooruitsigte vir nuwe kultivars met ’n hoër olie-opbrengs.
Sake rakende die regulatoriese omgewing van Wet 36 asook wetgewing wat nuwe teeltegnieke inperk, het verder aandag geniet. Volgens Louw is een van die belangrikste uitkomste van hierdie vergaderings die verhoudinge wat gebou word. “Ons kon met tye lekker om die braaivleisvuur oor oplossings gesels. Dit maak die toekoms soveel makliker as ons vanuit ’n goeie verhouding reguit met mekaar kan praat,” het hy bygevoeg.