March 2017

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Saad as produksie-inset vir wintergraanproduksie is nie noodwendig produsente se duurste inset nie, maar dit kan wel moontlik die belangrikste inset wees. Die koringbedryf in Suid-Afrika is onder druk. Hektare onder koring – veral in die noorde van die land – is besig om te kwyn en veral nuwe hoë-opbrengskultivars is nodig om die bedryf weer ‘n hupstoot te gee.

Keuse van kultivar is krities om produksierisiko tot ‘n minimum te beperk. In die artikel word die jongste saadpryse beskikbaar in die mark, sowel as wenke om seker te maak dat die saad optimaal benut word, met produsente gedeel.

Daar is sewe nuwe koringkultivars en agt nuwe garskultivars wat die kommersiële mark hierdie seisoen betree.

Saadpryse
Graan SA het ‘n verskeidenheid van saad- en landboumaatskappye genader om hul wintergraanpryslyste vir die 2017-seisoen in die SA Graan/Grain te publiseer (Tabel 1 tot Tabel 5). Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om aan die prysvergelykings deel te neem. Kaap Agri het aangedui dat hulle nie aan die opname wil deelneem nie, terwyl GWK se pryse eers later die seisoen beskikbaar sal wees.

Koringsaadpryse het sedert verlede jaar op ‘n gemiddelde basis sywaarts beweeg. Sommige kultivars het tot soveel soos 24% gedaal, terwyl ander weer met 18% toegeneem het. Wat interessant is, is dat koringsaadpryse in die noordelike produksiestreke gemiddeld R333 per 25 kg-sakkie kos.

Saadpryse in die Wes-Kaap kos R381 per 50 kg-sakkie. Garssaadpryse het op ‘n gemiddelde basis met 3% gestyg.

Die inligting in die tabelle neem nie korting vir vroeë bestellings en grootmaat-aankope in aanmerking nie. Dit is belangrik om navrae aan die saadmaatskappye self te rig om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse
Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeses uitgeoefen word, is die volgende:

  • Plant ‘n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moet nie ‘n staatmaker-kultivar summier met ‘n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ‘n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
  • Raadpleeg die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) se hand leidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer. Raadpleeg ook die invoegsel wat saam met dié uitgawe van SA Graan/Grain versprei word, waarin die resultate van die nasionale kultivarevaluasieprogram deur die LNR-KGI gepubliseer is. Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ʼn ongetoetste kultivar aan te plant.

Saadkwaliteit is krities
Goeie kwaliteit saad verbeter die kans op die suksesvolle vestiging van die gewas en ‘n goeie oes. Koringsaad kan volgens kwaliteit in drie kategorieë verdeel word, naamlik:

Gesertifiseerde saad
Dit is hoëkwaliteit saad waarvan belangrike eienskappe soos kiemkragtigheid en suiwerheid teen relatiewe streng norme deur saadmaatskappye gewaarborg word. Indien produsente probleme met gesertifiseerde saad ondervind, kan ‘n saak uitgemaak word wanneer ‘n eis ter sprake kom. Die tipe saad word deur erkende saaden landboumaatskappye verskaf.

Kommersiële saad
Dit is saad van aanvaarbare tot goeie kwaliteit wat aan sekere vereistes van die Plantverbeteringswet voldoen. Die kwaliteitsvereistes is egter nie so streng soos vir gesertifiseerde saad nie. In die geval van ‘n saadprobleem, sal ‘n produsent hom tot die Registrateur van die Plantverbeteringswet kan wend. Die tipe saad word ook deur erkende saadmaatskappye en landboubesighede verskaf.

Teruggehoue saad
Teruggehoue saad is graan wat deur produsente uit die vorige oes teruggehou is om as saad vir die volgende seisoen te dien. Dit is wettig, solank die graan nie as saad verkoop word nie. Produsente loop produksie- en opbergingsrisiko’s indien teruggehoue saad gebruik word. Enkele probleme wat ondervind word, is byvoorbeeld die muf van saad indien dit te klam gestoor word, kalanderskade indien dit nie berook word nie en swak ontkiemingsvermoë indien dit te warm opgeberg is.

‘n Produsent het geen eis of regsgronde ten opsigte van saadkwaliteit (en algemene prestasie van die kultivar) indien teruggehoue saad geplant word nie.

Graan SA beveel dié praktyke nie aan nie.

Indien saad opgeberg word, behoort die saad volgens voorskrifte vir opberging skoongemaak, skoon en suiwer gehou, gedroog en koel en droog opgeberg te word. Beroking moet gedoen word om kalanders en ander graaninsekte te beheer en dit moet beveilig word teen rotte en muise waar dit geberg word. Voor aanplanting moet ontkiemings- en suiwerheidstoetse gedoen word en die saad moet teen saadgedraagde siektes met geregistreerde plaagdoders behandel word.

Publication: March 2017

Section: On farm level